As jy wil doen wat die bekende Amerikaanse slaapkenner Elizabeth Pantley voorskryf, moet jy jou tweejarige verkieslik tussen 18.30 en 19.30 in die bed kry en dan moet hy minstens 11 uur lank slaap om emosioneel, fisiek en verstandelik optimaal te ontwikkel.
“Slaap beïnvloed elke wakker minuut van jou kinders se lewe en hul vermoë om van hul veters vas te maak tot die ABC op te sê,” glo Elizabeth.
Die slaaptydstryd wat saans in huishoudings uitbreek kan egter die edelste voornemens floutrap en jou laat wonder of dit regtig saak maak hoeveel slaapure voor middernag plaasvind. Slaap is mos slaap, of hoe?