V&A: "Ons baklei voor die kinders"

akkreditasie
Ek en my man het nog altyd ’n vurige verhouding gehad en ons baklei dikwels voor die kinders. Hulle is 4 en 2 jaar en 6 maande oud. Ek is dikwels bekommerd oor die uitwerking van ons bakleiery op hulle.

Sheryl Cohen (Opvoedkundige sielkundige) antwoord:

Dis normaal dat ’n paartjie verskillende menings, gevoelens en verwagtinge oor dinge het, maar dis belangrik om ’n opbouende manier te vind om vreedsaam en respekvol oor die verskille te onderhandel. Wanneer dit vurig en skadelik word, gaan die bakleiery sy tol van die paartjie en die gesin eis. Jul kinders gaan leer dat verskille nie verdra word nie en dat konflik tot ’n geskreeu en gekrenkte gevoelens lei. Dit gaan hulle nie die nodige lewensvaardighede gee om verskille en diversiteit te hanteer nie. Hulle kan ook dink dis soos dinge werk en die konflik dan na hul eie vriendskappe oordra.

Daarby is jul kinders van julle afhanklik om veilig te voel. As jy of jou maat beheer verloor, gaan jou kinders nie veilig by julle voel nie.

Hier is ’n paar voorstelle:

  • Hanteer konflik met respek. Jy en jou maat voel dalk dat julle dadelik wil reageer, maar probeer om die proses te verlangsaam. Sê vir jou maat wat hy gesê het is baie belangrik, en jy sal daarop reageer as jy eers daaroor nagedink het. Dit sorg vir ’n alternatiewe manier om konflik te hanteer.
  • Almal het kwaai gevoelens. Dis nie sleg nie; dit help ons soms om ’n beter begrip van onsself te kry en van wat ons sal doen en wat nie. Maar dis nie positief om op kwaai gevoelens te reageer nie. Dink na oor wat jy kan doen as jy kwaad is (fisieke oefening kan dalk help). Bespreek dit dan met jou twee ouer kinders.
  • Leer jou kinders oor “verskille” en “eendersheid”. Soms is ons eenders en soms is ons verskillend. Dis die lewensvaardigheid wat geleer word. As Ma en Pa nie saamstem nie, is dit dus goed so.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees