Q&A: Nog 'n kind?

akkreditasie
Is ek reg vir nog ’n kind? Ek is die baie trotse ma van ’n vyfjarige seun en ’n pragtige dogter van 15 maande. Ek en my man oorweeg nog ’n kind, maar ek weet nie of ek emosioneel gereed is nie. Hoe toets ek myself? Ek wil nie eendag terugkyk en spyt wees dat ek nie nog ’n kind gehad het nie.

Is ’n mens ooit gereed om ’n kind te hê? Iemand het eenkeer gesê ’n vrou voel altyd asof sy een kind te min gehad het...

Ek stel voor dat julle alle aspekte van die besluit logies oorweeg en dan na jul hart luister. Die invloed van nog ’n mensie in jul huishouding kan nie onderskat word nie. As ouer weet jy self hoe lief ’n mens jou kind kan hê en dat dit ’n lewenslange verbintenis is.

Oorweeg gerus die volgende:

? Jul verhouding. ’n Mens moet nooit ’n kind kry om ’n wankelrige verhouding te probeer red nie. Hoe lief ’n mens jou kind ook het, sy fisieke en emosionele invloed kan sy tol van ’n huwelik eis. Maak seker julle albei wil nog ’n kind hê, anders ontstaan daar dalk ’n wreweligheid wat jul huwelik kan skaad.

? Geldsake. Beplan goed sodat julle genoeg geld beskikbaar het – nie net vir baba se versorging nie, maar ook in die toekoms wanneer hy of sy skool en universiteit toe moet gaan. Besin verder oor of dit ’n invloed sal hê op een of albei ouers se loopbaan.

? Tyd. Hoewel sussies en boeties help grootmaak en insette kan lewer, sal daar beslis meer tyd van julle as ouers geverg word. Dit beteken gewoonlik minder tyd vir jul ander kinders, julleself en vir mekaar, ten minste aanvanklik.

? Jou gesondheid en jul energievlak. Hoe het die vorige swangerskappe verloop?

? Die temperament van die twee kinders wat julle reeds het, en die eise wat hulle stel.

? Ondersteuningsnetwerke tot jul beskikking.

? Die hoeveelheid plek in jul huis.

Vra jou af: Hoekom oorweeg julle nog ’n babatjie?
’n Derde enetjie sal die gesinsdinamika verander. Kinders wat grootword met boeties en sussies leer gewoonlik om aandag en speelgoed te deel, maar baklei ook meer. Elke kind bring ’n unieke persoonlikheid na die gesin wat speeltye en maaltye vir altyd sal verander.

’n Mens het altyd plek in jou hart vir nog ’n kind. Op ’n manier vind jy dat jy die derde, vierde, vyfde kind net so lief het as al die ander, maar elkeen op sy eie manier.

Sterkte met die besluit!

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees