Gaan sy eerder met ouma bind?

akkreditasie

Vraag:

My skoonma sien vyf dae per week na my eenjarige om terwyl ek werk. My dogtertjie is party dae nie eens bly om my te sien wanneer ek haar gaan afhaal nie. Sal my kind liewer vir my skoonma wees as vir my omdat sy haar so baie sien? Hoe kan ek binding tussen ons aanmoedig?

Antwoord:

Jou kind se grootste ontwikkelingsbehoefte tans is warm en betroubare liefde. Haar grootste begeerte is om veilig, verseker en gelief te voel. Babas op dié ouderdom het nie die vermoë om hierdie gevoel van veiligheid vir hulleself te skep nie en vra daarom dat hul versorgers dié warmte en veiligheid verskaf.

Wees gerus dat sy altyd jou, haar mamma, as haar primêre versorger sal beskou, veral as jy die band met haar aanhou koester. Jou rol as ma is dus om haar te help ontwikkel deur vir haar ’n veilige en warm omgewing te skep.

Die eerste ding wat ek vir jou wil sê, is: welgedaan. Jy het dit reggekry om vir jou liefkind bedags ’n veilige omgewing te skep by haar ouma waar sy kan ontwikkel en groei in ’n omgewing waar sy liefde ervaar. In ons moderne tyd is dit ’n baie moeilike taak en jy is ook besig om vir haar te sorg deur hierdie omgewing te skep.

Ten tweede is dit belangrik om na te dink oor jou eie vrese en emosies. Hoewel dit absoluut normaal is om so te voel, moet jy jou afvra of dit op lang termyn ’n invloed op jou verhouding met jou kind sal hê. Die hoeveelheid tyd wat jy saam met haar deurbring, is nie so belangrik soos die gehalte van die saamweestyd nie.

Jy het dus volle beheer oor die band wat jy met jou kind kan vorm en as jy daarop gefokus bly, sal ouma se band met haar nooit met joune vergelyk kan word nie. ’n Kindjie se ingebore instink is om ’n primêre hegte band met haar mamma te vorm.

Hier is 'n paar wenke om jou te help om die band te versterk:

  • Haar kommunikasievermoë en hantering van emosies is nog baie onderontwikkeld. Sy gaan dus op jou staatmaak om haar behoeftes raak te sien en te vervul.
  • Vra jou af: Wat is my kind besig om vir my te vertel? Wat is haar behoefte? Wat kan ek leer van haar gedrag as ek dinge uit haar oogpunt sien?
  • In ons gejaagde lewe is ons tyd saam met ons kinders dikwels dieselfde tyd waarin ons kos maak, TV kyk, wasgoed was of werk. Maak dus gereeld plek in jou roetine waar jy tyd saam met jou kind deurbring en net op haar fokus, sonder ander invloede.
  • Kommunikeer aan jou kind dat jy op haar behoeftes fokus. ’n Geruste en gehegte kind is ’n kind wat voel dat haar behoeftes korrek deur haar ma verstaan en vervul word.
  • Maak kontak met haar deur saam met haar te rol, te speel, te sing en te verken.
  • Maak gereeld oogkontak en wys met jou gesigsuitdrukking, stemtoon en aanraking dat jy warmte uitstraal en betroubaar is.
  • Jou kind beskou jou as ’n bron van veiligheid en verbintenis en as jy te gespanne, gefrustreerd of besig is om kalm en daar te wees vir haar, doen jy die band tussen julle skade aan, asook haar ontwikkeling en gevoel van veiligheid. Werk dus met jou eie stres en emosies en wees ’n bron van kalmte.
  • Gesels met jou skoonma en stel die nodige grense om seker te maak dat jy die rol van primêre versorger in jou kind se lewe behou.

Fokus op die goeie dinge wat hierdie reëling vir jul gesin bied. Die oorvloed liefde wat jou dogtertjie by jou en jou ma kry, kan haar help om in ’n standvastige en goed aangepaste kind te ontwikkel. Vier jou rol as ma en die veiligheid wat jy reeds vir jou kleinding verskaf!

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees