In onlangse wetenskaplike navorsing is ’n merkwaardige ontdekking gedoen. Het jy al gewonder hoe jy weet dat jou kind siek is nog voor daar enige ooglopende simptome is, of oor hoe jy sy gedrag kan voorspel sonder dat jy weet hoekom? Dalk is dit omdat ’n deel van jou kind binne-in jou brein leef ...

Die wetenskap

Die wetenskapjoernaal PLOS ONE het ’n studie die lig laat sien wat daarop dui dat van jou kind se lewendige selle ook in jou brein kan voorkom.

Die band tussen ’n swanger vrou en haar ongebore baba is sowel liggaamlik as sielkundig. Die fetus is heeltemal van sy ma afhanklik vir beskerming, hitte, voeding en koestering.

Dit lyk nou of hierdie unieke en spesiale band lank ná geboorte voortduur en dieper is as wat die wetenskap nog ooit vermoed het, skryf die Amerikaanse neurowetenskaplike Robert Martone in sy artikel “Scientists discover children’s cells living in mothers’ brains” in die tydskrif Scientific American. “Die fisieke skakel tussen ma en fetus word daargestel deur die vrugwatersak, ’n orgaan wat uit selle van sowel die ma as fetus gebou word, en wat as katalisator dien vir die uitruil van voedingstowwe, gasse en afvalmateriaal. Selle kan deur die vrugwatersak tussen die ma en die fetus beweeg en hulle so in verskillende dele van die liggaam gaan vestig, insluitend die longe, skildklier, lewer, hart, niere en vel. Dít kan ’n wye invloed hê – van weefselherstel en kankervoorkoming tot die oorsaak van immuunafwykings.”

Die nuwe studie het gewys dat manlike selle in die brein van ’n vrou gevind is wat al dekades lank daar geleef het. Wanneer selle van twee afsonderlike mense gemeng word, noem ’n mens dit chimerisme. Dié verskynsel is jare gelede opgelet toe Y-chromosome gevind is in die bloed van vroue wat kort tevore die lewe geskenk het. Y-chromosome is geneties manlik en kon daarom net gedurende die swangerskap deur haar baba aan ’n ma oorgedra gewees het.

Daar is ook bewyse dat selle deur middel van borsvoeding van ’n ma na ’n kind oorgedra kan word. Selfs tweelinge kan selle in die baarmoeder uitruil en verstommend genoeg kan ’n ouer kind se selle wat in die ma se lyf agtergebly het, deur die vrugwatersak dring en hul weg na ’n nuwe ongeborene vind.

Wat die piepklein oorgedraagde selle presies in die ma se liggaam maak, is nog onduidelik, maar hulle is soortgelyk aan stamselle en daar is gevind dat hulle kan help om hartskade te herstel. Hulle kan deel van die senustelsel word en daarom ook moontlik deel van die ma se breinfunksie.

Hierdie ontdekking laat ’n mens wonder oor die definisie van moederinstink, wat omskryf word as die vermoë van ’n ma om te “weet sonder om te weet hoe sy weet” wat haar kinders nodig het om veilig en gesond te wees.

“Moederinstink is nie toeval nie,” sê die Amerikaanse joernalis en psigoterapeut dr. Laurie Nadel, wat die verskynsel al langer as 20 jaar bestudeer. Sy meen vroue is eiesoortig toegerus met ’n ingebore vermoë om probleme met die beskerming en versorging van hul kinders aan te voel en te voorspel. Sy sê ma’s se kennis word gevoer deur hul emosies, gedagtes, fisieke terugvoer, voorgevoelens en drome.

En hoewel dit dalk klink of moederinstink alle logika en rede omseil, is dit ’n verskynsel waarop wetenskaplike en mediese navorsers ál meer fokus. Die New York Times het al in Maart 2008 ’n artikel gepubliseer met die titel “Maternal instinct is wired into the brain” na aanleiding van Japannese navorsing waarin die breinpatrone van 13 ma’s met 16 maande oue babas bestudeer is. Die navorsers het MRI-skanderings van die ma’s se breinpatrone gedoen terwyl die ma’s na klanklose video’s van identies geklede babas (onder andere hul eie) gekyk het. Die babas het eers gelag en toe gehuil op soek na hul ma. Wanneer ’n vrou haar eie baba sien huil of lag het, was haar breinpatrone merkbaar anders as wanneer sy na die ander ma’s se babas met dieselfde emosies en behoeftes gekyk het.

Die Amerikaanse navorser dr. Jeffrey Loberbaum en sy span by die Mediese Universiteit van Suid-Carolina noem die aktivering van die moederbrein haar “moederlike stroombaan” wat ’n hele klomp dele van haar brein betrek. As ’n baba huil, word die moederbrein baie sterker en wyer geaktiveer as pa’s s’n, het hul studie gewys. Die sielkundeprofessor dr. Craig Kingsley en sy span by die Universiteit van Richmond in Amerika het ook bevind ma’s se brein verander en pas aan by die nuwe behoeftes wat moederskap meebring en dit stel hulle in staat om fyner en met meer deernis te reageer.

Die Scientific American het nog navorsing gepubliseer waarin die Amerikaanse dierkunde-professor Stephen Gammie verduidelik dat die hormoon wat kortikotropien (’n oordragstof wat met stres verbind word) vrystel, direk verbind kan word met ’n ma se instink om te beskerm. As ma’s baie kortikotropien het, val hul instink om te beskerm weg en hul vrees verhoog. Ma’s met min of geen kortikotropien is minder bang terwyl hulle nog aktief borsvoed en sal nie skroom om hulleself in gevaar te stel om hul kinders te beskerm nie. Ma’s met nageboortelike depressie het dikwels meer kortikotropien en dit verduidelik waarom dié toestand tot die verwaarlosing van kinders kan lei.

HOE SLYP JY JOU MOEDERINSTINK?

Sally Goddard Blythe is die internasionale direkteur van die instituut vir neurofisiologiese sielkunde in Engeland en deel die volgende raad: “Ma’s het hulp nodig en die beste ondersteuning wat hulle kan kry is om by ervare ma’s die vaardighede te leer om ouerskap te bemeester.”

Volgens haar lê die kuns nie daarin om van iemand anders te verwag om ’n baba se versorging oor te neem nie, maar om die ondersteuning te hê sodat jy jouself die tyd kan gun om self die versorging van jou baba waar te neem en stelselmatig die band tussen julle te ontdek.

“Wees daar vir ’n nuwe ma deur haar te wys wat die regte manier is om ’n baba tydens borsvoeding vas te hou, help haar kook, wasgoed was en om ouer kinders te vermaak. Dis hoe ma’s in die verlede hul instink geslyp het,” sê sy.

Sally meen moederinstink word gevoed deur liefde, fisieke aanraking, interaksie en deelname. “Dis gewoonlik sensories en emosioneel en het nie altyd die woorde om uit te druk wat dit weet nie. Ons ‘moderne’ wêreld ignoreer en onderdruk die rol van moederinstink tot ons eie ondergang.”

Sarah Ockwell-Smith, ’n bekende Britse ouerskapskrywer, som die saak mooi op: “Die wêreld moet begin om die wonderlike werk wat ma’s doen te begryp en waardeer en moet ophou om moederskap as ’n tweederangse loopbaan af te maak.” 

HET JY GEWEET?
Dit gebeur so dikwels dat ma’s tereg aanvoel hul kind is in gevaar dat dit volgens statistiek onmoontlik toevallig kan wees.