In ’n bedrywige huis in Randparkrif, Johannesburg, woon die Du Plessis-gesin: pa Jaco, ma Annelize en hul vier kinders, Frederick (7), Thomas (6), Isabella (3) en Christiaan (1). Annelize en Jaco is albei finansiële raadgewers en is al nege jaar getroud. 

Die egpaar het altyd geweet hulle wil kinders hê en die opgewondenheid was groot toe hulle hoor hul eersteling is op pad.

“Al my swangerskappe was lekker, hoewel ek in die eerste trimester heeldag naar was. Verder het ek elke oomblik daarvan geniet,” vertel Annelize.

Sy het lank voor die tyd al ’n geboorteplan gereed gehad en was oortuig dat sy natuurlik sou kraam. 

“My ginekoloog was egter bekommerd oor die grootte van Frederick se kop en omdat hy nie natuurlik in die kanaal gesak het nie. Hy wou veilig wees en het op ’n keisersnee besluit.

“Ek wou nooit ’n keiser gehad het nie – dit was nooit in my verwysingsraamwerk of geboorteplan nie,” vertel Annelize. 

Hoewel hulle baie bly was oor die geboorte, was sy hartseer oor die bevalling self omdat sy graag ’n natuurlike kraamproses wou beleef het. 

“Ek wou gehad het dat Frederick ook die natuurlike proses ervaar, dat die nodige hormone afgeskei word en hy deur die geboortekanaal moes beweeg. Dit gebeur nie met ’n keisersnee nie.” 

Haar liggaam het ook nie goed op die operasie gereageer nie en sy het epidurale bewerasie (epidural shakes) gekry. Haar bloeddruk en liggaamstemperatuur het drasties gedaal en sy het boonop gesukkel om Frederick te borsvoed. 

“Ons familie en nabye vriende was daar en ek het onwillekeurig begin ruk. Die pyn was ondraaglik. Ek het daar en dan besluit om nooit weer ’n keisersnee te kry nie. 

“Ek en narkose was nog nooit vriende nie en ek dink my lyf het daarom sleg op die epidurale verdowing gereageer.” 

Frederick was net ’n paar dae oud toe sy ma begin nalees oor normale geboorte ná ’n keisersnee (vaginal birth after caesarean oftewel VBAC). 

“Terwyl hy geslaap het, het ek gelees en alles oor die onderwerp verslind. Die meeste artikels en navorsing was Amerikaans. Ek het met my ses-weke-ondersoek die ginekoloog daaroor uitgevra. Ek dink nie hy het my toe ernstig opgeneem nie, maar ek was vasbeslote om met my volgende kinders normale bevallings te hê.” 

Frederick was nege maande oud toe Annelize met Thomas swanger raak. Sommer met die eerste sonarondersoek al het sy haar ginekoloog oor ’n natuurlike bevalling begin pols. 

“Ek en my man was albei mal oor dieginekoloog en ek het hom behoorlikgesmeek om ’n natuurlike bevalling te doen.” 

Die ginekoloog het ingestem om die pad saam met hulle te stap, al het hy hulle telkens probeer oorreed om liewer ’n keiser te kies.

Ek het begin ruk en die pyn was ondraaglik. Ek het daar en dan besluit om nooit weer ’n keisersnee te kry nie.

Daar is ’n paar voorwaardes vir ’n VBAC, sê Annelize. 

Medici beveel aan dat daar twee jaar tussen babas moet verloop sodat die keiserwond goed kan genees (iets wat nie in Annelize se geval gebeur het nie), jy moet vanself begin kraam, geen induksie mag gedoen word nie, jy mag nie pynmiddels neem nie en jy mag nie eet of drink terwyl jy kraam nie ingeval ’n noodkeisersnee uitgevoer moet word.

“My water het die Sondagoggend in die moederkamer by die kerk gebreek en Thomas is die Maandagoggend in die hospitaal gebore. My ginekoloog het vir die vroedvrou gesê ek moet elke uur 1 cm ontsluit. Dit het nie gebeur nie, maar my kon­traksies was sterk genoeg om voort te gaan. 

“Met Thomas was ek langer in kraam as met die ander twee en dit was natuurlik vir my vreemd, want ek het nie geweet wat om te verwag nie. 

“My man het deurentyd my rug gevryf, wat met elke kontraksie ’n bietjie verligting gebring het. Ek het ook op ’n oefenbal gewip en in ’n warm bad gesit. Thomas het ’n bietjie skuins gelê en reg aan die einde het die dokter ’n verlostang gebruik om hom uit te haal.”

Hul dogtertjie, Isabella, se geboorte was die maklikste, sê Annelize. 

“Dit was steeds baie pynlik, maar die kraamproses was korter. My water het die aand gebreek terwyl ek ’n slaaptydstorie vir die twee seuns gelees het en sy is die volgende oggend gebore.”

Hul jongste, Christiaan, se geboorte was weer ’n ander ervaring. 

“Ek het die middag op die pawiljoen by die krieketoefening gesit en vir die ander ma’s vertel die baba is amper op pad. 

“My ma was by ons, want sy het van Keurboomstrand in die Suid-Kaap af gevlieg om die geboorte by te woon en met die ander drie te help. 

“Ek het die aand van die bank af opgestaan om kos te maak en sy het na my gekyk en gesê: ‘Christiaan is op pad.’ ” 

Dit was nie ver van die waarheid af nie, want Annelize het toe reeds ligte kontraksies gehad.

“Ek wou nie wolf skree nie, maar het gevoel asof ek weer moet gaan sit – en toe breek my water.”

Ná drie spruite was die gesin al goed in kraam gekonfyt en rustiger kon dit nie gaan nie.

“My man was in die motorhuis besig om ’n nuwe hek vir ons huis te bou en hy het dit eers klaargemaak, geïnstalleer en toe gaan stort en gemaklik aangetrek. Hy het sy draftekkies aangetrek – want soos hy sê is hy immers die een wat heeltyd op sy voete is – ons sakke gevat en ons het gery.” 

Twaalfuur die aand was hulle ná ’n rits toetse in die kamer. 

Nadat my water met die vierde baba gebreek het, is die hek eers klaar gebou en opgesit voor ons hospitaal toe is!

“Die personeel het gesê ons moet rustig wees en hulle sou weer teen 05:00 kom kyk hoe ver ek ontsluit was. Teen 04:00 het ek hulle geroep en gesê die baba kom.”

Haar man het vir haar ’n bad getap, maar sy kon weens die pyn nie die bad haal nie. 

Die ginekoloog is ontbied, maar sy was in daardie stadium net 8 cm ontsluit. 

Die dokter het gesê dat Chris­tiaan ’n sterrekyker is, wat beteken dat hy boontoe pleks van ondertoe kyk. 

“Ek was bekommerd daaroor, maar die dokter het my gerusgestel dat die baba in die kanaal kon draai – en selfs al sou hy nie draai nie, kon hy so gebore word; dit sou net seerder wees. 

”Hy het my aangeraai om op die pilates­bal te wip sodat ek ten volle kon ontsluit, maar dit was baie seer.” 

Christiaan het omtrent drie keer probeer draai, maar uiteindelik is hy neus in die lug gebore. 

“Dit het soos ure gevoel, maar ná die geboorte was die bad wat my man vir die kontraksies getap het, nog warm. 

“ ’n Normale bevalling is so fantasties, want as die baba eers uit is, is al die pyn iets van die verlede. Ek het met my eersteling se geboorte ses weke lank pyn gehad.”

Annelize sê die ervarings van natuurlike geboorte was rustiger as die keisersnee.  

“ ’n Mens klim reg ná die geboorte in die bad terwyl die personeel die baba weeg en daar heers ’n lekker kalm atmosfeer. Dan gaan jy, Pappa en die baba na jou kamer toe. 

“Reg ná my normale bevallings is my baba op my bors geplaas en hulle het dadelik begin drink. Dit was ’n fantastiese gevoel. 

”Ek het wel met al drie normale bevallings ’n episiotomie gehad, maar dit was glad nie seer nie. Ek het ’n paar soutbaddens geneem en die steke het self opgelos.” 

Annelize se raad

“Ek beveel beslis ’n VBAC vir ander vroue aan. Soek ’n ginekoloog wat aan boord is en doen soveel moontlik navor­sing daaroor. 

“Ek het gedurende my swangerskappe rustige oefeninge gedoen om my goed op die kraamproses voor te berei. Swem was my gunsteling-oefening. 

“Ek ken vroue wat fantastiese keiserervarings gehad het en dit was deel van hul geboorteplan. Dit was egter nooit iets wat ek wou gehad het nie. Die normale bevallings het my so gelukkig gemaak. Ek kon ná twee dae sonder pyn huis toe gaan en kon dadelik my ander kinders optel en versorg. Selfs die borsvoeding het baie natuurliker gebeur.” 

Keisersnee vs. vbac
Keisersnee vs. vbac