Stop die oorlog!

akkreditasie
As jou kroos baklei, kan jy begin wens jy het 'n knoppie om hulle af te skakel. Maar wanneer ruk dit handuit, en wanneer moet jy inmeng? Hier is praktiese raad.

Gee jou kinders 'n model of voorbeeld

Beoefen self empatie eerder as dat jy gedurig oordeel of baklei. Dis so maklik soos om te sê: “Ek hoor twee kinders wat ontsteld is” eerder as “Wie baklei nou al weer so?” Vra elke kind om sy kant van die saak te stel. Kaats dit vir jou kind terug. Dring daarop aan dat hulle mekaar nie onderbreek nie.

Stel dan voor hoe hulle uit die konflik kan beweeg. Jy hoef dit nie elke keer te doen as hulle stry nie – dis eenvoudig te tydrowend en jy wil ook nie jouself in die rol van ewige bemiddelaar sit nie. Jy wil bloot vir hulle ’n model gee wat wys hoe hulle self by vrede kan uitkom.

Gee hulle vaardighede

Kinders leer deur waarneming, maar ook deur direkte opleiding en hul eie ervarings van konflik-oplossingstrategieë wat hulle elders gesien het of van gehoor het en dan uittoets. Hulle het wel basiese beginnersgereedskap nodig. Dit kan jy vir hulle gee deur vir hulle sekere basiese konflikhanteringsvaardighede te help aanleer, byvoorbeeld hoe om beurte te maak, om eers te vra sonder om te gryp, en dat hulle kan onderhandel om ’n oplossing te vind.

Stel grense

Lê basiese reëls neer soos dat hulle nie mag slaan nie. Terwyl jou kinders in jou huis is, is dit jou reg om reëls neer te lê, en daarop aan te dring dat hulle daarby hou. Jy het die reg tot ’n goeie gehalte lewe in jou huis. Dit is egter belangrik dat jy self ook by hierdie basiese reëls hou.

Herhaal die reëls

Geen ma wil heeltyd polisieman speel tussen die kinders nie. Dit is altyd moeilik om te weet wie se kant om te kies, en as jy met die een raas, kan jy maar weet hy gaan voel dit is onregverdig, al het jy jou bes probeer om regverdig op te tree. Jy kan wel aanhou om die basiese reëls oor en oor te beklemtoon: ‘Ons mag nie slaan nie.” of “Ons skel mekaar nie uit nie”.

Kies jou oorloë

Sommige ouers redeneer hulle maak ’n argument te belangrik as hulle aandag daaraan skenk en dit foeter dan die hele atmosfeer in die huis op. Gebruik jou oordeel om te besluit by watter argumente jy moet ingryp.

Jy kan met veiligheid ’n argument oor wie se stuk koek die grootste of lekkerste is, ignoreer – anders kan jy heeldag vasgevang raak in sinnelose argumente. Jy is die volwassene en jy kan kies om nie betrokke te raak nie.

Wees regverdig

Regverdigheid is vir kinders ongelooflik belangrik, en as ouer moet jy daarteen waak om een voor te trek. Dit beteken nie jy moet al jou kinders identies hanteer nie. Hulle het immers unieke persoonlikhede, behoeftes en is verskillende ouderdomme.

Stel dit vir jou kinders duidelik dat jy hulle sal hanteer soos die omstandighede en hul behoeftes vereis. Vandag kry een kind dalk meer aandag omdat hy dit nodig het, môre is dit weer ’n ander se beurt.

Verras hulle

Soms baklei kinders om hul ouers naby hulle en betrokke te hou – probeer om hulle jou aandag en teenwoordigheid te gee, maar nie jou betrokkenheid by argumente nie. Verras hulle liewer deur hul aandag met iets prettigs en onverwags af te lei, soos: “Het ek nou net die roomyskarretjie se klokkie gehoor? Wie soek een?” Dit sal die geveg maklik stopsit.

Uiteindelik bly dit belangrik om te onthou dat ’n sekere hoeveelheid sibbekonflik heeltemal normaal en toepaslik is – en selfs gesond, sê Jade. “As ’n bekendstelling aan ’n sosiale lewe, bied sibbe-verhoudings jou kinders ’n waardevolle geleentheid om te leer hoe om negatiewe gevoelens teenoor mense vir wie jy omgee, te hanteer. Moenie onnodig angstig of oorbetrokke raak daarby nie.”

 

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees