'Om struikelblokke te oorkom is die moeite werd'

akkreditasie
Moeg vir jou werk? Dalk inspireer ouerskap jou tot ’n heel nuwe loopbaanrigting. Ons het gaan hoor hoe 'n vindingryke entrepreneur munt slaan uit kinders en ouers.

Diere-eskapades en ’n pa se droom

Toe Alan Glass vir die eerste keer pa word, het hy niks gehou van die kinderliedjie-CD’s wat wel op Suid-Afrikaanse rakke beskikbaar was nie. “Ek was nie eers lus om saam met my kinders daarna te luister nie,” vertel hy.

Dit het sy kreatiwiteit so bietjie laat loskom, en hy het sy ewe kreatiewe vriend Ed Jordan (van e.tv-faam) “eenvoudig geboelie” om deel te word van die projek. En so is die Beautiful  Creatures/Dierbare Diere-reeks gebore. Beautiful Me, die jongste CD, is al die vierde in die reeks.

Vertel bietjie van die reeks?

Dit het alles begin met Beautiful Creatures, toe het More Beautiful Creatures gevolg en daarna Even More Beautiful Creatures. Maar glo my, ons het ’n blaaskans nodig gehad van diere, en daarom op Beautiful Me besluit. Met hierdie jongste album wil ons kwessies aanspreek wat kinders, en hul ouers, raak. Wat styl betref, bly ons die hele tyd binne die kindermusiek-genre, maar ons gebruik allerhande soorte musiek. Maar ons hou dit beslis Suid-Afrikaans, en doen dit in Afrikaans en Engels.

Hoe gebeur die liedjies?

Van my kant af ontstaan dit maar altyd weens ’n ding wat een van my kinders kwytraak. Ek en Ed, wat saam drama ge-swot het by Wits, het altyd soveel pret as ons die liedjies skryf en sing! My vriend Paul Choritz is al lank in die musiekbedryf, en het ons aangemoedig om die eerste album te voltooi en op te neem. So is die hele reeks gebore, en Paul is ook steeds betrokke.

Struikelblokke?

Net soos met enige nuwe besigheid is daar ’n reuse-leerkurwe. Ons moes handelaars en winkels oortuig om die eerste CD op hul rakke te sit, maar gelukkig is Paul nie ’n verkoopsman wat maklik moed opgee nie. Daar is baie frustrasies, soos om by ’n winkel in te stap en ’n ander produk op jou rak aan te tref. Maar sodra jy al die struikelblokke oorkom het, is alles beslis die moeite werd.

En julle suksesse?

Die eerste album het platinumstatus bereik, die tweede een goue status en die derde een is op pad na goud. Ons kry terugvoer van regoor die wêreld. Uitgeweke Suid-Afrikaners stuur vir ons e-posse om te vertel hoe hul kinders en kleinkinders die musiek geniet. Ons doen ook optredes by skole en funksies, en daar is niks so lekker en bevredigend as om kinders en hul ouers te sien saamsing aan die liedjies wat ons geskryf het nie.

Wat beplan julle vir die toekoms?

’n Nuwe album, weer met die dieretema, vir iewers in 2008. Hierdie keer is dit Beautiful Creatures from the Sea. En ’n verhoogproduksie.

Jou vennoot se sakewenk is om altyd te verseker jy het genoeg voorraad om te-leurstelling te voorkom as mense bestel. Wat is joune?

Wanneer ons ’n nuwe liedjie skryf, toets ons dit op my kinders en op almal se nefies, niggies en maatjies. Jy weet onmiddellik of hulle daarvan hou of nie. Ek dink dieselfde geld vir enige baba- of kinderproduk, tensy dit natuurlik iets is vir heel kleintjies.

Besoek www.beautifulcreatures.co.za.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees