book-icon Uitgawe Desember 2017 & Januarie 2018

Hiep hiep hoera! Dis 'n nuwe jaar

akkreditasie

1. Help mekaar

Wanneer jou kinders in die huis help, leer hulle ’n groot klomp lewensvaardighede wat hulle in die toekoms nuttig te pas sal kom, soos organisering, verantwoordelikheid, trots, beplanning en spanwerk. Daarby sorg dié beleid ook dat al die verantwoordelikheid nie net op een persoon (jy weet natuurlik wie dit is!) se skouers rus nie. Om dit makliker te maak, kan jy ’n blikkie in die kombuis staanmaak en die huistakies op stukkies papier skryf en dit in die blikkie pak. Sondagaande gaan haal julle die blikkie en dan kan elke lid van die huisgesin ’n papiertjie trek waarop sy taak vir die week geskryf is.

2. Gooi uit

Leef vanjaar ligter. Raak ontslae van klere, skoene, linne, speelgoed en sommer alles wat jou kaste vol lê en wat jy nie meer gebruik nie. Skenk dit aan ’n tehuis of kinderhuis waar dit goed gebruik kan word. Jy leer jou kinders terselfdertyd ook die wonder daarvan om te gee. As jy dapper genoeg is, kan jy die deelneem aan die 30-dag-minimalisme-speletjie ... Dit werk as volg: Begin op die eerste van die maand van jou keuse. Op dag een raak jy van een ding ontslae. Op die tweede dag gooi jy twee goed weg, op die derde dag drie ... en so hou jy aan tot die maand om is. Gaan kyk gerus by theminimalists.com hoe die speletjie werk.

3. Oefen saam

’n Mens het min tyd vir oefen wanneer daar kleingoed in die huis is, maar jy moet probeer om 150 minute per week in te pas, is die raad van Anel Kirsten, ’n dieetkundige van die Paarl in die Wes-Kaap. “Dit beteken dat jy vier tot vyf keer per week vir 30 tot 40 minute op ’n slag moet oefen,” verduidelik Anel. Hoewel daar deesdae oulike kindersorgdienste by gimnasiums is, is dié opsie nie vir almal beskikbaar nie. Gelukkig is daar deesdae talle tuisoefenprogramme te kry, asook gratis slimfoon-toeps met oefeninge soos joga. Maak ’n punt daarvan om elke dag ná werk met jou kinders te gaan stap, fiets te ry, bal te gooi of joga op die gras te doen – ’n bietjie vars lug ná ’n moeilike dag by die skool of werk verrig wondere.

4. Eet gesond

Eet vanjaar meer groente, sê Anel. Jou kind se proteïenporsie per ete moet so groot soos sy handpalm wees en sy styselporsie so groot soos sy vuis. Dit laat die helfte van sy bord nog leeg – en dis waar jy die groente, slaai en vrugte gaan skep, sê Anel. Fokus vanjaar ook daarop om goeie en gesonde peuselhappies soos vrugte, rou groente, biltong, neute, springmielies (vir ouer kinders wat nie daaraan sal stik nie) en gekookte eiers te eet. Dis nie die einde van die wêreld as jy af en toe ’n lekkertjie gee of poeding voorsit nie, maar hou dit vir spesiale geleenthede en beheer porsiegroottes. Laat jou kinders help wanneer kos gemaak word, want hulle sal meer geneig wees om te eet wat hulle help berei het.

5. Eet saam aan tafel

Dié een is belangrik: Maak ’n plan om te sorg dat julle vanjaar as gesin saam om die tafel eet. Daar is soveel voordele aan verbonde. Jy en elke lid van jou gesin maak vir ’n ruk lank oogkontak en jy sal verbaas wees oor hoe maklik gesprekke om die etenstafel plaasvind. Julle bly deel van mekaar se lewe deur elkeen jul ervarings van die dag te deel. Boonop leer die kinders in die proses allerbelangrike tafel- maniere. Maak dit ’n reël dat geen slimfone, tablette of rekenaars met etenstyd naby die tafel mag kom nie. Maak die geleentheid spesiaal met ’n mooi gedekte tafel en rond dit af met blomme uit die tuin.

6. Bewaar die natuur

Leer jou kleingoed van jongs af om nie rommel te strooi nie en ook rommel op te tel wanneer julle gaan stap of fietsry. Spaar water deur die wasbakprop in te sit wanneer julle hande was of tande borsel en herwin dié water deur die tuin daarmee nat te maak of die toilet daarmee te help spoel. Probeer ook om julle afval te beperk deur ’n komposhoop in die tuin op te rig en alle kosafval daarop te gooi. Werk hierdie kompos weer terug in die tuin wanneer julle as gesin saam tuinmaak. Deur net klein veranderinkies aan te bring kan julle saam-saam jul deel vir die omgewing doen.

7. Sit tyd vir jou opsy

Of dit nou ’n warm borrelbad agter ’n toe deur behels of ’n aand uit saam met vriendinne of jou maat – of dalk ’n uur se oefening drie keer per week – dis belangrik om “my tyd” opsy te sit. Jy kan net na jou gesin omsien as jy self versorg, gesond en positief voel. ’n Bietjie afstand tussen jou en jou gesin sorg ook dat jy elke oomblik wat jy saam met hulle deurbring weer waardeer en koester.

8. Sit dit af

Dis deesdae die norm om te alle tye minstens met een toestel aanlyn te wees, of dit nou vir werk of pret is. Hierdie skermtyd steel egter kosbare gesinsoomblikke. Bring vanjaar minstens een dag per week sonder skermtyd deur: Skakel die televisie af, vermy e-pos en bly weg van kuber-kletsgroepe. Pleks daarvan kan julle eerder bordspeletjies speel, ’n bal skop, na die sterre staar of saam boek lees.

9. Kry meer slaap

Volgens die Amerikaanse Nasionale Instituut vir Gesondheid speel slaap ’n uiterse belangrike rol in goeie gesondheid. As jy genoeg slaap van ’n goeie gehalte inkry, kan dit help om jou geestesgesondheid, fisieke gesondheid, lewensgehalte en breinfunksie (veral by kinders) te beskerm en te ondersteun. Min slaap, aan die ander kant, het ’n slegte invloed op die manier waarop jy dink, reageer, werk, leer en hoe jy ander hanteer. Navorsing het ook gewys dat kinders belangrike feite wat hulle in die loop van die dag bymekaarmaak, doeltreffend berg terwyl hulle slaap, en dan ook van alle oorbodige inligting ontslae raak. Jou baba het minstens 12 tot 16 uur slaap per dag nodig (dagslapies ingesluit) en jou kleuter 10 tot 14 uur, wat ’n dagslapie insluit. Sorg dus dat jou kleinding saans vroeg in die bed kom!

10. Groet met soene en drukkies

Vestig vanjaar behoorlike groetrituele. Pleks daarvan om oor jou skouer te waai en in jou motor te spring, kan jy probeer om jou kinders (en jou maat) in die oë te kyk wanneer jy groet. Maak ’n punt daarvan om elke lid van die gesin soggens ’n behoorlike soen en druk te gee voor julle uitmekaarspat, en die oomblik werklik te bewaar. Dieselfde geld wanneer jy jou kinders optel of jou maat tuiskom.
Het jy geweet?
Hoe hou jy by jou voornemens? Maak ’n lys van die dinge wat vir jou belangrik is en dan maak jy ’n lys van hoe julle as gesin tans tyd saam deurbring. As die twee nie ooreenstem nie, is dit weer tyd om na julle doelwitte te loer en te kyk hoe julle julle gedrag kan aanpas om dit te maak werk.

Kry die volle storie
Teken in op Netwerk24 en kry vandag onbeperkte toegang tot gehalte-joernalistiek, brekende nuus, voorste Afrikaanse koerante en tydskrifte, blits-videoinhoud, podsendings, luisterboeke en meer.
Teken in
Reeds 'n intekenaar? Meld aan
Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees