VRAAG:

My drie kinders verskil so baie van mekaar. Ek wil elkeen op sy eie manier laat blom. Watter soort persoonlikhede kry ’n mens en wat werk vir wie?

ANTWOORD:

Lizanne du Plessis antwoord:

Party kinders is sosiaal, op en wakker en aan die gang; ander is rustig, bedaard en aanpasbaar, en nog ander is sensitief, oplettend en beleef. Temperament beskryf jou kind se persoonlike styl – die manier waarop hy of sy die wêreld ervaar en daarop reageer. Dit beïnvloed sy gedrag en interaksie met ander.

Wanneer jy jou kind se temperament verstaan, sal jy begrip kry vir sy gedrag, oplossings vind vir uitdagende gedrag en ’n sterk band vorm. ’n Deel van kinders se temperament word bepaal deur die manier waarop hulle reageer op wat hulle elke dag hoor, sien, ruik, voel en ervaar.

Elke interaksie, elke omgewing, elke ding wat ons doen stuur inligting van ons sintuie na ons brein. Die brein verwerk dan die inligting en so kan ons sin maak van ons wêreld. Party kinders is sensitief en fyn ingestel op die mense en die wêreld om hulle. Hulle het ’n lae stimulasiedrumpel en word daarom maklik oorlaai deur die besige, raserige wêreld waarin ons woon.

Navorsing wys dat 15 tot 20 persent van die bevolking in dié kategorie val. Ek vergelyk hierdie kinders met krimpvarkies. Wanneer dinge te veel word, kan hulle net soos krimpvarkies in ’n klein bondeltjie opkrul en take en mense vermy, of hulle kan hul stekels uitskiet en aggressief optree.

Ander kinders se drumpel is hoog en daarom word hulle nie maklik oorweldig nie, is hulle rustiger en tevrede om te sit en toekyk of met enigiets of enigiemand te speel wat hulle vind. Kameelperde met hul stadige bewegings herinner my aan hierdie kinders, wat rustig en nonchalant is. Dan kry ons ook die kinders wat daarvan hou om aan die gang te wees, te beweeg en dinge aan te raak.

Hulle soek voordurend geleenthede vir kontak met ander mense en die wêreld om hulle. Hul drumpel word as soekend beskryf. Dié kinders kan met apies vergelyk word: Hulle is altyd aan die gang en besig om die wêreld om hulle te verken. Wanneer ons na kinders en hul temperamentstyle kyk, moet ons onthou dat geen styl beter of meer ideaal as die ander is nie.

Elkeen het sy eie voordele, uitdagings en sterk- en swakpunte. Koester en ontwikkel die sterkpunte. Help jou kind om sy swakker, moeiliker of uitdagende eienskappe te verstaan en vind saam maniere om dit te hanteer.

* Lees meer hieroor in: Kweek kinders met karakter (Hettie Britzz), 5 Liefdestale van kinders (dr. Gary Chapman) en Maak gelukkige kinders groot (Lizanne du Plessis).