Op 4 September 2017 staan ons met 12 tasse op die lughawe – een tas vir elke jaar saam, het ek nog gespot. En hoe ongelooflik is dit nie dat ’n mens se hele lewe in net 12 tasse kan pas! ’n Mengelmoes van emosies het ons hart gevul: opgewondenheid, skuldgevoelens oor die opgewondenheid, hartseer, onsekerheid, vrees en dankbaarheid. 

Ná ’n vlug van 12 uur het ’n nuwe vriendin in ’n vreemde land vir ons gewag, een van die engele wat ons gesin sedertdien gedra het. Elke nuwe ekspat-gesin het so iemand nodig! 

Ons eerste vastrapplek was Malta, ’n klein eiland net onder Sicilië bekend vir sy heerlike weer, unieke huise en wonderlike geskiedenis. Vorige kollegas van my man het hom ’n werkgeleentheid hier aangebied. 

Ons was jare lank al lus vir ’n verandering en hoewel ons nie veel van Malta af geweet het nie, het ons die gevoel gehad dat dié geloofsprong presies die een was wat ons moes neem. 

Op Malta het my kinders by ’n privaat skool ingeskakel omdat dit moeilik is om Maltees – die eiland se nasionale taal – te verstaan en leer. 

Nes die res van Europa begin hulle al van ses jaar af lees en skryf, en dit was definitief ook die grootste uitdaging! Skielik moes ons dogter in 'n tweede taal boeke lees en groot somme doen, terwyl sy in Suid-Afrika nie eens graad O klaargemaak het nie. Gelukkig het ek op Malta nie gewerk nie en met die hulp van ’n Suid-Afrikaans oudonderwyseres kon ons in die middae tyd bestee aan ekstra taal- en wiskunde-oefeninge. 

In die somer is Malta baie warm en bedompig. Die paar groot strande is vol strandgangers en ons het dit dus meestal vermy. Ons het ’n klein strandjie ontdek met vlak water en rotspoele vol krappies en vissies. Hier het ons vele naweekdae saam met vriende deurgebring. 

Malta is ook bekend vir die vuurwerkvertonings – in die somer vier elke klein stadjie fees en skiet om 12:00 en weer saans vuurwerke. Dit klink dalk opwindend, maar ná twee weke is dit nie meer ’n nuutjie of fassinerend nie. Elke af en toe haal hulle egter die grootste en beste vuurwerke uit, en dan het ons ure op ons dak deurgebring en ons aan die nuwe patrone en kleure verstom. 

Maar Malta was nie ons eindbestemming nie en ná 15 maande het ’n werkgeleentheid oor my pad gekom. My man moes nog op Malta agterbly, maar ek en die twee kinders het die trek Nederland toe aangepak met ’n paar ekstra tasse, ou vrese en nuwe moed. Ses maande later was ons almal weer onder een dak. 

Ons woon nou op ’n klein dorpie net buite Amsterdam. Die kinders is in ’n Nederlandse skool. Hoewel Heike nog ekstra hulp nodig het met die lees en skryf, het hulle albei binne twee maande Nederlands geleer en sal ’n mens nie kan glo dat dit hul derde taal is nie! 

Die Nederlandse skoolstelsel is ongelooflik georganiseerd en natuurlik heeltemal gratis. Omdat hulle in 'n klein skooltjie is, is daar twee jaargroepe in een klas. Kinders word na ander juffroue se klasse genooi om te gaan wys hoe hulle kan lees. 

Daar word 'n groot ophef gemaak van nasionale feeste soos Koningsdag, Paasfees en Sinterklaasdag, maar vir my is die vreemdste die fietsry-eksamen wat elke elfjarige moet slaag! 

Die kinders is elke dag tot omtrent 17:00 by nasorg oorkant die skool. Ongelukkig is die nasorgstelsel baie duur, maar ons kry darem geldhulp van die staat.

Ons lewe hier is geseënd en eenvoudig. Heike kan op haar fiets spring en maatjies gaan soek, en Stephen stap in die straat af en klop aan deure tot ’n klasmaat oopmaak. Die skoonheid om ons slaan nog elke dag my asem weg en ons sal nooit moeg raak van die kanale, groen weivelde en windmeulens nie. 

Hoewel dit alles baie idillies klink, was die afgelope twee jaar ook die moeilikste van my lewe.

Maar die lesse wat ek geleer het, sal ek altyd met my saamdra. Ek deel dit graag.

  • Gun jou die tyd om te rou oor die lewe wat jy in Suid-Afrika geken het. Dit wat sou wees, sterf af en jy moet gewoond raak aan ’n nuwe werklikheid sonder gemaksones. 
  • So ’n skuif stroop ’n mens en stel jou bekend aan al jou slegste eienskappe, maar ook jou bestes! Dis ’n aanhoudende skaafproses wat jou verwonderd laat oor die krag waaroor jy beskik.
  • Jy en jou man eet sewe sakke sout saam op! Julle word mekaar se alles. En nadat die stof van die argumente gaan lê het, is die fondament soveel sterker. 
  • ’n Mens kan jou nie indink hoe jy jou lewe gelei het sonder die nuwe hartsvriende wat oor jou pad kom nie. Die vriende wat in Suid-Afrika agterbly, word minder en die verlange gaan nooit heeltemal weg nie, maar die vriendskappe wat oorleef, hou waarlik vir altyd.
  • Suid-Afrikaners hou van mekaar en ons soek graag geleenthede om vir ander te wys hoe lekker ons kan braai. En Suid-Afrikaanse kos is die heel beste in die wêreld!
  • Wanneer jy besluit om ’n ekspat te word, offer jy baie op: tyd saam met familie en vriende, verjaardae saam met geliefdes, geboortes, troues – die lys is nimmereindigend. Maar ek kan ook ’n baie lang lys opstel van wat jy alles bykry.