Ek staan gereeld verstom om te dink ons woon al meer as twee jaar in Nieu-Seeland. Die lewe is bedrywig en vol, maar elke nou en dan vang my oog ’n pragtige groen berg of stap ek op my eie deur die stad. Dan tref dit my: wat ’n voorreg! Ons het in November 2015 besluit om te emigreer en in Junie 2016 het my man, Arno, oorgevlieg om te begin werk. Ek en die kinders het in Julie gevolg. Ons woon tans in ’n voorstad van Wellington, die Nieu-Seelandse hoofstad. Huise is maar skaars en die huurders volop, maar ons het genadiglik 'n lekker sentrale drieslaapkamer-huurhuis gekry met 'n plat agterplaas (nog ’n skaarste in Wellington!). Ons droom is om ’n stukkie grond te koop en ons eie huis te bou, maar dit gaan nog ’n rukkie duur. Aanvanklik was die aanpassing nie te moeilik nie. Ons het dadelik besluit om by ’n kerk in te skakel om ons met mense te omring wat glo wat ons glo. Daar het ek en die kinders by ’n Mums & Bubs-groepie aangesluit wat weekliks vir speeltyd ontmoet het. Dit was die vinnigste wat ek nog ooit vriende gemaak het! Ben (toe drie) het in Augustus twee dae per week met speelskool begin en Anja (toe nog nie eens een nie) was tuis by my. Die Mums & Bubs-groep was dus ’n goeie manier om ons uit die huis te kry. In die skoolvakansies is daar heelwat aktiwiteite hier. Toegang tot museums is gratis en hulle fokus baie op kinders, veral gedurende die vakansie. Behalwe vir spesifieke uitstallings vir kinders is daar ook geleenthede soos toorkunstenaars, ballet en skattejagte wat aangebied word. Nieu-Seeland fokus vreeslik op kinders en die gesinslewe. Daar is altyd iets om te doen. In die somer word klem gelê op die buitelewe en daar is weekliks aktiwiteite soos parkstaptogte waaraan die hele gesin kan deelneem, selfs met ’n stootwaentjie. Hier is heerlike strande en jy kan kies of jy lus is vir wit sand, swart sand of fyn klippies tussen jou tone! Speelparke is volop asook splash pads, waar kinders in die water kan baljaar. Openbare swembaddens is gratis vir kinders, onderdak, verhit, en ’n moet in die wintervakansie. Ons kinders het baie vinnig aangepas. Ben (5) het verlede jaar in April met skool begin en Anja (3) met speelskool. Albei praat vlot Engels en Afrikaans. Ons praat nog Afrikaans by die huis en het baie Suid-Afrikaanse vriende, dus behou hulle darem hul moedertaal. Hulle leer natuurlik Maori by die skool en ook Chinees. Die vriende wat ons by die kerk gemaak het, het ons gehelp om hier aan te pas. Ons het by ’n selgroep spesifiek vir Suid-Afrikaners ingeskakel. Ons het die behoefte raakgesien vir ’n veilige ruimte waar mense hul ervarings en bekommernisse kan deel, en ook ondersteuning kan bied vir en raad kan gee aan nuwe mense in die land – en natuurlik dieselfde taal en kultuur kan deel. Die Suid-Afrikaanse gemeenskap waarvan ons deel is, is soos familie. Ons pas mekaar se kinders op, lag saam, huil saam en braai natuurlik saam! Arno werk al meer as twee jaar as werwingskonsultant en ek gaan binnekort weer as verpleegsuster werk. Die amper twee en ’n half jaar tuis saam met die kinders het my goed gedoen, maar dis nou tyd vir meer intellektuele en volwasse gesprekke! Dis nie altyd maklik nie en as ons lank genoeg stil sit en te diep dink, word ons hartseer oor die mense wat ons mis. Ons verlang na ons ouers en familie wat in Suid-Afrika is. Ons beplan om binnekort daar te gaan kuier, maar Nieu-Seeland is nou ons huis. Die grootste uitdaging wat ons tans beleef is om te besluit of ons vir die Springbokke of All Blacks moet skree ...