In Engels word dit ’n “push present” genoem. Dis nou die geskenkie wat Ma by Pa kry ná die geboorte van hul nuweling. Wat sal mens dit in Afrikaans noem? ’n Pappa Pasella, ’n geboorte-geskenk of dalk Mamma Moola? Maak nie saak wat jy dit noem nie, daar is ma’s wat sommer lekker bederf word wanneer ’n nuwe kleinding gebore word.

Die geskiedenis van hierdie geskenke kom uit Engeland en Indië, maar het in die vroeë 90’s oorgewaai na Amerika en toe die res van die wêreld. ‘n Juwelierswinkel in Amerika het in 2005 ‘n advertensie geplaas met ‘n foto van ‘n paar diamantoorkrabbe met die woorde: “She delivered your first born, now give her twins” daarby.

In Hollywood is dit ook nie anders nie. Nicole Kidman het in Julie ma geword van ‘n dogtertjie - Sunday Rose Kidman Urban - en pa Keith Urban het nie op hom laat wag nie en vir sy mooi vrou ‘n Cartier Trinity ring ter waarde van R584 000 gegee.

Jennifer Lopez se man, Marc Anthony, het selfs nóg meer spandeer. Hy het vir vroulief Jennifer Lopez ‘n 8-karaat diamantring van R2,4 miljoen gegee om hul tweeling se geboorte te vier. Toe Katie Holmes en Tom Cruise se dogtertjie Suri gebore is, is Katie met pienk-en-wit diamantoorringe bederf. Plaaslike staan die manne nie terug nie,maar moenie dink dié spesiale geskenk moet baie geld kos nie.

Alta Joubert, sangeres en ma van Annabelle (3) en Lielamarie (1)

“Ek het vir my man, Daneel, gesê ek wil nie diamante of juwele hê nie, maar hom maak belowe dat hy vir my duur ontwerpers-jeans sal koop wanneer ek weer op my voorgeboorte-gewig is. Dit het ongelukkig nog nie gebeur nie, maar ek gaan hom dit nie laat vergeet nie!”

Denver Vraagom, akteur, getroud met Ingrid Paulus

(Vanessa van 7de Laan) en pa van Skye (4)

“Ek het vir Ingrid spesiale pajamas, ‘n kamerjas en pantoffels gegee. Ook ‘n vrugtemandjie met teddiebere in. Ek was daardie dag so opgewonde en het nie eens by die geboorte flou geval nie. Dalk was dit geskenk genoeg.”

Lochner de Kock, akteur, sjef en sanger en pa van Cara (23)

“Ons was maar arm toe Cara gebore is. Die dag wat Christine met haar huis toe gekom het, het ek my half doodgekook. Ek het ook gesorg dat die wasgoed gedoen is en dat die huis netjies was. Ek was die huisvrou van die huis! Dit is dalk nie iets wat geld kan koop nie, maar dit het vir haar baie beteken.”

Jackie en Vera Nagtegaal, uitgewers by Genugtig! en ouers van Dirk (9 maande)

Jackie het vir Vera ‘n armband laat maak deur dieselfde ontwerper wat hul trouringe ontwerp het. Die ontwerper gebruik ‘n tegniek waarmee sy silwer en brons meng en dit dan patrone vorm. Die armband het skakels en daar is agt diamante wat daarvan hang. “Dis gorgeous!,” sê Vera. Sy het ook vir Jackie ‘n geskenk gegee. “Sy het my so wonderlik ondersteun en dis mos nie net ek wat ma geword het nie!” Die bederf was ‘n baie lank string pêrels.

Marinda Engelbrecht, teater-regisseur en restauranteienaar en ma van Sarietha (23) en PG (21)

“My man, Johan, het met Sarietha se geboorte vir my ‘n Russiese trouring in drie kleure goud gegee. Hy het gesê ons was eers twee, maar dat ons nou drie is en vir altyd deel van mekaar sal wees. Toe my seun PG gebore is, het Johan weer vir my ‘n ring in drie kleure goud gegee. As die kinders eendag trou, gaan ek dit vir hulle gee en hopelik sal dit familie-erfstukke raak.”

Pierre Griffioen, voormalige Mnr. SA-finalis, eienaar van ’n klankmaatskappy en pa van Henke wat in Februarie gebore is

“My vrou, Esmie, het toe sy swanger was al gesê sy sal graag ‘n geskenk wil hê. My ma het ook aangedring dat ek iets vir Esmie koop. Esmie wou ‘n eternity-armand hê en ek het een gaan koop, maar dit was toe nie die een wat sy wou gehad het nie. (Ek het intussen geleer dat ‘n vrou maar liefs haar eie juwele moet kies.) Ons is toe na Jenna Clifford waar Esmie haar armband gekry het. Die ander armband is omgeruil vir oorringe. Maar ek moet bieg: Toe ek gesien het wat ‘n vrou alles deurgaan – nie net met die geboorte nie, maar ook daarna – het ek gedink alle ma’s verdien ‘n groot geskenk!”

Ruth Emslie, finansiële bestuurder en ma van Jemma (2)

“My man, Parkin, het vir my ‘n silwer ring met vyf diamantjies gegee toe Jemma gebore is. Hy het dit uit sy eie gedoen en self gekies. Dit pas perfek en ek is mal daaroor! Ek het regtig die beste man wat nog ooit op hierdie aardbol geloop het.”

Johan Vorster, liedjieskrywer, lid van Eden en pa van Joshua wat op 9 Junie gebore is
“Ek het vir Rencha grimering wat sy graag wou gehad het bestel en sy het dit gekry toe Joshua vyf weke oud was. Om pa te word is so ‘n groot seëning – ons kan nie ophou kyk vir hom nie.”

Theart Korsten, TV-vervaardiger en pa van Alexander (11), Nicholas (7) en Christiaan (4)

“Ek met die geboorte van ons eerste seun vir my vrou, Mardia, ‘n goue armband gegee. Met Nicholas se geboorte het ek vir haar ‘n goue ketting gegee en vir Christiaan se geboorte het ek vir haar oorkrabbetjies laat maak wat pas by ‘n ring wat ek vir haar laat maak het met haar veertigste verjaardag. Ek het self besluit ek wil haar bederf en dit was alles verrassings vir haar. Die kinders praat nou al van hul “erf-stukke” en wanneer sy dit dra, sal hulle sê dit is wat pappa vir mamma gegee het toe ek gebore is.”