Steel ’n stokkiesdraai-dag

akkreditasie
Wanneer laas het jy en jou snuiter stokkies gedraai van skool en werk en ’n dag afgevat waarin julle net dinge gedoen het wat vir julle lekker is? As jou antwoord meer as ses maande gelede is, is hierdie artikel vir julle geskryf. Soms moet ’n mens tyd op ’n ander plek gaps om net weer te onthou waaroor die lewe gaan. Hier is ’n paar idees vir hoe julle jul stokkiesdraaidag kan deurbring. Onthou, die wagwoord is pret ...

Op ’n stokkiesdraai-dag is alles toelaatbaar, selfs televisie in die dag en meer suiker as gewoonlik.

08:00

Op ’n doodgewone werk- en skooldag sou julle teen dié tyd van die oggend waarskynlik al opgestaan het, aangetrek gewees het, die verkeer aangedurf het en binnekort met jul dagtaak begin het.

Sorg dat julle op hierdie dag agtuur nog in die kooi lê en maak ’n punt daarvan om met jou kind te gesels, sommer oor ditjies en datjies. Julle kan saam boek lees of selfs ’n ordentlike kussinggeveg hou. Vra hom later om saam met jou die bed op te maak. Skud die lakens lekker uit en maak hom deel van die hele proses.

09:00

Maak saam ontbyt – hy sal gek daaroor wees om eiers te klits vir roereier of om selfs die brood in en uit die broodrooster te haal. Druk vars lemoensap uit en maak ’n pot rooibostee. As die weer dit toelaat, kan julle ontbyt in ’n lekker hoekie in die tuin eet. Dek ’n vrolike tafeltjie met mooi eetgerei en sit selfs ’n bossie vars blomme daarop – jy sal weet hoeveel lekkerder kos is as dit mooi voorgesit word.

10:30

Laat hom self kies wat julle nou gaan doen ... enigiets van inkleur, verf, koekies bak en blokkies bou tot om met spesifieke speelgoed te speel. Sit vir julle lekker musiek op die CD-speler.

11:30

Op ’n stokkiesdraai-dag is alles toelaatbaar, selfs televisie in die dag en meer suiker as gewoonlik. Wanneer laas het julle saam na sy kleintyd-tuisvideo’s gekyk? Selfs ’n DVD oor die natuur of Animal Planet op DStv kan vir lekker kykgenot sorg. Skiet saam tuisgemaakte springmielies en kry iets lekker om op TV te kyk. Onthou, jy mag nie skelm wees en vinnig wegglip om jou e-pos te gaan lees of ’n paar sake-oproepe doen nie.

12:45

Wat van middagete by ’n koffiewinkel, die Wimpy of selfs McDonald’s? Laat hom self kies wat hy wil eet. Die meeste van hierdie restaurante het spesiale spyskaarte vir kinders en gee gewoonlik ’n speelding ook present. En knyp maar jou oë toe as hy ’n tweede melkskommel wil hê!

14:00

Gaan stap ’n entjie in jul naaste park, botaniese tuin of op die strand. Neem ’n paar boeke saam en lees dit onder ’n koelteboom.

15:30

Bring saam tyd in die tuin deur. Laat hom self die blomme natspuit of plant saam ’n klomp kappertjiesaadjies in ’n pot of ’n bedding (dit is meerjarig en kan regdeur die jaar geplant word en is boonop lekker gehard.)

17:00

Tyd om aandete te maak vir die hardwerkendes in die gesin. Laat hom help slaai maak deur die blare in stukkies te breek, die fetakaas in blokkies te breek of selfs die komkommer in skyfies te sny. Die waaghalsige stokkiesdraaiers kan selfs solank ’n braaivleisvuurtjie pak om vir Pappa met ’n braai te verras wanneer hy tuis kom.

Maak saam jellie vir nagereg en laat boeta die roerwerk doen. Dek weer ’n mooi tafel – dié keer kan ’n paar kerse en mooi servette vir ’n lekker atmosfeer sorg.

18:00

Wat ’n lekker dag! Sorg dat kleinding sy pappa vertel wat julle alles op hierdie dag gedoen het – dit oefen sommer sy geheue.

Onthou, alles wat hierbo genoem is, is net riglyne en idees. Op ’n stokkiesdraaidag is julle veronderstel om net goed te doen wat vir julle lekker is.

Hier is nog ’n paar idees:

  • Gaan eet ’n draairoomys in ’n park.
  • Stap saam deur jul woonbuurt en kyk na die mense se tuine en kwaai honde.
  • Dalk is die lughawe nie so ver van julle huis af nie. Die O.R. Tambo Internasionale Lughawe en die Rand Airport in Gauteng het byvoorbeeld spesiale uitkykpunte waar ’n mens die vliegtuie van nader kan bekyk en dit selfs kan sien opstyg. Dieselfde geld ’n hawe. Jou kind is dalk gek oor motorfietse, motorbote of vinnige sportmotors. En so ’n uitstappie gaan byna niks kos nie. Hou die besoeke kort en moenie ongeduldig raak as hy vinnig moeg en verveeld raak nie.
  • Fliek toe. Vir party kinders is ’n fliek in ’n regte teater ’n baie groot bederf, veral as dit ’n animasieprent is.
  • Ysskaats – dalk is daar ’n ysskaatsbaan naby julle ...
  • Swem saam.
  • As hy mal is oor sport soos rugby, kan jy hom dalk na die naaste klub vat waar mense oefen.
  • Gaan saam dieretuin, diereplasies of botaniese tuine toe.
  • Baie biblioteke het storietyd waar hulle vir kinders stories voorlees. As julle dit misloop, kan julle sommer net vir ’n uur of twee in die biblioteek gaan sit en ’n paar nuwe boekies lees.
  • Onderneem ’n treinrit.
  • Besoek die plaaslike museum, akwarium of planetarium.
  • Besoek ’n ateljee waar jy jou eie kleiwerk kan maak, of ’n kersfabriek, ’n seepfabriek of ’n plek waar julle krale kan ryg.
Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees