Van die oomblik dat jy hoor daar groei ’n klein mensie binne-in jou, droom jy van die mooiste babakamer en die oulike stootwaentjie waarvan almal praat. Dan het jy nog nie eens aan al die uitgawes rondom ginekoloogbesoeke of hospitaalverblyf gedink nie.

Om kind groot te maak, verg dat julle fyn beplan en geld wys bestee. Gelukkig is daar baie maniere waarop nuwe ouers hul rande kan rek, van klein besparings wat saam-saam groot word tot eenmalige afslaggeleenthede. Dit maak nie saak hoe ver swanger jy is nie, dis nou die tyd om finansieel slim te dink.

GELDBEPLANNING

Finansiële beplanners beveel aan dat julle in die loop van die swangerskap jul beleggings, bates en skuld onder oë neem. Stel nuwe doelwitte vir die kort, medium en lang termyn op.

Hier is 11 idees vir goeie finansiële beplanning:

1. Begin in die swangerskap al minder luukshede aanskaf om geld te spaar vir jul kleinding se koms.

2. Stel vas wat jou werk se beleid oor kraamverlof is en hoe dit jou sak sal raak. Kry jou werkloosheidsversekeringsvorms betyds.

3. Stel ’n nuwe begroting op. Hersien jul doelwitte en begroting deurgaans.

4. Bou aan ’n noodfonds. Dit kan ’n bedrag wees wat gelyk is aan drie maande se inkomste ná belasting en aftrekkings. Of stel ’n doelwit dat die noodfonds minstens ses maande se minimum uitgawes moet dek.

5. As julle jul nuwe doelwitte kan bekostig, kan julle bepaalde dinge gaan koop en beleggings begin uitneem. Begin met ’n belegging vir kapitaalgroei.

6. Neem genoeg lewens- en ongeskiktheidsdekking uit.

7. Kyk vroegtydig na studieplanne of spaar maandeliks vir jou kind se opvoeding. Werk uit wat opvoeding van kleuterskool tot naskoolse opleiding gaan kos – ’n makelaar sal daarmee kan help. Hierdie berekening moet jaarlikse kosteverhogings insluit. ’n Kontant-spaarrekening by die bank is voldoende. Oorweeg ’n meer formele effektetrustrekening vir tersiêre uitgawes.

8. Maak seker jy het goeie mediese dekking.

9. As jou kind eers gebore is, vra oupas en oumas om eerder geld as geskenke te gee. Leer jou kind van kleins af om te spaar.

10. Onthou om jou testament aan te pas. Beskerm die kapitaalgroei van bates in ’n trust terwyl jy nog lewe. Jy kan ook ’n trust vir elke kind skep, en onthou om ’n trus-tee aan te stel. Dié persoon sal beheer hê oor die geld tot jou kind ’n seker ouderdom bereik.

11. Oorweeg dit om ’n belastingvrye spaarrekening in jou kind se naam oop te maak. Dit is ’n goeie belegging wat jou kind later kan gebruik om ’n eerste motor te koop of die deposito op ’n eiendom te betaal.

3 geldslim-wenke
  1. Spaar vir môre en koop maar liewer vandag ’n bietjie minder.
  2. Moenie geld op onbelangrike goed mors nie – spaar liewer jou geldjies vir die belangrike dinge.
  3. Moenie geld spaar op dinge wat jy nie regtig nodig het nie en dit dan blaas op goed wat jou baba ook nie regtig nodig het nie!

TERWYL DIE MAGIE GROEI

1. Moenie kraamdrag koop voor jy dit nie werklik nodig het nie. Hoewel kraamdraginkopies lekker en opwindend is, kan jy baie spaar deur klaar te kom met dit wat reeds in jou kas is, of deur kraamdrag te leen. Daar is ook deesdae talle tweedehandse kraamdragwinkels.

2. Skaf ’n maagband aan en spaar op kraamdrag. Dit is ’n rekbare materiaalband wat jy om jou heupe dra sodat jy steeds jou gewone broeke en rompe kan aantrek, al kry jy dit nie meer toegerits nie. Soek ook na ’n rekband wat die dratyd van jou broeke verleng. Dit haak om die knoop van jou broek en sorg dat jou broek ’n paar sentimeter breër rek.

3. Jy sal waarskynlik groter bra’s tydens en ná jou swangerskap nodig hê. Moenie dubbel koop nie: Pleks daarvan om nou groter bra’s aan te skaf en later voedings- bra’s te koop, kan jy voedingsbra’s dra terwyl jy swanger is.

4. Moenie vooraf geld uitgee aan spesiale borsvoedingsbloese nie. Maak eers seker jy gaan aanhou borsvoed.

5. Dit druis waarskynlik teen jou nesskropinstink in, maar wag tot ná jou ooievaarsparty voor jy babagoedjies koop.

6. Gebruik jou ooievaarspartytjie tot jou voordeel. Gee vir die organiseerder ’n lys benodigdede soos doeke, klere, en komberse. Gebruik ook babaregisters om seker te maak jy kry presies wat jy nodig het. Voeg doeke daarby en vra vir groter groottes. Jou baba sal dalk net ’n week of twee lank in die pasgeborene-doeke pas voor hy te groot daarvoor is.

7. Hou en gebruik afslagbewyse. Mediese skemas en hospitale gee dikwels pakkies aan swanger vroue met afslagbewyse vir byvoorbeeld doeke. Benut dit.

8. Jy hoef nie voor die geboorte reeds alles te koop wat jou kind in sy eerste jaar nodig gaan hê nie. Kry aanvanklik net die absoluut noodsaaklikste benodighede vir jou baba. Natuurlik wil ’n mens voorbereid wees en genoeg van alles hê, maar jou baba se vel kan dalk sleg op ’n spesifieke boudjieroom reageer, of hy kan weier om fopspeen te suig. Koop liewer net een van elke ding wat jy nodig het en bou jou voorraad op sodra jy weet wat vir jul baba werk.

9. Pasop vir bemarkingsfoefies en moenie skuld maak nie. Nuwe ouers is gek na allerhande babakatoeters. Vra eers ander ma’s wat hulle regtig gebruik het.

10. Beplan jy meer as een kind? Koop dan al die duur items in ’n geslagsneutrale kleur. So sal jy uiteindelik baie rande spaar.

11. Vries soveel moontlik tuisgemaakte etes voor D-dag. Jy gaan in die eerste weke nie tyd of lus hê om te kook nie, en wegneemetes en geriefskos kan jou sak ruk. Tuisgemaakte etes is boonop meestal gesonder.

3 Wenner-koopwenke
  1. Moet nooit ooit probeer bespaar op belangrike dinge soos ’n motorstoeltjie nie. Jou kind se veiligheid kom eerste. Belê in ’n goeie motorstoel wat jy van geboorte tot sewe jaar kan gebruik. Hierdie stoeltjies kan agtertoe en vorentoe kyk na gelang van jou baba se ouderdom en gewig.
  2. Inenting is gratis by klinieke en apteke wat staatsvoorraad aanhou. ’n Minimale inentingsfooi word hier gehef.
  3. Hou jou oë oop vir goeie stootwaentjies wat in die einde van ’n reeks val. Wanneer ’n nuwe model bekendgestel gaan word, hou handelaars daarvan om van ou voorraad ontslae te raak en gee hulle dikwels afslag daarop.

DIE GEBOORTE

1. Vra gerus of daar afslag is as jy die dokter of vroedvrou vooruit betaal. Sommige gesondheidsverskaffers bied tot 25 persent afslag as jy hulle teen 30 weke ten volle betaal.

2. Kontant bly koning. Jy kan dikwels afslag beding as jy die hospitale en dokters vooraf met kontant betaal.

3. Stel vas wie watter kraampakket het as jy nie ’n mediese fonds het nie, maar by ’n privaat hospitaal wil kraam.

4. Gaan so gou moontlik ná die geboorte huis toe. Drie dae is die standaardverblyf in ’n privaat hospitaal ná ’n normale geboorte, maar as jou dokter tevrede is, is daar geen rede waarom jy nie ná ’n dag huis toe kan gaan nie. Elke ekstra dag in ’n privaat kraamafdeling jaag jou ’n paar duisend rand meer uit die sak.

5. Stel vas of daar ’n verskil is tussen die koste van ’n privaat en gedeelde kamer. Jy sal in elk geval ’n toeloop van besoekers en verpleegsters in jou kamer hê en die privaatheid van ’n enkelkamer is dus nie gewaarborg nie. Dit is eintlik lekker om die ondersteuning van iemand langs jou te hê, al is dit net die wete dat jy nie alleen is nie.

6. As jy nie omvattende mediesefondsdekking het nie of dalk glad nie ’n mediese fonds het wat vir ’n privaat hospitaal opdok nie, kan jy gerus die veel goedkoper staatshospitaalopsie oorweeg. Of kies ’n tuisgeboorte – ’n mediese kundige moet jou net ondersoek en seker maak dat die gevaar van komplikasies klein is.

Getty Images

NA BABA SE KOMS

1. Moenie skaam wees om produkte tweedehands te koop of van vriende of familie te aanvaar nie.

2. Borsvoed as jy kan. Baie is al oor die voordele van borsmelk geskryf. Die Wêreldgesondheidsorganisasie beveel eksklusiewe borsvoeding vir die eerste ses maande aan en dan verdere borsvoeding tot jou baba twee jaar oud is en selfs later. Hoe langer en meer jy borsvoed, hoe meer sal jy spaar. Dis boonop gratis en spaar jou tyd omdat jy nie bottels hoef te steriliseer of formulemelk hoef af te meet nie. As jy sukkel met borsvoeding, het die meeste staatsklinieke ’n suster wat kennis daarvan het, terwyl staatshospitale met kraamafdelings gewoonlik ’n borsvoedingskonsultant op die personeel het. En dis alles gratis.

3. Daar is geen tarief vir die weeg, meet of monitor van jou baba se ontwikkeling by ’n staatskliniek nie, terwyl hierdie besoeke by privaat babaklinieke R100 of meer per besoek kos.

4. ’n Nuwe elektriese borspomp is duur – vind uit oor die huur van een by ’n borsvoedingskonsultant. Jy kan met veiligheid alles deel, net nie die plastiekaanhegsels nie, en dié kan jy gewoonlik apart koop.

5. Vra produkmonsters by die hospitaal, apteek en pediater. So koop jy nie duur produkte wat dalk nie goed werk nie. Die monster is soms al wat jy nodig het.

6. Dis voordelig om by die groot maat te koop, veral wanneer dit by doeke kom. Koop doeke by die groot maat as daar uitverkopings is. Dit kan jou tyd en brandstof bespaar.

7. Gebruik eerder ’n klam waslappie as ’n duurder vogdoekie wanneer jy baba se doek by die huis ruil.

8. Daar is ook mense wat glo lapdoeke is baie goedkoper en boonop ekovriendelik. Oorweeg dit. Jy kan R10 000 of meer spaar as jou baba tot op twee en ’n half jaar heeltyds lapdoeke dra.

9. Hou spaargeld byderhand vir wanneer noodsaaklike items uitverkoop word sodat jy voorraad kan opbou en kan spaar.

10. Spaar geld op babaoppassers. Tref ’n ooreenkoms met vriende wat ook kinders het. Reël om nou en dan na mekaar se kleingoed te kyk sodat elke paartjie ’n afspraakaand kan hê. Moenie ’n vreemdeling betaal om jou baba op te pas nie – kry eerder jou naaste geliefdes om gehaltetyd met baba deur te bring terwyl jy ’n welverdiende ruskansie geniet.

11. Sluit aan by lojaliteitsklubs, veral dié wat gereelde aankope van babaverwante produkte beloon.

12. Jy kan heelwat spaar deur jou eie babakos te maak. Sodra jou baba met vaste kos begin, kan jy geld spaar deur jou eie babapurees te maak en te vries. Koop groente en vrugte by die groot maat en as jy kook, kook vir baba ekstra en vries dit. Hou die gekoopte weergawes vir wanneer jou tyd min is of jy nie by die huis is nie.

13. Moenie vir jou kleinding duur speelgoed koop nie. Kinders word so vinnig groot; probeer om minder te verbruik. Dit is baie aanloklik om speelgoed en klere te koop, maar dit verander vinnig in rommel. Jou baba sal ewe lekker speel met jou plastiekbakke, potte en panne. En geen kind kan ’n kartonboks weerstaan nie!

14. Moenie vir jou baba skoentjies koop voor hy begin loop nie. Sokkies werk ewe goed tot hy daardie eerste treetjie gee.

15. Begin met potjielesse sodra jou kleinding reg is. Jy sal sommer voel hoe jou beursie beter asemhaal wanneer jy nie meer doeke of boudjieroom hoef te koop nie.

16. Hou altyd ’n kosblik met snoephappies byderhand. Dit spaar heelwat as jy nie elke keer snoepgoed in ’n winkel moet koop as jou kleinding lus word vir iets te ete nie.

17. Leer jul pediater goed genoeg ken dat jy hom kan bel en jou kwellinge kan bespreek sonder dat jy altyd ’n afspraak hoef te maak. Dikwels weet die pediater of dit die moeite werd is om in te gaan of nie, en so spaar jy konsultasiegeld.

18. Maak aan die einde van elke ontwikkelingsfase kas skoon en verkoop klere, speelgoed en ander hulpmiddels wat te klein is of nie meer nodig is nie. Gebruik dan die geld om benodighede vir die volgende fase te koop – tweedehands, natuurlik.

19. Begin nou al vir jou kind se skoolgeld spaar. Van kleuterskole tot hoërskole bied dikwels beduidende afslag as jy die volle jaar vooruit betaal. As jy slim is en nou reeds spaar, sal jy elke jaar vroeg kan betaal en intussen kan jy rente op jou spaargeld verdien.