Twee enkelma's praat

akkreditasie
Dis nie net swaarkry om 'n enkelma te wees nie. Hier vertel 2 ma's van die vreugdes en hoogtepunte.

Ilse Roggeband vertel:

Hy lê snoesig onder sy Bob the Builder-duvet. Die gebedjie is gesê en die nagliggie is aan. Hy steek sy arms uit, gee my ’n drukkie en fluister in my oor: “Ek het jou lief.”

Aand ná aand en dag ná dag raak my hart net sagter vir hierdie seuntjie van my. Hoe anders sou my lewe sonder hom gewees het!

Ek was 39 toe ek uitgevind het ek is swanger. Toe die pa eers oor die ergste skok kom, het ons besluit om hierdie groot gebeurtenis saam aan te pak. Hy was by met die geboorte, saam by die doopvont en is betrokke by alles in sy seun se lewe.

Saam het ons ook besluit trou is nie ’n opsie nie. Ek is dus ’n enkelma met ’n betrokke pa. Die vreugde wat ons seun, Zac, ons gee, kan nie in woorde omskryf word nie. Wanneer ek egter artikels oor enkelouers lees, word daar so baie oor die negatiewe sy geskryf. Jy gaan alleen wees, dit is ’n finansiële las, jou lewe gaan nooit weer dieselfde wees nie ... Maar dit is nie noodwendig so nie. Ek weet dit is nie vir my nie.

Tye het baie verander. Terwyl die trousyfer jaar ná jaar daal, styg die egskeidingsyfer. Daar is toenemend vroue wat tevrede is om nooit te trou nie. Maar hulle wil tog ’n kind van hul eie hê en daarom kyk al meer vroue na enkelouerskap as ’n opsie.

Daar is natuurlik verskillende maniere om dit te doen: aanneming, die spermbank-opsie, die “gewillige donateur”-opsie (wanneer ’n man self graag pa wil word maar nie noodwendig wil trou nie), of die oeps!-opsie. Die oeps is natuurlik wanneer jy onbeplan swanger raak, nie wil trou nie, maar steeds besluit om die baba te hou.

Hoe jy dit ook al aanpak en watter pad die lewe ook al met jou loop, een ding is seker: Enkelouerskap kan die grootste vreugde in jou lewe wees.

‘Dis die beste ding wat met my kon gebeur het’

Petro Mostert, ’n kleinhandel-bemarkingsbestuurder by Media24: Gesinstydskrifte in Kaapstad, was 39 toe sy uitgevind het sy is swanger. Sy was geskok en ’n bietjie bang, maar het besluit haar swangerskap het met ’n doel gebeur.

“Ek en die pa van my seun, Stef, ken mekaar al 7 jaar lank. Ons het een aand gaan fliek, na sy woonstel gegaan om koffie te drink en ja, ’n paar weke later het ek uitgevind ek is swanger. “Iemand het eendag gesê babas kies hul ouers. Ek het gevoel dit sou nie op hierdie tyd in my lewe gebeur het as dit nie bedoel was nie. Ek is baie gelowig en het dit glad nie oorweeg om nie die kind te hou nie.”
Haar familie en vriende se reaksie op haar swangerskap was wonderlik.

“Ek is die jongste van ses kinders en het vier broers. My ma is dood toe ek elf was en my pa so ses jaar gelede. My broers en suster het my as ’t ware grootgemaak en was in ekstase toe hulle hoor ek is swanger. “Met Stef se doop op Kersdag het my broers en suster saam met my voor die preekstoel gestaan. My tweede oudste broer, Isak, kan nie langer as ’n week weg wees van Stef nie en het my ook gehelp om ’n huis te koop.”

Artikels oor enkelouerskap is dikwels so swaarmoedig. Daar word meestal op die probleme gehaper: eensaamheid, geldlaste, uitputting en kinders wat sleg uitdraai.

Dis waarom Baba & Kleuter se joernalis besluit het om vir ’n slag ’n positiewe artikel te skryf – want sy en haar vriendekring van enkelouers het agtergekom daar is niks meer vervullend as om ’n kind op jou eie groot te maak nie. Hier deel hulle hul vreugdes, en die enkelouer-lesse wat hulle al geleer het.

Met Stef se geboorte het ’n goeie vriendin, Dianne Robinson, haar bygestaan.

“Sy het my ingeneem hospitaal toe en seker gemaak ek het alles wat ek nodig het. Die oggend van die keisersnee was sy vroeg daar en het die foto’s geneem. Sy het my hand vasgehou en saamgehuil toe daardie pienk boudjies uitpop. Skaars twee uur nadat ek en Stef uit die teater was, het sy ’n foto-album van die geboorte gebring. Waar kry jy so ’n georganiseerde pa?”

Hoewel Stef nie kontak met sy pa het nie, is Petro reg met ’n antwoord wanneer hy eendag gaan vra. “Ek sal sê sy pa is ’n wonderlike man, want die vriend wat ek geken het, wás wonderlik. Snaaks genoeg was Stef se eerste woord bou en sy tweede woord dam. Dalk word hy nog eendag ’n ingenieur soos sy pa.”

Daar is tog tye wanneer Petro ’n man of pa in haar en Stef se lewe mis. “Ek mis iemand wanneer Stef gaan slaap en die stilte my in ’n hoek vasdruk, of wanneer hy iets vir die eerste keer doen en ek dit met iemand wil deel. Ook wanneer hy verjaar of ’n Vadersdagkaartjie van die skool bring. En wanneer Stef voor die toilet staan – ek weet nie wat om met daardie dingetjie te maak nie!”

Petro het nou vir die eerste keer in haar lewe ’n begroting waarby sy hou. “Ek kyk na my bankstate en kyk waar ek kan spaar. Ek beplan selfs spyskaarte.”

En die grootste vreugde?

“Wanneer hy in die oggend langs my wakker word, gee hy my sy voete om te soen, dan sy hande en dan sy mondjie. Wat is lekkerder as dit? Ons lag baie in ons huis. Ek kry baie plesier uit sy ontdekkingsreise. Stef is die beste ding wat met my kon gebeur het!”

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees