Een middag, laat in Mei verlede jaar, het ons gesin se lewe handomkeer verander.

My man, Emile, is skielik ’n fantastiese werkgeleentheid in Maskat – die hoofstad van Oman – aangebied, en binne twee weke het ons en ons twee kinders, Elbé (2) en Lian (10 maande), ons Pretoria­bestaan vir ’n Arabiese avontuur verruil.

Hoe verlaat ’n mens jou land, jou mense, jou kultuur en jou steun­netwerke? Noudat dit ses maande later is, het ons besef dat ’n mens dit net dag vir dag moet aanpak.

Die klimaat

Die aanvoelbare temperatuur in Oman kan in die somer meer as 50 grade C wees. Geen wonder dat die meeste buitelanders elke somer elders vakansie gaan hou nie.

Buite tap die sweetdruppels van jou lyf af nog voor jy besef hoe warm dit eintlik is. Dit is waarom jy bedags nie meer as 15 minute op ’n slag met die kinders buite kan wees nie.

En vir ons wat die buitelewe geniet, is dit is nogal ’n storie om binne te bly. Die hitte skep vir gesinne hier ’n absolute naglewe! Kinders gaan speel saans buite.

Winkels maak eers tienuur toe. Restaurante is vol en die kinders ry met fietsies op en af.

Die veiligheid hier is ook ’n fantastiese pluspunt. Interessant: As jy by die restaurant buite wil sit, bespreek jy jou tafel en ’n verkoeler! Dit is tans winter hier, maar die weer is fantasties.

In my kop is dit steeds somer. Ons besit nie meer baadjies of stewels nie, en my gunsteling­denim gaar maar stof op. 

Die kultuur 

My knieë en skouers moet toe wees as ek dorp toe gaan. Nie dat jy toegesluit sal word as jou skouers of knieë wys nie, maar ons doen dit uit respek vir die plaaslike inwoners.

Op die landgoed waar ons bly is daar meestal net buitelanders en niemand gee regtig om wat jy aantrek nie.

Van middel Junie tot middel Julie is dit sowat 30 dae lank Ramadan, die heilige maand.

Dan mag ons nie tussen sonsopkoms en sonondergang in die openbaar eet of drink nie. Maskat is dan soos ’n spookdorpie terwyl almal binnenshuis uit die hitte skuil.

Al die plekke het sentrale verkoelers en daar mag jy natuurlik eet! Die skole is gesluit en die meeste buitelanders gaan reis of kuier.

Die land se weekdae is ook interessant en anders. Donderdag is Vrydag, Vrydag is Sondag, Saterdag is Saterdag en Sondag is Maandag! Dus begin ons week op ’n Sondag en eindig op ’n Donderdag.   

Ons lewe hier

Daar is maar min blonde krulhaardogtertjies met blou oë hier. Elbé kry daarom baie aandag. Almal wil net aan haar vat, hallo sê of self ’n foto saam met haar neem – wat nie aldag ’n goeie ding is nie.

Sy dink nie meer die tannies met die hoofdoeke (hijabs) is vreemd nie. Sy het maats gemaak met kinders van oor die wêreld heen. Sy is mal oor skool en is ’n gelukkige kind.

Dit is vir my so mooi om te sien hoe maklik kinders aanpas. Ons ontmoet mense van regoor die wêreld, soos uit Swede, Frankryk, Nederland en Turkye. Die interessantste van alles is om te sien en leer wat ander mammas doen.

In SuidAfrika kon ek nog sê dat ons almal taamlik dieselfde maniere en denke het wanneer dit by babas kom. Maar hier weet niemand van die bestaan van ’n spoegdoek nie!

Dit is vir hulle baie vreemd dat ek ’n geborduurde handdoek ronddra. Hulle is ook baie meer ontspanne as dit kom by roetine en slaaptyd.

Maskat bied ook baie ander dinge wat dit ’n plesier maak om hier te bly: die pragtige strande, die Al Hajar­berge, woestyn en nog baie meer.

Die kultuur is interessant en die leier is ’n sultan – dit laat my aan Aladdin dink. My man vind die lewenspas en werkpas rustiger as in Suid­Afrika.

Hy het meer gesinstyd en het goed in sy nuwe werkomgewing aangepas. Hy het ’n lieflike uitsig oor die see van sy kantoor. Die lewe hier is wel baie duur.

Ek het goeie vriendinne begin maak en sien baie dinge meer met ’n oop kop, van vrou wees tot ma wees en ook die lewe self.

Ek dink die skuif het ons gesin goed gedoen, want ons het net mekaar! Ons bring baie waardevolle tyd saam deur. Ons geniet die gesinstyd vreeslik en haal die meeste uit elke oomblik.

Daar is nou geen verpligtinge of verantwoordelikhede wat ons tyd steel nie. Dit wat ons doen is vir en met mekaar. En ek dank God elke dag vir hierdie seëning van ’n geleentheid wat ons gegun is.