Sussies baklei

akkreditasie
My dogters is 5 en 3. Nou 4 maande swanger. Soek asseblief raad vir sibling rivalry tussen hulle. Oudste is baie erg. En raad vir aanpassing met nuwe baba. My jongste vat dit klaar moeilik.

Kindersielkundige Naomi van Wyk antwoord:

 
Party sibbe kom wonderbaarlik goed met mekaar oor die weg. Ander stry en baklei die heeltyd. Kinders, vir wie deel glad nie natuurlik kom nie, vind dit soms moeilik om direkte kompitisie elke dag onder die selfde dak te hê. Soms is dit bloot ‘n verskil in persoonlikheid wat maak dat twee kinders sukkel om saam te speel. Dit maak ongelukkig ‘n ma se werk baie harder.
 
Ek is seker jy het al self baie dinge probeer om jou dogters te helpl; hier is nog ‘n paar wat jy dalk kan probeer.

Die eerste is om nie van hulle te verwag om altyd met mekaar te speel nie. Indien dit moontlik is in julle huis, skep vir elkeen ‘n plekkie waar sy kan heen gaan as sy alleen wil speel (byvoorbeeld in haar eie kamer, of ‘n hoekie iewers in die huis). Dit skep ten minste een plekkie waar sy nie hoef te deel nie en kan gaan as haar sussie haar gek maak.

Kleuters is dikwels fanaties oor regverdigheid, so maak seker dieselfde reëls en voorregte geld vir albei.

Kyk of jy tyd kan maak wat jy individueel met jou meisies kan spandeer. Soms help dit hulle om te kan wag vir jou aandag as hulle weet dit kom op ‘n voorspelbare tyd. Hierdie alleentyd hoef nie baie lank te wees nie (soms is ‘n halfuur genoeg).
 
Nog iets wat soms verbasend goed werk is om vir almal te begin vertel hoe goed jou dogters saam speel – binne hoor afstand van die meisies. Prys jou oudste veral in hoe goed sy met haar sussie werk. Hierdie tweedehandse prys, selfs al is dit nog nie waar nie, inspireer soms ‘n kind om nuwe gedrag te probeer – aangesien mamma dan so baie daarvan hou.

Probeer ook in gesprek met jou meisies daarop aandag te fokus wanneer hulle dit regkry om nie met mekaar te kompeteer nie.

Empatie met jou oudste kan ook help. As sy sukkel om met haar sussie reg te kom, kan jy met haar simpatiseer en byvoorbeeld sê: "Klein sussies kan harde werk wees, ek is so bly jy is my oudste kind en dat jy so geduldig met haar is." Dit gee aan haar unieke status as jou "oudste".

Vertel ook vir hulle stories waar sussies saamwerk en goed klaarkom. Maak sommer jou eie avonture op met jou meisies as die hoofkarakters, waar die twee saam almal oorwin.
 
Hierdie selfde tegnieke help ook in voorbereiding op die baba se koms. Berei hulle voor op hoe hulpeloos en afhanklik ‘n klein baba is, en hoe baie dinge hulle twee al kan doen wat die baba nie kan nie. Dit gee hulle status as jou "groot kinders".

Vir party kinders kan ‘n eie pop, vir wie sy ma kan speel, hier baie waardevol wees. Ek onthou nog hoe my dogter (toe 2) haar pop geborsvoed het terwyl ek haar baba boetie gehelp het – sy was altyd baie trots daarop dat haar "baba" baie soeter as myne was.

Praat ook oor die swangerskap en verseker hulle dat jy veilig is – kinders het soms vrese dat mamma se maag gaan bars of dat die baba haar gaan seermaak.

Jaloesie met die geboorte van ‘n nuwe baba is baie algemeen en normaal, onthou dat jou kleuters jou aandag ná die geboorte meer nodig het as die nuwe baba. Probeer om hulle roetine en lewens so na as moontlik te hou aan wat dit was voor die geboorte. Baie sterte!

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees