Ons het nooit beplan om in Singapoer met ’n gesin te begin nie. Maar ek en Lionel het nou drie lieflike klein mensies – Zoey (8), Lana (5) en Ezra (3) – en ons geniet dit om hulle hier groot te maak.

Zoey is baie lief vir lees en bak en wil graag eendag ’n hond hê (o, wee). Lana is ’n bondel pret en giggels. Sy is mal oor drukkies en is baie bedagsaam. Ons jongste, Ezra, is weer ernstig, dog spelerig, en is baie lief vir treine en spoggerig aantrek!

Ek is Singapoer toe verplaas deur die multinasionale maatskappy waarvoor ek vandag nog werk. Dit het begin as ’n IT-pos, maar ek het na aanvraagbeplanning en vooruitskouings geskuif.

Lionel het toe ook werk gekry by ’n ander multinasionale groep en is ook nog steeds by hulle. Hy het van aankope tot ’n rol in digitale transformasie geskuif.

Toe ons die lewensveranderende besluit gemaak het om Suid-Afrika te verlaat, was die plan om vir twee of drie jaar lekker te reis en alles te geniet wat Suidoos-Asië bied voor ons sou terugkeer huis toe om met ’n gesin te begin.

Maar soos wat dikwels gebeur, moes ons ons weldeurdagte plan opsyskuif – want vier maande ná ons aankoms in Singapoer het ons die goeie nuus gekry dat ons swanger is.

Ons was aanvanklik op ons senuwees oor hoe om die regte dokters en hospitaal te vind, maar die plaaslike inwoners sowel as die ekspat-gemeenskap het ons baie gehelp.

Ons het ’n lieflike, kleiner hospitaal naby die huis gekies wat op vroue en kinders fokus. Die gesondheidsorg was uitstekend – so goed dat ons die daaropvolgende tweetjies ook daar verwelkom het.

Die koste van ’n geboorte word hier meestal nie deur standaard- mediese fondse gedek nie, of jy nou self betaal en of die maatskappy betaal. Die koste is taamlik hoog, selfs by openbare hos- pitale, maar die sorg was werklik uit- stekend.

Ek was gelukkig genoeg om met elkeen van my kinders lank af te kry. Die regering sorg vir 16 weke kraamverlof en ek kon tussen drie en vyf maande ekstra met elk van die kinders neem.

Al my bestuurders was in hierdie tyd baie ondersteunend.

Een van die swarighede om ’n jong gesin oorsee te wees, is dat ’n mens so ver van jou familie af weg is. Ons het regtig daarop gefokus om ’n gemeenskap te bou en vriendskappe te smee.

Ons is geseën om deel te wees van ’n wonderlike kerkgemeenskap wat vergesel word van tannies, ooms, niggies, nefies en grootouers en al die warm liefde wat dit behels.

Ons het daarby ’n inwonende helper kon aanstel. Dis algemeen hier, soos in die res van Suidoos-Asië, en vir werkende ouers beteken dit baie.

’n Pertinente vraag was of ons ons in die plaaslike kultuur sou inleef of ons meer soos ekspats gedra wat net tydelik in ’n ander kultuur wortelskiet.

Vir ons het dit neergekom op ’n besluit tussen ’n plaaslike skool en ’n internasionale skool vir ons kinders.

Die plaaslike skole handhaaf ’n hoë standaard en spog met uitstekende akademiese resultate.

Ons het egter op ’n internasionale skool besluit, want dis moontlik dat ons in die toekoms op ’n ander plek as Singapoer sal werk en daar is ook die sterk moontlikheid dat ons eendag terug huis toe sal keer. (Ons wil!)

Ander maak weer die besluit op grond daarvan of hul werk ’n spesifieke skoolpakket bied of nie.

Ons het hard daaraan gewerk om seker te maak dat ons kinders weet hulle is Suid-Afrikaans en ons kweek ’n liefde vir Suid-Afrika by hulle.

Ons het ook hard daaraan gewerk dat hulle ’n liefde en waardering het vir die kultuur waarin hulle grootword.

Ons vier die Chinese nuwejaar met cheongsams (tradisionele rokke) en hongbao (rooi pakkies of koeverte vol geld wat vir die kinders gegee word).

Ons sien uit na ’n maankoekfees in die herfs, waar ons maankoek eet en lanterns maak.

Voor Covid-19 het ons wyd in die streek gereis, ons kinders aan baie verskillende kulture bekendgestel en hul horisonne onmeetbaar verbreed.

Ons is werklik geseënd met ons ervaring hier in Singapoer en sien daarna uit om eendag weer huiswaarts te keer na die lewendige, vreugdevolle energie van Suid-Afrika.