Van babatyd af trek sy haar neus ’n bietjie op vir die onbeholpe manier waarop hy doeke omruil, of frons oor die verskriklike uitrustings waarmee hy hul kleuter dagsorg toe stuur. Maar Ma kan dalk iets leer uit hoe Pa dinge doen ...

Moet jy vir ’n paar dae die huis verlaat, sidder jy oor wat in jou afwesigheid kan gebeur: Die gesin wat op net Oreo’s en pizzas oorleef, jou man wat die kinders in hul pajamas kleuterskool toe stuur, en die gevaar dat minstens een van jou kinders in gips sal wees as jy terugkom. As dit dan lyk of hulle tog die mas opgekom het – en jou boonop nie eens gemis het nie – is die wind ietwat uit jou seile.

Die waarheid is dat jou man dinge miskien anders as jy doen, maar hy hoef steeds nie as ouer vir jou terug te staan nie. Verskeie studies het getoon dat pa’s iets unieks na die ouerskapstafel bring. Hier is waarmee jy by hom kan kers opsteek ...

Pa vertrou sy instink

Jy het maande voor baba se geboorte al wat ’n ouerskapboek is, verslind en beskik oor al die boekekennis wat nodig is om jou baba die beste moontlike stimulasie, voeding en opvoeding te gee. Jy woon ouerskapseminare by sodat jy die regte optrede in elke moontlike situasie ken, van potjielesse tot vloerstuipe. Maar dan vind jy nie eens die beste raad werk vir jou kind se vloerstuipe nie.

Pa tree in: Hy ignoreer al die reëls in die boek en dit werk soos ’n bom! Klink dit bekend?
Kenners reken ma’s is geneig om meer staat te maak op die leiding van ouerskapskenners of ander se raad in die hantering van hul kinders – dalk uit vrees vir kritiek as hulle iets nie reg doen nie.
Pa’s is daarenteen geneig om ’n tref-en-trap-metode te volg en eenvoudig hul instink te vertrou. As die eindresultaat bevredigend is, is dit vir hulle genoeg.

Die les:

Hoewel dit belangrik is om ’n ingeligte ouer te wees, is dit nodig om in voeling te bly met jou intuïsie en te leer om dit ook te vertrou. Jou kind is uniek en jy ken hom beter as enige kenner, so vertrou wat jou hart vir jou oor hom sê.

Pa druk en dryf

Of jou kleuter nou die klimapparaat in die speelparkie aandurf of sy nuwe fiets beproef, jou hart sit in jou keel en jy vermaan hom kort-kort om versigtig te wees, nie te hoog te klim nie en op te pas dat hy nie seerkry nie. Daarenteen hits sy pa hom aan om hoër te klim, sy fiets vinniger te ry, meer kanse te waag en nuwe goed te probeer.

Roekelose gedrag? Nie noodwendig nie. Tradisioneel wil ma’s hulle kinders beskerm en dit kan selfs grens aan oorbeskerming. Pa is weer geneig om sy kind aan te spoor om nuwe uitdagings te aanvaar. So wys hy vir sy kind hy glo hy is tot meer in staat.

Dit gee ’n kind se selfvertroue ’n stewige hupstoot en help hom meer onafhanklik word. Pa kan ook ’n bietjie langer wag voor hy kleinding uit ’n moeilike of gevaarsituasie red – so leer jou kind onderskei waar presies die grense tussen veilig en onveilig is.

Die les:

Veiligheid bly belangrik, maar jou kind sal ook baat by jou aanmoediging om nuwe dinge onder jou wakende oog te waag. So sal hy sy ervaringswêreld verbreed en sy selfvertroue bou.

Pa kies sy stryd slim

Ná ’n lang uitputtende dag weier jou kleinding om te gaan bad. Jy kners op jou tande en wil solank sy klere uittrek, al weet jy die dak gaan lig. Dan kondig manlief aan dat dit nie nodig is om te bad as hy so moeg is nie en gaan stop hom vuil-vuil in die bed. Of hy verskyn met paddavoete en ’n snorkel en vra die klein rakker of hy lus is om saam te bad.

As ma’s beskou ons die verantwoordelikheid van ons kinders se versorging in ’n ernstige lig en dit veroorsaak gereeld konflik, veral as jou kind ’n sterk wil het. Ons sal maklik ’n kind dwing om iets te doen, deels omdat ons bang is oor wat ander sal sê as ons toegee.

Pa’s dink gewoonlik twee keer voor hulle in ’n magstryd met hul kind betrokke raak. Hulle kyk eers of die stryd werklik die moeite werd is. Gaan dit oor ’n belangrike beginsel of nie? Indien nie, sal hulle dit maklik net laat gaan. Andersins sal hulle dikwels lawwe alternatiewe planne maak om kleinding se samewerking te kry.

Die les:

Soms is dit nodig om toe te gee of ’n bietjie verder te dink en planne te maak om jou kind se samewerking te verkry. Kies jou gevegte met jou kind versigtig: Jy wil nie van elke klein dingetjie ’n konflikpunt maak nie.

Pa stres nie oor nietighede nie

Wat maak dit saak as ouboet se kuif in alle windrigtings staan, daar modder op sy hemp is of as kleinsus se bloes verkeerdom is – solank hulle warm genoeg aangetrek is, is die res mos nie belangrik nie? In elk geval nie vir ’n pa nie!

Pa’s stres baie minder oor kleinighede, mits die basiese dinge soos veiligheid en gemak in plek is. Daarteenoor is Ma op detail ingestel: Dis vir haar belangrik dat die klere wat haar kind dra by mekaar moet pas en netjies moet lyk.

Die les:

Aandag aan detail is belangrik, maar soms moet jy leer om daar verby te kyk en te aanvaar dat solank jou kind gelukkig en gesond is, die res minder saak maak. Dit sal jou las as ouer verlig en dit makliker maak om ’n ontspanne verhouding met jou kind op te bou en ouerskap meer te geniet.

Pappa praat net een keer

Jy praat met jou kind oor haar skoene wat rondlê en vra mooi dat sy dit moet gaan bêre, dan raas jy daaroor, jy herinner haar weer dat sy dit moet doen, jy dreig, en uiteindelik skree jy op jou kind uit pure frustrasie terwyl jy dit maar self gaan bêre. Kom manlief in, praat hy net een keer en sussa spring. Wat doen jy verkeerd?

Kenners reken hierdie situasie ontstaan omdat pa’s meer sistematies en streng toesien dat die huisreëls nagekom word, sodat die kinders die gevolge van reg en verkeerd leer verstaan. ’n Pa laat sy kind die direkte gevolge van sy gedrag ervaar en lê klem op regverdigheid en pligte, terwyl ma’s in hul dissipline meer daarop fokus om die impak van die kind se gedrag op ander uit te wys, en ook makliker genade sal toon as die kind berou het.

Die les:

Ma’s praat en dreig te veel sonder om die gevolge deur te voer. Konsekwente gevolge vir verkeerde gedrag is nodig, hoewel jy steeds vir jou kind kan uitwys hoe sy gedrag ander raak.

Pa’s het meer pret

As julle saans tuis kom is daar ’n magdom wat gedoen moet word en jy sukkel net om die kinders gevoed, gebad en gebed te kry. Dan styg jou woede-meter na rooi as manlief nie help nie, maar eerder met die kinders op die mat stoei of woeste kieliespeletjies speel.

Ma’s is meer ingestel op versorging, pa’s op spel. Pa’s dink niks daarvan om die roetine te verbreek ter wille van spel nie en speel ook rowwer en meer kompeterend as ma’s. Geen wonder tweejariges in een studie het hul pa twee derdes van die tyd bo hul ma verkies as dit by pret en aksie kom nie. Navorsing toon pa’s se spel bou verstandelike vaardighede en help met kinders se sosiale en emosionele ontwikkeling.

Die les:

Ons ma’s is dikwels so vasgevang in die daaglikse versorging van ons kinders dat ons vergeet om saam met hulle pret te hê. Jou kind is net een keer klein: Vergeet soms van die skottelgoed en geniet jou kind of vra vir manlief om kos te maak terwyl jy ’n bietjie gaan speel!

Dis nie nodig om in ’n pa te verander nie – maar ’n klein bietjie pa-wysheid kan jou ouerskap nuwe woema gee ...