Die tweeling, Kayla en Karlien, is twee jaar oud.
Die tweeling, Kayla en Karlien, is twee jaar oud.
Tot die wasgoeddraad word saamgery.
Tot die wasgoeddraad word saamgery.
Die Van Ins en hul bus – Sonja (35), Rheinholdt (3
Die Van Ins en hul bus – Sonja (35), Rheinholdt (38) en hul vier kinders: Katie (7), Kaden (5) en die tweeling, Kayla en Karlien (2).
Ja, natuurlik is daar ‘n badkamer!
Ja, natuurlik is daar ‘n badkamer!
Die trap doen ook diens as ’n galery.
Die trap doen ook diens as ’n galery.
Tuisonderrig is maklik as albei jou ouers onderwys
Tuisonderrig is maklik as albei jou ouers onderwysers is.
Slaapplek op die bus is gerieflik ingerig.
Slaapplek op die bus is gerieflik ingerig.
Daar is selfs plek vir speelgoed
Daar is selfs plek vir speelgoed
Katie se slaapplek is kleurryk en knus.
Katie se slaapplek is kleurryk en knus.
’n Opwashoekie met ’n uitsig. 
’n Opwashoekie met ’n uitsig.
Reis is deel van Kaden se lewe.
Reis is deel van Kaden se lewe.

Sonja van In (35) en haar man, Rheinholdt (38), is albei onderwysers. Tot verlede jaar nog het hy by ’n remediërende skool skoolgehou en het Sonja haar eie kleuterskool bestuur by hul huis in Alberton, Gauteng.

Hul vier kinders, Katie (7), Kaden (5) en die tweeling, Kayla en Karlien (2), het by haar skoolgegaan.

Reis was egter nog altyd ’n belangrike deel van Sonja en Rheinholdt se lewe, veral voor hulle ouers was.

“Hoe groter ons gesin geword het, hoe moeiliker het dit geword. Met die tweeling se geboorte het ons besef dat ons reis vir eers opsy moes skuif,” vertel Sonja.

Sy het die Netflix-dokumentêr Tiny House Nation gereeld gekyk en by ’n vriendin gehoor van ’n soortgelyke program met die titel Expedition Happiness.

“Ná dié dokumentêr kon ek nie wag dat Rheinholdt van die werk af kom sodat ek hom daarvan kon vertel nie. Ek het daardie aand vir hom gesê dat ons ’n bus gáán koop en daarmee gáán reis.”

Sonja lag wanneer sy vertel dat Rheinholdt dit nie ernstig beskou het nie.

“Ek het ’n grappie gemaak en gesê dat ons ’n dubbeldekkerbus vir ons groot gesin nodig het.”

Sonja was vasbeslote om ’n bus te koop en het onmiddellik aanlyn na een begin soek.

“Ek het twee te koop gevind. Van die een was daar nie veel oor nie, maar ek het geweet die ander een, wat ook maar in ’n slegte toestand was, sou ideaal vir ons gesin wees.”

Die bus wat die Van Ins wou koop, was 18 jaar lank in onbruik. Dit was verwaarloos en dit het vir jare daar ingereën omdat dit nie ’n dak gehad het nie.

“Daar het harde werk vir ons gewag.” Die gesin het die meeste van die herstelwerk self gedoen.

Die restourering het 13 maande geduur. ’n Motorwerktuigkundige het die enjin opgeknap.

Sonja en Rheinholdt het fyn beplan om hul reisdrome waar te laat word.

“Ons het huurders vir ons huis gevind sodat ons steeds die verband kon betaal en om uitgawes soos versekering en medies te dek.

“Die plan was ook dat ek aanlyn Engels-lesse sou gee om vir ons kos en brandstof te betaal.”

Onbetroubare internettoegang is een van hul grootste struikelblokke. Sedert hulle uit Alberton vertrek het, was hulle meestal op afgeleë plekke waar daar selde ontvangs is.

Die avontuur

“Ons eerste bestemming was Ventersdorp in Noordwes. Ons het sowat ’n maand in ons bus op ’n kampeerterrein gewoon.”

By dié kampeerterrein, met die naam Club Amigos, het die gesin hul leefstyl in orde gekry.

Katie en Kaden se tuisonderrig-roetine is gevestig en die gesin het die tyd gebruik om in hul nuwe huis op wiele aan te pas.

’n Maand later is hulle na Groot Marico, ook in Noordwes. Daar het hulle op die plaas Happy Toes Permaculture vertoef waar jy toegang tot die plaas verkry deur ’n diens te lewer, hetsy dit is om daar skoon te maak of om iemand op te lei in ’n vaardigheid waaroor jy beskik.

“Op die plaas het ek geleer om knoop-en-doop (tie-dye) te doen. Ons het weer vir ander opleiding gegee in opvoedkunde, maar meestal wou mense sien hoe ons bus lyk. Ons het daardie maand toere aangebied en gewys hoe ons leef en hoe ons bus lyk en werk.”

Vir ’n ekstra inkomste het sy knoop-en-doop-partytjies vir kampeerders aangebied.

Ná dié plaaservaring was die Van Ins weer lus vir kampeer. Hulle het na Leeudoringstad in Noordwes vertrek en twee maande (November en Desember) by die Klipspruit River Resort kampeer.

“Dit was ’n ontspannende, lekker ervaring. Die terrein was vol en ons het musiekfeeste bygewoon wat die kinders baie geniet het,” vertel Sonja.

Sy sê baie mense wonder waarmee hulle hul heeldag besig hou. Maar eintlik vlieg die tyd.

“Wanneer ons wakker word, klim die kinders saam met ons in die bed. Dit is ’n lekker nesteltyd vir almal. Daarna eet ons, Katie en boetie Kaden doen skoolwerk en die tweeling slaap nog ’n rukkie. Wanneer hulle wakker word, eet ons en dan speel, verken en oefen ons saam.”

Sonja se ma is vroeg in haar lewe oorlede. Sy vertel dat dit juis hierdie gebeurtenis is wat haar elke dag aanspoor om gehaltetyd saam met haar kinders deur te bring.

Vir ’n ekstra inkomste het sy knoop-en-doop-partytjies by die kampeerterrein begin hou. By so ’n partytjie lei sy mense op in tegnieke om klere of lap te kleur.

Vir Kersfees is die gesin met hul voertuig na familie in Johannesburg. Dit het almal goed gedoen.

Sonja reken dat elkeen van haar kinders die gesin se avontuur anders hanteer en ervaar.

“Katie het gehuil toe ons ná Kersfees die familie groet en terugry Leeudoringstad toe, maar Kaden het weer in die motor gewag en gevra wanneer ons nou ry.”

Op Leeudoringstad het Sonja van ’n Facebook-groep met die naam “Plaasjapie se werksoekhoekie” gehoor.

Dit is deur hierdie groep dat hulle hul volgende bestemming gevind het. “Dit was op Hoopstad in die Vrystaat, waar ons die gaafste mense ontmoet het. Ons het ’n maand lank daar gratis op ’n plaas in ’n boer se mielieland gewoon.

”Ons het die bus se waterstelsel aan die plaasdam gekoppel om water te kry,” vertel Sonja.

Op Hoopstad het Sonja en Rheinholdt opvoedkundige pakkies vir kinders aan ouers verkoop en Sonja het weer knoop-en-doop-partytjies gehou.

“Ons het die tyd op Hoopstad op die plaas geniet. Die gesin wat daar boer, het selfs by die bus kom kampeer en ons het weer by hulle gaan kuier.”

Dit was egter gou tyd om op te pak en die Van In-gesin het weer 200 km verder gereis na Kimberley in die Noord-Kaap, waar hulle weer op ’n plaas tuisgegaan het.

“Ons het sommer naby aan die boer- vrou se huis gestaan. Dit was baie gerieflik, want ons kon haar elektrisiteit en water gebruik.”

Al is die bus met sonpanele ingerig, is dit tog vir die Van Ins lekker om nou en dan nie daarvan afhanklik te wees nie. “As dit bewolk is, werk die wasgoedmasjien nie. As ons soms aan krag gekoppel is, is dit lekker om ons nie daaroor te kwel nie.”

Wie ry waar?

Sonja en die kinders ry nie in die bus wanneer hul van plek na plek toer nie.

“Ons vyf ry in ons motor agter die bus aan. Ons vorder stadig en ry nooit meer as 200 km op ’n slag nie. Dit duur sowat vier uur om so ver te ry.”

Hulle mik altyd om die langpad aan te pak terwyl die kinders slaap. Dit maak dinge makliker.

“Maar as die kinders wakker word, sing ons liedjies, gesels en speel speletjies. As die pad lank word, fliek die ouer kinders op hul tablette.”

Die kinders word ook erg karsiek. Gelukkig het Sonja al ’n paar kure daarvoor geprakseer. Sy glo dat antihistamien die karsieksimptome verminder.

Wanneer die tyd nader kom om weer op te pak en elders heen te skuif, word die kleinspan goed voorberei. Die dae word op ’n kalender afgetel en die gesin praat gereeld daaroor.

“Roetine is vir ons die goue reël. Daarsonder sal die rondreisery vir die kinders moeilik wees. Gelukkig help dit dat hulle huis saam met hulle na die nuwe bestemming ry,” vertel Sonja.

En as jy vra hoekom hulle besluit het om hul permanente woning vir eers te verlaat, antwoord Sonja sonder huiwering: “Om oor die wêreld te leer en te sien hoe ander mense leef.” 

Waarheen volgende?
Die Van Ins se volgende bestemming is Vanderkloof, ook in die Noord-Kaap. Hulle wil uiteindelik deur Namibië toer – en natuurlik is hul groot droom om eendag met die bus na Europa te reis.
Foto’s: Louis Botha Fotografie, louisbothamedia.smugmug.com