Vir mammas: Nou begin pappa se swangerskap!

akkreditasie

Laat ek begin deur te sê dat ek nog altyd kinders wou hê.  Vandat ek kan onthou was dit in my toekomsbeplanning en gevolglik het ek nog altyd gedink vaderskap sou maklik en natuurlik na my toe kom.

My eerste kind het natuurlik gekom.  Vaderskap nié.

Vrouens, en spesifiek, vrouens wat pas hul eerste kind gehad het, luister: julle is nege maande swanger waartydens julle liggame julle fisies en emosioneel voorberei op die koms van die kleinding. Biologies is dit wonderlik dat julle – al hou julle nie noodwendig daarvan nie – feitlik oombliklik vrede gemaak het met die kort en onderbroke slaap. Teen die tyd van bevalling het julle (dikwels gedwonge danksy die swangerskap) julle leefstyle aangepas: niks meer rooiwyn saam met ete; of laat aande by vriende kuier nie. Mans het nie.

Ek kon nog nooit verstaan hoekom mense in die meervoudige voornaamwoorde na ‘n paartjie as swanger verwys nie.  “Tharina en Matthys” was nooit swanger nie; slegs Tharina was. Vrouens beleef iets wonderliks – dog dikwels uiters traumaties en ongerieflik – met swangerskap en bevalling, en geen man het die reg om hierdie tikkie glorie hulle te ontneem nie.  Bygesê, ons kan in elk geval nie die kraam oorneem nie, so gun vrouens wat hulle toekom.

 Nietemin, my vrou was swanger en toe het ons ‘n kind gekry: ‘n pragtige, gesonde babadogtertjie wat op 37 weke reeds 30.1 kg geweeg het.  En toe tref dit my...  Die kraamproses was die begin van my nege maande; van wat ek deesdae (as ek en my vrou praat oor die afgelope twee jaar) na verwys as “my swangerskap”.  En dit was nie ‘n fisies proses nie, maar ‘n progressiewe groei en liefword vir die baba wat my  vrou van Dag Een af so maklik kon regkry.

 Die Eerste trimester

Soos met vrouens is die eerste trimester krities vir ‘n Pa.  Ons leer iets wat nie natuurlik kom nie: in die natuur is die manlike geslag in feitlik al die spesies een of beide van twee goed: spermskenker en/of voorsiener.  Nié versorger nie. Ons moet leer versorg, maar belangriker, ons moet leer om te wil versorg.

Die emosionele bindingsproses tussen Pa en Baba word in die eerste paar maande gekniehalter deur die ongerief van herhaaldelik snags opstaan, min slaap en afstand doen van die buitemuurse aktiwiteite en sosiale gebeurtenisse wat so ‘n groot deel van Pa en Ma se lewe voor Baba se koms was. En ons verkwalik soms (sonder ‘n haatgevoel, maar meer uit moedeloosheid) ons Baba hiervoor. Op hierdie stadium is Ma nog op kraamverlof, so ons voel ingedoen omdat ons steeds agt tot vyf moet werk terwyl hulle tuis is, maar besef nie dat kraamverlof alles behálwe vakansie is nie.

Hier teen die einde van maand drie was my persoonlike maak-of-breek. Genadiglik het ek ‘n vrou wat nie geglo het sy alleen is goed genoeg vir ons kind nie, en dit was my ommeswaai. Ongelukkig sien mens dikwels hoe vrouens later kla oor hoe min die pa doen en hoe onbetrokke hy by die kind is. Ek sou ook so gewees het as ek heeltyd moes hoor “hou haar so vas”, “ek sal haar voer”, “sy gaan huil as jy haar optel” en al die ander bla-bla’s.

Wenk aan vrouens vir hierdie eerste “trimester”: doen als wat julle denkbaar kán om nie julle mans bang te maak vir julle kind nie.  Hits hom aan om die baba te hanteer, te voer, skoon te maak, te bad en om met die baba te speel. Onthou dat ons as mans nou eers begín leer en dat ons nie moederlike instinkte het nie. Wenk aan mans vir hierdie eerste “trimester”: wees vasberade om te help met die baba, al is dit dikwels moeilik na ‘n lang dag by die werk.  Wees goed vir jou vrou, maar maak dit baie duidelik dat jy heeltemal betrokke by jou kind wil wees.  Onthou, tye het verander en soos vrouens nou ook ‘n loopbaan wil nastreef moet jy wys dat jy ook deel van die huishouding moet wees.

Die Tweede Trimester

In my geval – dankie tog! – het maand vier begin met ‘n heeltemal ander opinie oor my kind. Tot nou toe was sy die baba; nou was sy mý baba en vir die eerste keer het ek werklik haar naam oor en oor herhaal om dit met haar te begin assosiëer.  Haar gesiggie het soos sý begin lyk; haar ogies het my sweerlik herken en haar handjies wou net my vinger vashou.  Hier eers het “om ‘n kind te hê” verander in “om ‘n pa te wees.”

Kyk, dis nie aldag maklik nie, veral as jy steeds moet werk met die onderbroke slaap, maar skielik word dit die moeite werd.  Jy ontwikkel nou ‘n natuurlike gemak met die baba en verloor jou vrees dat hulle gaan seerkry of huil as jy naby hulle kom.  En as hulle seerkry of huil weet jy wat om daaromtrent te doen.

Maar dis nog nie maanskyn en rose nie: nou sit jy met inentings wat hulle vir dae aaneen siek laat voel; hulle begin vastestowwe probeer; hulle raak geweldig geïrriteerd omdat hulle nie kan beweeg nie; hulle slaap minder. 

Nes jy gemaklik is met jou pap baba, verander hulle in iets wat nie meer slegs versorging nodig het nie, maar meer: nou nodig die baba konstruktiewe, toegewyde aandag.  Jy is nie altyd lus om pop-pop te speel nie; as man was jy waarskynlik nooit nie. Snaakse geluidjies maak, “waar’s hy – daar’s hy” en obskure gesigte is nie noodwendig vir jou nie. Wenk vir almal vir die tweede trimester: druk deur – dit word net beter.

Die Derde Trimester

Soos wat jou kind begin sit en probeer kruip, so groei jy saam met hom of haar.  Waar baie dinge van die eerste paar maande baie gou vergeet word, onthou mens dinge van so ses maande af.  Die eerste nuwe geluide, glimlagte, regop sit, goedjies vashou en gryp...  Hierdie aksies is vir ‘n Pa groot.

Maar nou – met Ma baie waarskynlik terug by die werk – raak tuiskoms ‘n opgehoopte oorstimulasie vir die ouers. En dit smeer baie maklik af op Baba, wat die hele sleg-slaap en buierigheid in Baba kan terugbring.  Mens voel nou hartseer om hulle nie heeldag te sien nie, en mens voel spyt dat jy groot mylpaaloomblikke gemis het – iemand anders is nou die eerste om jou kind se nuwe gewoontes en aksies te sien.  Dis nie meer jy nie.

Desnieteenstaande, jou kind ken jou nou; hy of sy weet wie Mamma is, en dieselfde geld vir Pappa.  “Pappa” sê en begin jou kies bo ander mense. Dit is ‘n ongelooflike gevoel as jou kind die eerste keer vir Mamma wegstoot om na jou toe te kom. Jammer Mammas, maar hierdie is die ekwivalent van julle 4-D scan – dis waar ons ons kind sien en wéét dat niks ooit weer dieselfde gaan wees nie...  en hierdie laaste stelling word net positief bedoel.

Hier hardloop ek uit wenke uit, want dis nie meer nodig nie.  Die “moet” is vervang met “wil”, en van hier af – die negemaande “swangerskap” – is jy waar die ma nege maande gelede al was.  Hiervandaan, vir my, was my kind die grootste geskenk denkbaar en het ek soveel meer waardering vir my vrou.

Ek hoop hierdie ondervinding kan iewers ‘n Pa help om harder te probeer en te wil help, of ‘n Ma kry om nie haar man te veel instruksies en waarskuwings te gee nie.  Ek hoop werklik so, want nou eers besef ek hoe graag ek nóg meer wou kon doen.

En Femke is nou presies een.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees