’n Huishouding met twee kleuters is nie altyd grappies nie. Daar is volop stry en baklei, kerm en kla, grille en geite, loopneuse en laat nagte. Maar een ding is seker – daar is ook oorgenoeg rede om te glimlag … en gereeld hardop te lag. Ek het onlangs ’n skakel na ’n artikel op Psychology Today raakgeloop oor navorsers wat bevind het honde-eienaars lag meer gereeld as ander mense. (Ek weet nie of hulle die swetterjoel snaakse video’s van katte op YouTube buite rekening gelaat het nie.) Dadelik het ek gewonder of iemand al navorsing gedoen het oor hoeveel keer per dag die ouers van kleuters gemiddeld glimlag, grinnik, grynslag of sommer onbeskaamd hardop skater. Moenie ’n fout maak nie, op ’n goeie dag kan Mia (6) en Emma (4) se streke my en Elize ook maar goed teen die mure uitdryf. Maar ek dink nie daar gaan ooit ’n dag verby sonder dat ons vier mekaar laat lag nie. Albei ons meisiekinders het skynbaar ’n goeie verbeelding en ’n sterk aanvoeling vir die dramatiese gekry. Vroeër die jaar kom Emma een oggend uit die kamer gestap, hare in alle windrigtings verslaap, babapop in die stootwaentjie en sonbril op die gesig. Duidelik het sy ’n rowwe nag in Droomland agter die rug. “My man wil nie meer met my trou nie,” verklaar sy dramaties. “Want ek was te laat om te trou. Maar ek het my kaart,” sê sy en hou ’n stuk karton troefkaart-trots in die lug. “My geldkaart. Ek gaan dit vir hom gee en dan gaan hy weer met my trou.” En so deur die lagtrane neem ek my voor om binnekort gesprekke oor girl power te begin voer. Wanneer hulle nie besig is om die Derde Wêreldoorlog te voer nie, kan die twee sussies mekaar ook lekker laat lag. Mia is mal daaroor om lang gesprekke met haar speelgoedselfoon te voer. Dié geselsies is natuurlik veel meer pret wanneer Emma saamspeel. Onlangs het Emma egter besluit sy weier om verder saam te speel as Mia haar nie as Snowflake von Bubbles (fladder jou wimpers elke keer as jy dit sê) aanspreek nie. Glo my, dis nie maklik om na Mia en die hoogdrawende me. Von Bubbles se lang gesprekke te luister sonder om te proes van die lag nie. En laat ons nou maar eerlik wees, soms sorg die bakleiery ook vir ’n glimlag of twee. Mia is die tipiese ousus wat altyd beter weet, daarvan hou om áltyd reg te wees en haar kleinsussie graag reghelp. “Mamma!” kom klik sy. “Emma het #@$% gesê! Néé, daar sê ek dit ook!” Emma is natuurlik nie altyd ewe gedienstig met dié ousus-houding nie – en sy weet presies hoe om haar ousus se kwaadwordknoppies te druk. Oor die lirieke van liedjies is al vele veldslae in die Jacobs-huis gevoer. Nou die dag sit en sing Mia ewe ingedagte: “Hasie, hoekom is jou stert so kô-ô-ô-ôrt?” Emma kry daardie kenmerkende skoorsoekglimlaggie van haar en trek los met: “Hasie, hoekom is jou stert so la-a-a-ank?”
Mia: “Nee, Emma, kort!”
Emma: “Lánk.”
Mia: “Kórt.”
Emma: “LANK!”
Mia: “KORT!”
Oorlog en ’n tranedal. Maar weliswaar die soort waarvoor ma en pa sukkel om hulle lag te hou. En van liedjies gepraat: Die anderdag sing die aanbieders op CBeebies ’n bekende liedjie. Skielik sit Mia regop, oë groot soos pierings. “Pappa!” laat hoor sy, sigbaar geskok. “Hulle het nou net gesing my BODY lies over the ocean!” Toe ek en Elize ’n ruk gelede ’n aandjie uit beplan, deel Mia (wat van kleins af ’n heilige ontsag vir wolwe het – dankie, Rooikappie) vir Emma geskok mee: “Hulle gaan vanaand luister hoe iemand sing – iemand met die naam Wolfspoeg!” (Nie dat ’n mens verbaas behoort te wees dat ’n rockgroep soos Spoegwolf se naam die aandag trek nie.) Elkeen van hulle het haar eie manier van lékker lag. Mia gee so ’n krop-van-die-maag-kekkellaggie wat haar oë laat toetrek. Emma, weer, het so ’n vreemde, hoeserige ggggh-laggie wat haar twee kuiltjies sommer ekstra diep laat induik. En daar is vir hulle pa niks op die aarde so lekker soos om hulle te hoor lag en hulle te láát lag nie. Die geheim om Mia te laat lag, is ’n maagkielie, snaakse rympies of ’n lekker jaagspeletjie. Emma se heel beste kielieplekkie sit onder haar arm, en enigiets wat die woord “boude” of “boemie” bevat, is vir haar eindeloos snaaks. (Of wanneer mamma begin wenkbroue lig omdat die toilethumor handuit ruk, gebruik ons bloot “boemie” in plaas van “boude” vir dieselfde effek.) Ek wonder partykeer wat die twee eendag van hulle kinderdae sal onthou. ’n Mens wonder dit veral wanneer jou humeur die slag onnodig kort is, wanneer dit voel of jy net die heeltyd raas en dreig, of wanneer jy te moeg is om te speel of aandag te gee. Dan hou ek maar duimvas dat hulle veral aan die gelag sal terugdink … en dit met ’n glimlag sal onthou.