Ek en my gesin woon al 12 jaar hier in Hertfordshire, Engeland. Dit is omtrent ’n belewenis om met so ’n groot gesin ver van al ons familie af te woon.

Twaalf jaar gelede het net ek en Rohan bang en onseker, maar tog ook opgewon­de, vir ons ’n plekkie in Engeland kom oopkrap: ek met ’n pos as ’n hoërskool-wiskunde-­onderwyseres en hy op soek na werk in ’n IT-rigting. Die Here se sorg was so duidelik in die rig van ons paadjie.

Ek onthou hoe ek en die splinternuwe pappa verslae op die bank gesit en met groot oë na die plusteken gestaar het. En hoe die eerstekeer-oupa sy bes probeer het om hierdie ge­boor­te mis te loop. Ouma is al weke hier om met die bevalling te help, maar sussie het haar eie tyd.

Ons bly in ’n eenslaapkamer-gehuggie en beplan ’n tuisgeboorte. Nege dae ná haar verwagte datum is Annike eindelik op pad. Arme oupa is teen dié tyd al hier en weet nie wat om met homself aan te vang nie!

Rohan was besig om werk toe te stap toe ek hom bel met die nuus van die tweede plusteken. Tot groot vermaak van Elijah kan Rohan steeds die presiese plek uitwys waar hy was toe hy die nuus gehoor het. Vanweë visumveranderings moes onsterug Suid-Afrika toe, waar boeta opNuwejaarsdag in Pretoria gebore is.

Die derde plussie is dof, maar daai dowwe plus het sy opwagting agt maande later gemaak. Dit was ’n lang geboorte.Annike en Elijah wou elke halfuur weet: “Nou wat neem so lank?”

Toe die vroedvrou vir Josiah weeg, besef ons wat so lank geduur het. Sy gryp die foon: “Raai hoe groot is die baba wat ek nou net by die huis gevang het?” Josiah laat die skaal op 5 kg kreun. Ouma stuur vir Rohan om McDonald’s te gaan koop en ons vier net daar in die kamer fees.

Vroeg een Saterdag maak ek vir Rohan wakker met die nuus van die volgende plussie. Hoe dra ’n mens dit oor? Die Ingelsmanne verrek al klaar hul nek wanneer ons luid in die Boeretaal verbymarsjeer.

Hierdie plus was pienk en ’n week laat. Een nag raak ek bekommerd omdat ek nie vir Roné voel beweeg nie. Ons vroedvrou raai ons aan om hospitaal toe te gaan. Terwyl ek in die ry wag, oorval die kraampyne my. Die vroedvrou beveel aan dat ek  kraamsaal toe gaan, want vierde kinders kom vinnig. Ek pleit dat ek huis toe wil gaan, en sy vlieg met my in die rolstoel by die gange af. Terwyl my man voet in die hoek sit (in die reën) om die huis te haal, lag ek stilletjies. Hoeveel mense ken ek wat net voor die bevalling wég van die hospitaal af jaag?

Die vroedvroue ontmoet my by die huis en Roné maak kort daarna haar opwagting. Die kinders word een vir een wakker om die nuwe medespruit te ontmoet. Ouma bring pizza en sjokolade en ons hou ons eerste middernagfees as ’n gesin van ses op die bed.

Dit was ’n vrolike Saterdagoggend toe ek Rohan as die vader van vele verklaar. Net daar bel ons al die fa­milie in Suid-Afrika. Almal dink ons is kêns, maar is saam met ons opgewonde oor die nuwe plus.

Ouma is weer op haar pos. Hierdie keer wag daar egter ’n ander verrassing op haar. Die kleinste boet is haastig en die vroedvrou is laat. Rohan kalmeer my. Ouma kyk na Rohan. Hulle was darem albei al vier keer hierby betrokke. Die vroedvroue daag letterlik ’n minuut te laat op en is baie afgehaal. Al sewe van ons sit in die middel van die nag op die bed en eet koekies terwyl ons vir Gideon bewonder.

Ons jongste en sesde kind, Judah Johannes, is in Februarie 2020 dood gebore. Hy is in ’n kerk op ’n heuwel hier begrawe.

Ons sewe lei ’n goeie lewe. Ek gee vir die kinders tuis skool. Ons ken ’n groot groep gesinne wat ook tuisskoling beoefen en saam met wie ons gereeld kuier. Die groep sluit mense in van Egipte, Amerika, Duits­land, Nigerië, Roemenië, Nederland en ook baie Suid-Afrikaners. Ons doen wetenskapekspe­ri­mente, lê wiskundige begrippe vas, beoefen kuns en leer andertale. Ons leer op die oomblik Spaans en Hebreeus. Ek reël ook elke maand ’n uitstappie vir die groep.

Dis vir ons belangrik dat ons kinders Afrikaans kan praat sodat hulle gemaklik met die oumas en oupas kan kommunikeer.

Ons gaan graag museums en bib­lio­teek toe. By die museums bied gekwa­li­fi­seerde onderwysers lesse aan vir skole – en dis gratis.

Ons bly op ’n klein dorpie en geniet die plattelandse lewe. Ons stap met die voetpaad­jies langs, voer die perde langs die pad en plas met ons wellies in die stroompies. Die kinders ry fiets of met poegies.

Ons het ook ’n appelboom en ’n reuse pruimboom in die tuin. In die herfs gaan ons uit met bakke om swartbessies te pluk waarvan ons heerlike crumbles maak.

Maar niks kan ons familie vervangwat so ver is nie. Ons verlang en probeer om ten minste elke twee jaar in Suid-Afrika te kuier. Verder Skype ons, kletsoor WhatsApp en met genoeg gesels-minute praat ek gereeld met almal in Suid-Afrika.