Op ’n dorpie tussen êrens en nêrens in die hartjie van die Boesmanland woon die Van Vuurens: ’n pa, ’n ma, ’n 14-jarige en ’n drieling.

Dis ’n gewone, gelukkige gesin, maar hul pad tot hier was allermins doodgewoon en as pa Johan en ma Mariska na hul bedrywige drieling kyk, kan hulle steeds nie glo hoe gelukkig hulle is nie. Dis ’n drieling wat in Mei vanjaar ’n jaar oud geword en dit in propperse kontreistyl met ’n groot makietie gevier het. Sien jy vir boetie Mason en sy twee sussies, Marli en Elimei, is dit moeilik om te glo dat hulle met hul geboorte op 26 Mei 2018 kleiner as klein was. Mason het 820 g, Elimei 610 g en Marli 470 g geweeg – Marli was ligter as die pak macaroni in jou kruidenierstrollie!

“ ’n Klein bietjie hoop, baie geloof en tonne genade” is hoe Pa Johan hul ouerskapsreis beskryf. Dit was allesbehalwe maklik, erken dié paartjie van Aggeneys, ’n dorpie tussen Springbok en Pofadder in die Noord-Kaap. Johan (46) en Mariska (32), wat kontrak- werk vir die myn op hul dorp doen, is op 26 April 2014 getroud en wou dadelik met ’n gesin begin. Johan het reeds twee seuns uit ’n vorige huwelik, Adrian (14) en Xander (18). Mariska het ernstige endometriose gehad en haar kans was skraal om swanger te raak. Sy moes verskeie operasies ondergaan, maar toe kry hulle op 27 Desember 2017 die nuus van hul lewe. Mariska was swanger en groot was hul verbasing toe hulle tydens die sonarondersoek op Springbok nie een hartjie sien klop nie, maar drie.

“My oë het seker soos Jim Carrey s’n in The Mask gelyk,” skerts Johan. “Daar verander ons lewe in ’n oogwink. Ons was baie opgewonde en kon nie wag om vir almal te vertel nie!” Hulle is aangeraai dat die ondersoeke en bevalling in Kaapstad moes plaasvind en tydens ’n sonarondersoek daar het hulle gehoor dat twee dogtertjies en ’n seuntjie op pad was. Hulle was bekommerd oor een baba wat swakker as die ander was en ook oor Mariska se hoë bloeddruk.

Die Van Vuurens het begin planne maak en gedink dat hulle vir die bevalling in Junie hoogstens 10 dae in die Kaap sou deurbring. Hoe anders dinge sou uitwerk, sou hulle eers later uitvind.

’n Groot babateeparty en doekebraai is vir Saterdag 26 Mei 2018 beplan en Johan sê hulle het hulle reggemaak vir ’n kuier soos net die Namakwalanders dit kan doen.

Die geboorte

Maar daardie Saterdagoggend om halfdrie het Mariska hewige pyne gekry en hulle moes inderhaas Kaap toe jaag. Die dokter daar het bevestig dat hoewel Mariska net 26 weke swanger was, sy preëklampsie opgedoen en dus vroeg begin kraam het.

Ondanks alle pogings om dit te keer, het haar water die aand gebreek. Sy is inderhaas teater toe en Johan moes buite wag, want baie mense is nodig om drie vroeë babas in die lewe te bring. Dit was die langste wag van sy lewe, vertel Johan.

“Die minute het stadig verbygetik en iewers tussen kwart voor elf en elfuur die aand het die teaterdeure oopgeswaai. ’n Dokter en suster en ’n bababedjie met ’n bondeltjie lewe het oor die gang na die neonatale waakeenheid gehardloop.

"Ek het selfoon in die hand opgevlieg, maar moes hoor: ‘Meneer, daar is nie nou tyd vir foto’s nie. Al drie lewe op die oomblik, maar nou moet ons hulle stabiliseer.’ ” Mariska is net ná twaalfuur uit die teater gestoot en Johan kon hul babas kwart oor een die oggend sien. “Ek het met ’n groot bors daar ingestap – ek was darem die pa van ’n drieling – maar toe sien ek hoe klein hulle is. Eers vir Elimei, daarna vir Mason en toe vir Marli. Haar voete was so groot soos my duimafdruk. Dit was oorweldigend. Hulle was bitter klein en ek kon net bid.”

Prof. Johan Smith, die neonatoloog, het later verduidelik dat die babas se longe nog baie onderontwikkel was en dat dit ’n lang ruk sou duur voor hulle self sou kon asemhaal. Mariska kon haar babas eers die middag ontmoet.

Intussen het ouma Marijke van Bloemfontein af gevlieg en vir die volgende sewe maande was sy die paartjie se steunpilaar, al was sy besig om teen borskanker te stry. Johan moes gereeld die sowat 680 km tussen Aggeneys en Kaapstad aanpak en Mariska en haar ma was elke moontlike minuut by die babas.

“Dit was baie stresvol om werk en gesin te balanseer,” vertel Johan. “Dit het gevoel asof ons wêrelde uitmekaar leef, maar gelukkig was ons darem altyd net ’n video-oproep van mekaar af. As ’n mens nie deel van die grootmaakproses van die babas is nie, voel jy soos ’n onbetrokke pa. As pappas net kan besef dat hierdie een van die belangrikste tye is wat hulle saam met hul babas kan deurbring.”

Eerste aanraking

Op 8 Junie kon ma en pa die 13 dae oue Elimei vir die eerste keer vashou. Sy was die sterkste van die drie en die ander twee babas moes eers wag. Mariska moes leer hoe om die miniatuurdoeke te ruil, sy moes elke drie uur uitmelk en het elke moontlike oomblik saam met haar babas deurgebring.

“Daar was elke dag vordering, al was dit klein. Ons geloof was sterk en ons babas vegters. Dit was ’n wonderwerk om te sien hoe hulle met gramme groei en milliliters meer begin drink,” vertel Johan.

Op 26 Junie kon hy vir Mason die eerste keer vashou, maar Marli was nog te klein. “Ek het probeer om elke tweede naweek Kaap toe te ry. Dit was ’n moeilike tyd en my seun, Adrian, kon ook nie elke keer saamgaan nie, want daar was nog dinge soos skooltake ook,” sê hy.

Op 21 Julie, toe die babas agt weke oud was, is Mason en Elimei uit die waak- na die hoësorgeenheid geskuif. Marli moes nog aan ’n ventilator in die waakeenheid bly.

In Augustus kon Mason en Elimei na die gewone saal skuif en Mariska moes daar weer nuwe opleiding ondergaan. Die verpleegpersoneel van die Panorama Medi-Clinic in Bellville het vir die paartjie soos familie geword.

Daar was ook terugslae, soos toe Elimei en Mason weer terug na die hoësorgeenheid moes gaan, en Marli se vordering was steeds baie stadig.

“Op 10 Augustus het hulle Marli se broeikas oopgemaak en Mariska kon haar wang en lippe sagkens teen haar dogtertjie se lyf druk. Dit was die eerste keer dat Mariska sulke intieme aanraking met haar gehad het. Marli het seker aangevoel dis haar ma en het gekriewel, onthou Johan.

Eers 80 dae ná die drieling se geboorte kon ma Mariska haar kleinste meisiekind vir die eerste keer vashou. Elimei en Mason kon op 8 September saam met hul ma en ouma na die Kaapse woonstel gaan waar hulle in daardie tyd gebly het. Sus Marli moes agterbly.

Teen einde Oktober het Mason en Elimei goed gevorder, maar Marli was steeds in die hospitaal. Sy moes ook ’n laseroperasie op een oog ondergaan om haar sig te verbeter. Marli is in November na die hoësorgeenheid oorgeplaas, maar het steeds gesukkel met suurstof en om te drink, en pa Johan was steeds ver van sy mense.

Uiteindelik het hulle gehoor dat Marli in Desember huis toe kon gaan, maar selfs dit was nie ’n maklike proses nie. Mariska moes leer hoe om ’n voedingsbuis deur Marli se neusie te voer en hulle moes ’n suurstofmasjien en ’n monitor kry om haar suurstofinname dop te hou.

“Op 20 Desember 2018, 209 dae ná hul geboorte, het ek Marli om 17:29 in haar stoeltjie in die kombi gelaai. Dit het gevoel of ons ’n leeftyd se herinneringe in Panorama Medi-Clinic agterlaat. Ons het dit gemaak. Ons kon daardie aand vir die eerste keer almal onder een dak slaap en op Sondag 23 Desember kon ons uiteindelik almal saam Aggeneys toe gaan,” vertel Johan.

Vandag

Nou is daar al ’n goeie roetine by die Van Vuurens van Aggeneys. Hul pad tot hier was uitdagend, maar die drieling eet en drink nou goed. Marli eet so lekker dat ’n mens nie kan glo sy kon vier maande tevore nog nie eens regtig melk drink nie.

Johan lag as hy vertel hoe die warboel van bad en aantrek in die aand werk en die skietgebede met slaaptyd, want as een kreun of huil, is al drie wakker.

“Mason is ’n woelwater wat alles wil beproef. Hy besef nog nie hy is die grootste en sterkste nie, met die gevolg dat sy twee sussies altyd aan die kortste ent trek as hy ’n speelding wil hê!

Elimei dink die wêreld is ’n groot grap. Sy lag vir alles en gesels ’n hond uit ’n bos in babataal. Marli is die stil poppie. Sy kan nog nie soos haar boetie en sussie die wêreld verken nie, maar met haar glimlag wen sy oral harte!” vertel hy met ’n breë glimlag.

Die drieling se eerste verjaardag in Mei vanjaar het ook met ’n doopdag op Aggeneys gepaardgegaan. Die drietjies was uitgedos in spoggerige doopklere wat van hul ouma se trourok gemaak is. En vir ma en pa het die trane maar vlak gelê, want dié doop en verjaardag was vol betekenis. Johan en Mariska het immers hul eie wonderwerk beleef. ’n Wonderwerk maal drie.

Marli was aan ’n ventilator gekoppel om haar longe
Marli was aan ’n ventilator gekoppel om haar longe aan die gang te hou – dit was ’n stryd van sonop tot sonsondergang.
Johan met sy drieling: (van links) Elimei, Mason e
Johan met sy drieling: (van links) Elimei, Mason en Marli. Kort ná hierdie foto sou Mason en Elimei ontslaan word, maar toe beleef hulle weer ’n terugslag.
Elimei kan vir die eerste keer vel-teen-vel-kontak
Elimei kan vir die eerste keer vel-teen-vel-kontak met Mariska geniet.
Mason vorder goed, maar is nog nie gereed vir vel-
Mason vorder goed, maar is nog nie gereed vir vel-teen-vel-kontak nie.