Nadat Schalk en Karlien van der Merwe die besluit geneem het om swanger te raak, het Karlien die Pil dadelik gelos. Min het die paartjie van Somerset-Wes geweet dat hul planne nie sou uitwerk soos hulle gedroom het nie.

Ná meer as ’n jaar van onsuksesvolle probeerslae het die spanning begin opbou. “Die spontane aksie van liefde maak het werk begin word en is elke keer deeglik beplan en volgens ’n rooster bepaal,” vertel Schalk.

En dan steeds die slegte nuus aan die einde van die maand: Hulle is nie swanger nie. “Dit was vir my moeilik, maar ek glo dat dit vir my vrou die ergste was.” Intussen het albei Karlien se susters swanger geraak, asook haar twee beste vriendinne.

Dit het vir hulle gevoel of die ganse wêreld swanger was. “Al die swangerskappe was vir ons blye boodskappe, maar dit het terselfdertyd ons eie onvermoë om swanger te raak beklemtoon. Ons was saam met almal opgewonde, maar aan jou binnekant voel jy rou,” onthou Schalk.

Dis ’n mengsel van emosies wat jy moeilik vir iemand kan be skryf. “Hoewel jy die ondersteuning van mense om jou waardeer, wil jy nie jammer gekry word nie.” Karlien het haar behoorlik laat ondersoek en volgens haar dokter was sy gesond. Sy het toe vir Schalk gevra om hom te laat toets en hy het met groot bravade ingestem. 

“Ek onthou my reaksie op haar versoek goed. Ek het gesê dis reg, maar dat sy net ’n Coke-botteltjie moet bring omdat die Pathcare-flessie te klein is.”

Die uitslag wat hulle ontvang het was “minder as indrukwekkend”, soos Schalk dit stel. “Tellings in al die kategorieë was laag en die helfte van die kategorieë kon nie eens getoets word nie omdat die storie so traag was.” Daar was beslis fout. En Schalk het besef die fout lê by hom. “As paartjies gewoonlik sukkel om swanger te raak, aanvaar ’n mens so maklik die probleem lê by die vrou.

In ons geval was dit duidelik dat ék die een was wat nie my kant kon bring nie.”

Dokter #1

Schalk is na dokter nommer een op Stellenbosch verwys. Dit was die eerste keer dat hy vir so ’n ondersoek moes gaan. “Dit was vreeslik ongemaklik. Dit maak nie saak of jy ’n dokter is of nie.

"’n Man is nie veronderstel om met ’n ander man se storie in sy hand te staan nie,” sê Schalk laggend. Schalk was in daardie stadium besig om voor te berei vir die Cape Town Cycle Tour en vertel dat hy begin wonder het of dit nie die oorsaak van sy probleem was nie.

Die dokter het hom inderdaad toe aangeraai om die fietsry te los terwyl hulle swanger probeer raak. 

Dokter #2

’n Maand later het Schalk en Karlien dokter nommer twee op Stellenbosch besoek. “Ek wou verdwyn toe my vrou met haar gewone harde stem ons aankoms by die ontvangsdame aankondig.

"Ek wou eerder vir die dame fluister, my besonderhede stilletjies invul en op die bank in die hoek gaan sit. Dit het gevoel asof almal weet dat ons twee nie kinders kan kry nie.”

Dokter nommer twee se hooffokus was Karlien. Hy het gesê daar is nie veel wat hy aan Schalk kan doen nie, maar hy kan met ’n vrou “toor”. Hulle is daar weg met ’n klomp pille in die hand. “Ek moes sinkaanvullers en foliensuur drink, en Karlien pille wat selontwikkeling bevorder.” Maande het verbygegaan sonder enige sukses.

Hoewel Karlien se selletjies goed gegroei het, het niks gebeur nie. “Ek was aan die jag in Namibië toe my vrou my bel en sê die dokter sê sy is nou so vrugbaar sy kan net op my onderbroek trap dan is sy swanger. Met groot hoop het ek teruggekom en weer alles volgens die boek op die bepaalde tye gedoen, maar weer het al ons moed in ons skoene gesak toe ‘daai tyd van die maand’ aanbreek.” Volgens Schalk was Karlien vinnig besig om moed te verloor.

Dis toe dat hulle van ’n plek in Kaapstad hoor wat “inentings” aan mans gee om hul spermtelling te versterk. 

Dokter #3

Daardie selfde jaar nog het Schalk en Karlien by dokter nommer drie se spreekkamer ingestap. Hulle het vroegoggend uit Somerset-Wes gery om nie in die stadsverkeer vas te sit en die doktersafspraak mis te loop wat hulle maande vooruit moes bespreek nie. “In die voorportaal was dit nie meer vir my so erg nie. Ek was teen dié tyd al effens minder skaam. Hierdie uitdaging wat voor ons deur gelê het, het nou ingesink en ’n werklikheid geword.”

Schalk het vir die arts vertel dat hy gehoor het van daardie wonderlike inspuiting en wou net weet wanneer hulle kon wegspring. Min het hy besef hul eerste besoek aan dokter nommer drie sou hom na ’n volgende vlak van realiteit voer.

Volgens dokter nommer drie kon Schalk en Karlien vergeet van al die ander prosedures om swanger te raak en sou hulle net hul tyd en geld mors.

Die dokter het ’n intrasitoplasmiese sperminspuiting (ICSI) voorgestel. “Dit is ’n prosedure waar Karlien se eierselle uitgehaal en my spermselle direk daarin gespuit word. Uitwendige bevrugting vind plaas voor die selletjies teruggeplaas word.

“In dokter nommer 3 se spreekkamer was die gemoedere laag. My vrou het gehuil. Die dokter se nuus en om Karlien so te sien was soos om met ’n tienpond hamer in die maag geslaan te word. Die rit terug huis toe was ’n stil een.

“Dit sou ’n kleinhuisie vol geld kos. Ons het dus ’n paar rowwe besluite gehad om te maak, hoewel dit eintlik baie eenvoudig was,” sê Schalk. Hulle wou nie jare later terugkyk en wonder wat sou gebeur het nie. Schalk het die deposito betaal en die prosedure het begin toe Karlien begin ovuleer het. Nog ’n nuwe dokter, dokter nommer vier, se hulp is ingeroep en hy moes saam met dokter nommer drie werk.

Dag een was die eerste dag nadat Karlien begin ovuleer het. “Ons het ons eie pers medisynetas gekry met inspuitings en naalde. Ek het Karlien elke oggend ingespuit.” Schalk vertel dat hy later soos ’n wafferse verpleegster ingespuit het en selfs die lingo ook geleer het. “Ek het voor elke inspuiting gespot en gesê dat sy nou ’n prikkie gaan voel.

"Ons het grappies gemaak en gespot om die storie meer draaglik te maak, maar dit was ’n goor tyd.” Karlien se maag was blou van al die inspuitings en hulle moes elke tweede dag Kaapstad toe ry.

Sy is elke keer ondersoek en dan het hulle nuwe inspuitings vir die volgende paar dae ontvang. “Die doel van die oefening was om Karlien se eierselle 18 mm groot te laat word. Die selle het goed gegroei en was meer as genoeg, maar het nie die gewenste grootte bereik nie.”

Op dag 19 het albei dokters besluit om die prosedure te staak. Die dokters het vermoed dat hulle die inspuiting wat moes keer dat Karlien ovuleer, te vroeg in die siklus gegee het. “Meer as die helfte van die deposito is al deur ’n naald gedruk en ons is weer met oë vol trane op die N2 terug huis toe.”

’n Laaste keer 

Daardie aand ná hul laaste besoek aan die dokter het Schalk sy vrou alleen in die slaapkamer sien sit. “Ek kon haar hoor en sien huil. Ek het langs haar op die bed gaan sit om haar te troos.

"Sy het ’n paar skoentjies in haar hande vasgehou wat sy kort ná ons troue gekoop het. Karlien het die skoentjies altyd in haar bedkassie gebêre. Elke nou en dan het ons dit uitgehaal en lekker gedroom.

"Ek het kamer toe gegaan om haar te troos, maar skielik het alles net vir my ook te veel geword.”

In Desember was hulle vir die vakansie op die plaas. Karlien se ovulasiesiklus sou weer begin. “Daar in die veld agterop die ou Nissanbakkie het ons besluit om nog een keer te probeer,” vertel Schalk.

Die dokters het finansiële toegewens gemaak wat ’n tweede keer moontlik gemaak het en hulle ’n geleentheid gegee het wat hulle nie deur hul vingers kon laat glip nie. “Ons wou een siklus aanpak waar die dokters sou glo hulle sou niks ánders gedoen het nie. Dan sou ons ons lot aanvaar.”

Op dag een van Karlien se siklus het alles weer van voor af begin: die inspuitings, die skanderings, die vroeg deurry Kaapstad toe.

Daar was uiteindelik selletjies om mee te werk. “Twee jaar nadat ons die eerste dokter besoek het, is vier eierselletjies onder narkose uitgehaal. Ek het elke dag daarna gebel om te hoor hoe sake staan.” Die dokters kon drie eierselle gebruik nadat almal ná die bevrugting begin verdeel het.

Een van die drie het snaakse pigmentasie getoon, maar die ander twee was aan die groei. Vier dae later is die eierselletjies teruggeplaas. “Ek is saam teater toe toe dokter nommer vier die selletjies teruggeplaas het. Ek kon op die monitor die strooitjie binne-in my vrou sien en het die ontploffing duidelik op die skerm gesien toe die selletjies in haar uitgespuit is.” Schalk vertel dat hy by die huis nie eens toegelaat het dat Karlien giggel nie.

Sy het op haar rug gelê en so min moontlik gedoen. Tien dae nadat die selle teruggeplaas is, het sy weer ’n bloedtoets laat doen. “Ek het van die werk af gebel om die uitslag te hoor. Ek moes aanhou tot sy my lêer kon opspoor.

"Volgens die suster was Karlien se bloedtelling 54.

"Ek het nie geweet wat dit beteken nie, maar ek het net geweet ons is swanger.” Schalk het onmiddellik sy vrou gebel. Die mooiste donkerkop-dogtertjie, Bea, is later daardie jaar vir hulle gebore en sedertdien het Schalk en Karlien weer swanger geraak met hul tweede dogtertjie.

Dié keer was dit natuurlik, sonder enige hulp. Karla is nou al twee jaar oud. “Seer bly seer en ’n mens verstaan nie altyd hoekom sekere dinge met jou gebeur nie, daarom het ek nie regtig woorde vir iemand wat besig is om dieselfde paadjie te stap nie. Ek en Karlien weet hoe laag iemand in hierdie bootjie gaan draai en hoe jy maar net dapper kan glimlag vir elke goedbedoelde woord van aanmoediging.

As jy in die bootjie is waarin ons was, is al wat ek vir jou kan wens dat jou wolkie ook ’n silwer randjie sal hê en – meer as dit, dat jy heel anderkant sal uitkom.”