Waar kom The Playstation vandaan?

Ons is die afgelope vier jaar in die gesinsvermaak-bedryf en wou uitbrei en groei, maar het geweet dat ons nie al ons eiers in een mandjie kon hou nie. My man, Jonathan, het net ná my oudste, Carmon (5), se geboorte gedroom van ’n binnenshuise speelpark vir ouers van pasgeborenes waar hulle net kon ontspan, want ’n mens het so ’n slaaptekort, jy lyk nie altyd op jou beste nie en jy smag eintlik net na ’n bietjie “normaal”. Maar ons was jonk en bang en het gevoel so ’n projek is in daardie stadium te veel om aan te pak, en het die idee vir eers opsy geskuif, tot nou. The Playstation spog met ’n pragtige binnenshuise speelpark en ’n kafee (met heerlike eet- en drinkgoed vir ouers en kinders) wat oor die speelpark uitkyk sodat ma so bietjie kan ontspan terwyl sy die gratis wi-fi gebruik. Kinders jonger as twee het ’n aparte speelplek en gratis toegang, terwyl die ouer kinders alles van glybane, touloop, ’n klimmuur tot ’n doolhoof kan ontdek. Ons het ook ’n oppasserdiens teen ’n fooi, asook partytjie-opsies.

Watter rol speel ma wees in jou entrepreneurskap?

Ek dink besigheid is ’n deel van jou genetika. Dit is wie jy is: Jy is óf tevrede om vir iemand anders te werk, óf jy voel gedrewe om dit op jou eie te doen. Ek het argitektuur studeer en was mal daaroor, maar toe ek kinders gekry het, het ek gekies om ma te wees. Ontwerp en nuwe uitvindings het egter nog altyd my belangstelling geprikkel en ek het ’n man wat gedurig met nuwe uitvindings vorendag kom. Maar ons reis as entrepreneurs het werklik begin verander nadat ons kinders, Carmon en Jordon (3), bygekom het. Hulle inspireer ons en ons bou dinge vir hulle. Hulle is ons dryfkrag, ons deursettingsvermoë en ons krag!

Bepaal hulle hoe jy jou besigheid bedryf?

My kinders bepaal wie ek is as sakevrou, ma en in die samelewing. Hulle inspireer my tot uitnemendheid en om dinge buitengewoon en prettig vir hulle te maak. Ek vertrou dat die liefde en passie wat ons in ons onderneming stort ervaar word deur die ouers wat ons geriewe gebruik. Dis nie maklik om die balans tussen werk en ma wees te handhaaf nie, maar ons is geseënd om ’n besigheid te hê waar my kinders hulleself kan wees, kan speel, kan groei en leer. Hul optrede het ’n groot rol gespeel in die ontwerp van The Playstation. Dit is so ontwerp dat kinders kan leer terwyl hulle speel. Hulle moet konsentreer en self doelwitte en perke stel terwyl hulle vaardighede ontwikkel en emosionele groei gestimuleer word.

Die grootste uitdaging vir ma-entrepreneurs?

Tyd. As ma en sakevrou moet jy op baie plekke raakvat, daarom is tydsbestuur baie belangrik. Stel daaglikse en weeklikse doelwitte en wanneer jy by jou kinders is, skakel af en gee hulle 30 minute van onverdeelde aandag. Dit is baie beter as om vier uur by hulle te wees, maar heeltyd te werk.

Die lekkerste van entrepreneur wees?

Die uitdaging, die sukses en om te sien hoe ander mense dit geniet. Om glimlagte, laggies en opwinding vir die kleinspan te bring.

Die belangrikste eienskappe vir suksesvolle entrepreneurskap?

Die vrugte van die Gees: liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, selfbeheersing en nederigheid. Maar ook: dissipline.

Hoe bedien jy ’n nismark soos ouers en kinders optimaal?

Jy luister na hul behoeftes en begeertes en kry terugvoer van die mense wat jy bedien. Jy moet weet hoekom jy dit doen en die doel daarvan ten volle verstaan voor jy dit kan skep, onderhou en selfs kan verbeter.

As jy die horlosie kon terugdraai ...

Ek sou nie baie dinge anders gedoen het nie, maar as jy God nie eerste stel nie, is dit moeilik om te weet wat die regte ding is om wanneer te doen. In The Playstation is daar gedurig verandering wat betref wat ons volgende keer anders kan doen of wat ons in die volgende maande moet aanpas, maar as sakevrou was die moeilikste lesse wat ek moes leer oor vennootskappe, die regaspekte en die rekeningkundige sake.