book-icon Uitgawe Oktober & November 2018

Groete uit Ballyland

akkreditasie
Elaine (32) en Alaina (5) Bojè
Elaine (32) en Alaina (5) Bojè

Dit reën. Die wind waai. Ek het nou net teruggestap van my vyfjarige se speelskool af. Terwyl ek loop, wens ek ek kan net weer een 1 September-lentedag soos in Suid-Afrika ervaar. ’n Mens mis die klein dingetjies, maar tog is daar baie hier om voor dankbaar te wees. Hier stap ek (wel in die reën), maar die strate van Ballylanders in die Limerick-county is skoon en die ou oom op sy fiets groet, nes elke ander oggend.

Ek ken hom nie, maar een ding is seker: As jy in ’n klein village bly, groet jy almal. Dis vriendelik hier, dis mooi en alles is anders – nie noodwendig beter of slegter nie, net anders. Ek woon reeds agt jaar in Ierland. My dogtertjie is hier gebore, dus is alles vir haar die norm. Rondhardloop solank jou ma jou kan sien en deur toetrek en in die motor klim sonder om die voordeur te sluit. Maar min dinge maak vir my saak, want al is dié land skoon en veilig, is daar nie ’n dag wat verbygaan waarop ek nie iets van Suid-Afrika mis nie. Hier in Ierland is dit meestal groen. Ons sien elke dag beeste, perde en skape langs die pad. Waar ons bly, bestaan die oggendverkeer uit beeste wat oor die pad na die ander veld loop, of ’n trekker. Alaina is in ’n speelskool wat in die eerste twee jaar gratis is. Dit help darem, want hulp is baie duur. Terwyl Alaina daar speel, maak ek huis skoon. Hier is luukshede regtig luukshede! Jy doen alles hier self – van sakkies pak in Tesco tot brandstof ingooi en wiele pomp. Ek moes groot aanpassings maak.
Alaina geniet skoolgaan. Daar word baie gefokus op respek vir die natuur, veiligheid, liefde vir jouself en ook op hoe jy met jou emosies te werk gaan. Alaina gaan binnekort graad 1 toe. In Ierland word daar nie neergesien op mense se beroepe nie. Enige werk word gerespekteer. Een van my vriendinne werk in ’n klein inkopiewinkel en die ander een is die bestuurder van KFC. As jy die melkman is, het jy sterstatus omdat almal jou ken! Die lewe is baie duur. Elke inwoner betaal padbelasting en versekering is peperduur. Dit is waarom mense in die stede eerder bus ry, maar sulke dienste is nie op die platteland te kry nie. As gevolg van die baie reën is hier vreeslik baie speelsentrums. Daar is iets vir almal om te doen – parke op elke dorp, kastele wat besoek kan word of diere wat ’n mens kan voer. Halloween, Kersfees en Paastyd word as belangrik beskou. Almal koop Kersfeespakkies en om Kersvader met jou lysie te ontmoet, is elke Desember die hoogtepunt. Op ons dorpie is daar ’n groot Paaseier-soektog. Die inkopiewinkels skenk selfs eiers daarvoor. Met Halloween, weer, word die huise versier en spog sommige huise met meer versierings as die Kersliggies waarmee ek grootgeword het. As dit by kinders en verbeeldingsdinge kom, is die Iere nie inkennig nie. Omdat ek so ver van my ma is, praat ons gereeld. Ek doen ook moeite om by vriende uit te kom en dinge saam met my kind te doen. Dit is tog soms uitdagend – ek moet vir Alaina oral saamneem, want daar is nie ’n ouma of oupa wat kan help nie. Hoewel my hart verlang na my ma, my pa, die familie en vriende, die sonskyn, my plaaslike Spar, my kerk en sommer net my mense, weet ek dat my opoffering vir Alaina is. Die gras is groener, letterlik, maar dit gaan met ’n heftige prys gepaard. Sê dus ja vir die uitnodiging as jou ouers en vriende jou vir ete of na ’n braai nooi ... 

Kry die volle storie
Teken in op Netwerk24 en kry vandag onbeperkte toegang tot gehalte-joernalistiek, brekende nuus, voorste Afrikaanse koerante en tydskrifte, blits-videoinhoud, podsendings, luisterboeke en meer.
Teken in
Reeds 'n intekenaar? Meld aan
Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees