Ek en Michelle kry gereeld vrae oor watter een van ons die strengste is. Dis voor die hand liggend dat ek saans, wanneer dinge meestal handuit ruk, iewers op ’n dorp met ’n konsert besig is.

Dis die slegter deel daarvan om met ’n sanger getroud te wees. My vrou en kinders gaan bitter min saam na enige konsert toe.

Dit is net nie in ’n kind se DNS om ’n uur en ’n half lank stil te sit en na ’n vertoning te luister nie, veral nie as die sanger jou pa is nie.

Kinders wil tuis bly. Hulle wil bad en eet en slaap en veilig voel. Michelle dink my lewe is fantasties. Want as ek die volgende dag tuis kom, hardloop die kinders so vinnig as wat hulle kan in my arms in.

In die langer as ses jaar van ouerskap het ek dit nog nooit nodig gevind het om streng dissipline toe te pas nie.

Ek moet erken ek het ’n onregverdige voordeel. Michelle sê sy wil ook ’n bietjie alleen weggaan, net om te voel hoe dit voel as iemand jou mis. 

In die langer as ses jaar van ouerskap het ek dit nog nooit nodig gevind het om streng dissipline toe te pas nie. Die kinders is net nooit buitengewoon stout nie.

Ja, hulle maak die huis ongelooflik deurmekaar en wil nie altyd opruim nie, of maak ’n lawaai terwyl Mika slaap, maar dis al. En niks daarvan is ernstige oortredings nie.

Ek wonder dikwels oor die skade wat te ernstige dissipline kan aanrig. ’n Kind is ’n kind. Liefde, aanvaarding en ’n lekker atmosfeer in die huis is belangrik.

Natuurlik moet ’n kind geleer en gelei word, maar met liefde, dink ek, nie met volgehoue rusie, konflik, pak slae, ’n geskree en snot en trane nie.

Net onlangs het ek vir die eerste keer my humeur met Jamie verloor. Dis ’n lang storie, maar in ’n neutedop het ek hom gevra om ’n geheim te hou.

Terwyl ek buite gesels, hoor ek hoe hy besig is om met die sak patats vorendag te kom.

Daar is ’n babateeparty vir my suster gereël en ek en Jamie moes haar gaan oplaai om soontoe te neem. Ek het hom die dood voor die oë gesweer as hy iets sê. Daar aangekom, antwoord ek ’n belangrike oproep.

Terwyl ek buite gesels, hoor ek hoe hy besig is om met die sak patats vorendag te kom.

Ek verloor my humeur, neem hom na buite, sak op my knieë, kyk hom in die oë en vertel hom hoe ongelooflik vies ek nou is.

Terwyl ek bulder, totaal buite beheer, sien ek hoe sy hele gesiggie begin bewe. Eers sy ogies, toe sy lip en toe sy ken. Hy wil my om die nek vashou, maar ek is op daardie oomblik so vies dat ek hom amper geen toenadering gee nie.

Terwyl dit gebeur, besef ek ek is besig om skade aan te rig. Ja, hy moes nie sy woord verbreek het nie, maar ek moes ook nie my humeur so vinnig verloor het nie.

Waar hy my nog altyd beskou het as iemand by wie hy veilig is, is hy skielik weerloos. Skielik ken hy my nie. Ek het hom toe in daardie oomblik styf vasgehou.

Die res van daardie dag was ek soos ’n zombie.

Ek was erg teleurgesteld in myself dat ek so vies geword het. Ek het net weer besef: Ek gee nie om wie wat vir my oor kinders en dissipline sê nie, maar ek wil nie die aanvallende, kwaai, streng pa wees vir wie my kinders bang is nie.

Eendag is eendag dat hulle wel iets verkeerd doen, en dan het hulle nie die vrymoedigheid om dit vir jou te sê of jou hulp of raad te vra nie.

By my moet hul veilig voel, selfs al het hulle iets verkeerd gedoen. Die res van daardie dag was ek soos ’n zombie. Ek is oneindig lief vir Jamie en ek wil hom nooit weer in so ’n toestand sien nie.

Daar is baie ander maniere van dissipline. En ’n ouer se voorbeeld dra die swaarste gewig. Ons kinders verdien liefde. ’n Oormaat daarvan.

Laat hulle veilig voel en aanvaar hulle nes hulle is, met al hul tekortkominge en stoutighede. Ek het net een kans om dit reg te doen, en dit is nou terwyl hulle klein en weerloos is.

Liefde, dis al.