book-icon Uitgawe Oktober & November 2019

Briewe-inboks

akkreditasie
Alethea Lucas Botha (38) en haar laatlam, Lea (12 weke).
Alethea Lucas Botha (38) en haar laatlam, Lea (12 weke).

19 Maart 2019. Die dag waarop al my drome waar sou word. Ons reënboogkind was geskeduleer om daardie dag gebore te word, en daarby was dit ook oupa Niel se verjaardag. En was oupa Niel nie trots nie! Sy derde kleinkind sou sy geboortedag deel. Om alles te kroon, het ons maande tevore al besluit om ons seuntjie na oupa Niel te noem. Ons was dus gereed om klein Niel op oupa Niel se verjaardag te ontmoet. Die dag skop heerlik af. Oupa en ouma kuier by ons uit Stilbaai. Ons wens oupa geluk met sy verjaardag voor ons hospitaal toe vertrek om ons klein mannetjie te ontmoet. Alles verloop glad en almal kry die kans om vir Niel hallo te sê. Ouma hou hom in ekstase vas en haar hart wil van die trots bars. En daar breek die groot geleentheid aan: Dis oupa Niel se beurt om sy verjaardaggeskenk met sy beerarms te omvou. Die glimlag op sy gesig is onbeskryflik. Vir my gebeur alles ’n bietjie in ’n waas, want ek is nog onder die invloed van die verdowing. As ek maar net meer kon onthou... Hoe sou ons kon raai dat dit die eerste en laaste keer sou wees dat oupa sy kleinseun sou sien, want daardie aand is hy skielik van ons weggeneem na sy hemelse tuiste, sy finale rusplek! Op een dag het ek die grootste geskenk van my lewe ontvang, maar ook my held verloor! ’n Niel is gebore en ’n Niel is geneem. Dit was ’n groot slag om die volgende oggend die nuus te kry. Ek was tussen vier hospitaalmure vasgevang en moes op my eie rou nadat die ander vertrek het, maar tog moes ek sterk wees vir my seuntjie omdat hy alles kan aanvoel. Hulpeloos, verlore, vol ongeloof is net ’n paar woorde wat my gevoelens beskryf. Dalk is dit selfsugtig van my, maar dit skeur my hart aan twee om te weet klein Niel sal nooit sy oupa ken nie. Hy sal nooit die lewenslesse by sy oupa leer wat ons in oorvloed ontvang het nie. My kind sal moet grootword net met ons herinneringe aan sy oupa – maar dit is fantastiese herinneringe. Ons sal elke jaar met ons kleinman se verjaardag aan oupa se afsterwe herinner word, maar ons sal dit met trots vier. Vandag is klein Niel ses weke oud en ons hart is nog rou, want ons het ses weke gelede ’n reus verloor. Ons mis jou oupa, pa en held! Liezl Austin, Centurion, Gauteng.

Ons het as gesin net voor Paasnaweek vakansie gaan hou en dit was Emily se heel eerste keer by die see. Sy het dit vreeslik geniet, maar soos altyd het alle goeie dinge tot ’n einde gekom en moes ons terugkeer huis toe. Mamma het die nuutste uitgawe van Baba & Kleuter gekoop om op die lang pad terug Pretoria toe te lees en Emily wou natuurlik saamlees. Die ander baba op die voorblad het haar gefassineer. Baie dankie vir die lekkerlees-tydskrif propvol oulike artikels en wenke. Mamma en Emily sal maar van nou af beurte moet maak om elke uitgawe te lees. Chantelle Grobler, Pretoria, Gauteng.

Kry die volle storie
Teken in op Netwerk24 en kry vandag onbeperkte toegang tot gehalte-joernalistiek, brekende nuus, voorste Afrikaanse koerante en tydskrifte, blits-videoinhoud, podsendings, luisterboeke en meer.
Teken in
Reeds 'n intekenaar? Meld aan
Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees