As die onnoembare gebeur

akkreditasie
Kapings is 'n realitieit in ons land, maar wat maak jy as jy met jou kinders in die motor gekaap word?

Suid-Afrikaners sal nie maklik die aaklige dood van klein Taegrin Morris vergeet nie. Die vierjarige seuntjie is
tydens ’n kaping meters ver agter die motor aangesleep waarin hy saam met sy ouers gekaap is.

’n Mens kan jou byna nie die pyn en angs van sy ouers voorstel nie, maar tog is kapings ’n werklikheid in ons land en moet jy sover moontlik jou deel doen om jou en jou mense te beskerm. Maar is ’n kaping enigsins voorkombaar?

Melinda Brussow, die bedryfsbestuurder by die Nasionale Kapingvoorkomingsakademie (National Hijack Prevention
Academy) sê ja. “’n Mens kan probeer om ’n kaping te voorkom deur meer paraat en bewus van jou omgewing te wees.

Hou jou vensters toe en deure gesluit terwyl jy bestuur. Moenie langs die pad stop nie en hou sover moontlik in die middelbaan. Dis moeilik om ’n bewegende voertuig te kaap. Kapers maak van die verrassingselement gebruik en dis daarom baie belangrik om van jou omgewing bewus te wees.”

Melinda sê kapings vind elke dag plaas, maar die meeste kom op Vrydae voor. Dit kan glo toegeskryf word aan motoriste wat meer ontspanne is en verkeer wat vroeër begin toeneem. “Daar vind minder kapings oor naweke plaas en dit is dalk daaraan te wyte dat sindikate hul bestellings op Maandae plaas.” Daarom sien ’n mens ook ’n toename op Dinsdae en Woensdae.

Kapings bereik sy laagste punt teen in twee-uur in die oggend. Dit begin weer teen ongeveer sesuur toeneem as mense ry om te gaan werk.

“Kapings toon ’n drastiese toename vanaf ongeveer 17:00 en die spitstyd vir kapings is tussen vier- en agtuur die aand. Mense kom by die huis aan en is moeg, gefrustreerd en nie paraat nie. Party mense laat hul voertuig loop terwyl hulle ’n hek oopmaak of soek eers sleutels om oop te maak, wat hulle blootstel.”

Die meeste kapings kom in hierdie stadium in Gauteng en KwaZulu-Natal voor, sê Melinda.

Probeer dit voorkom

Melinda gee die volgende wenke:

  • Begin so 2 km van jou huis af ekstra paraat te wees. Skakel die motorradio af en konsentreer op jou omgewing. Kyk in jou truspieëltjie of jy agtervolg word. As jy agtervolg word, ry reguit na ’n polisiekantoor toe.
  • Kyk goed na jou straat en oprit voor jy by jou perseel inry of dit verlaat.
  • Maak seker jou oprit is goed belig en dat daar nie bome of struike is wat jou uitsig kan versper of wegkruipplek bied nie.
  • Moenie by jou oprit inry as daar mense rondstaan nie.
  • Wees op die uitkyk vir enige motors wat in die straat staan.
  • Wees in jou pasoppens as jou troeteldiere jou gewoonlik inwag en hulle is nie daar as jy inry nie. Bel jou sekuriteitsmaatskappy om jou by die huis te ontmoet.
  • As jy laat in die aand tuiskom, bel iemand in jou huis om vir jou die hek oop en toe te maak.
  • As jy kinders in die motor het en jy self die hek moet oopmaak, skakel jou motor af en vat die sleutel saam as jy uitklim. Jy het dit nodig vir onderhandeling. Die booswigte sal jou voertuig wil hê en jy jou kinders.
  • As jy by jou oprit inry, stop jou voertuig net aan die binnekant van die erf en sit jou voertuig in trurat terwyl jy wag dat die hek toegaan.
  • As jou kinders ouer is, laat hulle saam met jou uitklim terwyl jy die hek oopmaak.
  • Hou jou selfoon by jou as jy bestuur. Druk dit in ’n baadjie- of broeksak.

Bel dadelik! Bel die polisie by 0860010111. As jy 'n selfoon het, bel 112 (enige netwerk) of 147 (net Vodacom)

As jy gekaap word

Melinda gee dié raad:

  • Moenie jou humeur verloor of die kaper dreig of uitdaag nie.
  • Moenie jouself probeer teësit nie, veral nie as die kaper ’n wapen het nie. Gee jou voertuig se sleutels en probeer soveel moontlik afstand tussen jou en die kaper kry.
  • Moenie jou handsak probeer vat nie.
  • Probeer so kalm as moontlik voorkom en moenie aggressief wees nie.
  • Moenie oogkontak met die kaper maak nie en hou jou hande stil en sigbaar.
  • Moenie skielike bewegings maak of te vinnig praat nie.
  • As hulle jou vra om die motor te verlaat, sê jy moet jou kind uithaal. Klim dadelik uit en beweeg na die agterdeur – praat met die aanvallers as jy kan om te sê wat jy beoog om te doen. Maak die agterdeur oop en sit jou regtervoet en liggaamsgewig dadelik binne die voertuig, reg agter die bestuurdersitplek. Reik binne die voertuig en trek jou kinders aan jou kant van die voertuig uit. Hou jou kinders naby – moenie dat daar verwydering tussen jou en hulle kom nie. Beweeg weg van die toneel.
  • Aktiveer jou voertuig se opsporingsdiens as jy een het.

Wat sê die kenner?

Henk Swanepoel, ’n kliniese sielkundige van Centurion, sê as jy in ’n vreesaanjaende situasie soos ’n kaping met ’n kind is, moet al jou gedrag daarop gerig wees om die kind te beskerm.

“In so ’n situasie is gedrag nie voorspelbaar nie, maar probeer onthou om stadig te praat en te beweeg. Die misdadiger is angstig en daarom is dit belangrik om in ’n monotone stem te praat en nie vinnige bewegings te maak nie.

“Volg die oortreder se opdragte. Moenie net oorhaastig alles oorhandig nie, die kaper weet wat hy soek. Wag dus vir die opdragte.

“Maak die kaper bewus van ’n klein kind se teenwoordigheid as hy dalk nie die kind gesien het nie. Jy kan sê dat hy alles kan neem, maar jy moet jou kind beskerm.”

Henk vertel na afloop van ’n lewensbedreigende situasie soos ’n kaping, ervaar ’n mens terugflitse van die trauma wat uiters ontstellend is.

“Die langtermyngevolge sluit ook hoë vlakke van irritasie, konstante angs, ingekorte korttermyngeheue en swak konsentrasie in. As die toestand nie behandel word nie, kan jy depressie ontwikkel.

“By kinders is hierdie ervaring meer intens en het dit soveel meer impak aangesien hul verwysingsraamwerk om trauma te integreer, beperk is. Die kind sal dus nie oor die vermoë beskik om die gebeure te begryp nie. Die liggaam reageer met ’n vlugreaksie – ’n oormaat adrenalien word vrygestel, maar daar kan nie op die reaksie gereageer word nie. Dit veroorsaak verwarring en soms impulsiewe reaksies.”

Henk sê dit is belangrik om na afloop van ’n kaping vir die slagoffers traumaberading te kry.

Kry nog inligting:

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees