Wees 'n rolmodel vir jou kind

akkreditasie
Dis moeilik om altyd 'n perfekte ma te wees. Hier is 3 dinge wat jy in gedagte kan hou om dit makliker te maak!

Jou kinders gaan eendag doen wat jy doen, nie wat jy sê nie. Aanvaar dit as ’n feit en gebruik dit om deur jou eie optrede gelukkige kinders groot te maak.

Besin mooi oor wat jy vir jou gesin wil hê, en begin dan so optree. As jy waarde heg aan kalm, respekvolle verhoudings, hanteer ander dan so. As gesonde kos en oefening deel is van jul gesinswaardes, sorg dan dat julle gesond eet en gereeld oefen.

Deur te leef soos wat jy wil hê jou kinders eendag moet leef, stuur jy ’n sterk positiewe boodskap wat veel meer gewig dra as ’n stel reëls en strawwe.

Kies ’n stel gesinswaardes wat jul lewe betekenisvol maak, en hou daarby. Dis nooit te vroeg om te begin nie.

Onder 1 jaar

Jou baba is besonder fyn ingestel op jou. Sy kan werklik aanvoel hoe jy voel en sal daarop reageer. Kyk dus mooi na jouself, en moenie skuldig voel om tyd aan jouself ook te bestee nie. Dit is in die hele gesin se belang dat dit goed gaan met ma. Dis nie goed vir jou of jou baba as jy jouself totaal en al opoffer op die altar van moederskap nie.

Jy is ’n goeie rolmodel as jy liefde kan betoon aan jouself ook, en jou baba insluit hierin. Maak tyd vir liefkosing en gee van jouself deur sagte woorde en aanraking. Só maak jy ’n kalm, liefdevolle kind groot.

Onder 2 jaar

Peutertjies sukkel met selfbeheersing. Jou rol is om kalm en ferm te bly wanneer ’n storm losbreek. Wys haar hoe jy jou emosies beheer. Gee emosies name wat sy ook kan verstaan en leer haar om ’n saak uit te praat.

Leer haar ook van oorsake en gevolge, maar doen dit met liefde, geduld en konsekwentheid. Dit sal haar geborge laat voel as sy weet sy kan op jou vertrou om in beheer te wees. Bly self koelkop, en probeer uitbarstings in die eerste plek vermy.

Laat die liefde tussen julle blom deur pret ’n prioriteit te maak.

Onder 3 jaar

Rook jy? Vloek jy? Eet jy gemors? Lê jy Sondae voor die televisie rond? Is jy altyd suur en sarkasties? Is jy onnet? Jou kleutertjie is nou oud genoeg om jou gedrag raak te sien, en vas te lê.

Vra jouself of jy gemaklik is hiermee. As jy nie juis slegte gewoontes het nie, kan jy gerus ’n klein eksperiment uitvoer om te sien hoe jou kind jou ervaar. Maak ’n speletjie daarvan en ruil rolle. Jy is die kind, en sy is die ma, en julle gaan op ’n uitstappie.

Luister dan mooi wat sy alles kwytraak en doen. Herken jy jouself?

Wenke:

‘Ek het depressief geraak omdat ek gedink het ek moet altyd alles doen. My verwagtinge was onrealisties hoog. Ironies, ek’s ‘n beter ma wanneer ek nie so hard probeer nie.’ – SOUNA L

‘Ons het ‘n kaart gemaak met gesiggies op wat verskillende emosies wys. Ons bespreek dan enige voorvalle aan die hand van die kaart, en Ella (20 maande) kan daarop wys hoe sy voel.’ – TESSA C

‘Pleks van om te neul dat Henry (3) hande was of tandeborsel, kondig ek aan dat ek nou gaan hande was, of tandeborsel, want dis skoon en gesond, en ek nooi hom om dit saam te kom doen.’ - HELGA R

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees