Ry veilig

Selfs die kleinste botsing teen ’n lae spoed kan vir ’n baba of kind noodlottig wees. Hoekom? Babas en kinders se kop is in verhouding met hul lyf baie groter en swaarder as ’n volwassene s’n. Hul skedel is ook dunner en hul nek is nog sag en die spiere en ligamente nog onderontwikkel. Wanneer hulle ’n kopbesering opdoen, is die gevolge dus veel ernstiger as by ’n volwassene. ’n Botsing teen selfs net 15 km/h kan ernstige gevolge vir jou baba inhou. Moet ook nie dink dat jy jou kind op jou skoot sal kan vashou nie – dis fisiek onmoontlik. Dit is waarom kinders liefs op die agtersitplek moet sit en vasgegordel moet wees in ‘n stoeltjie.

Baba kyk na agter

Babamotorstoeltjies wat na agter kyk is die veiligste. Skaf jou stoeltjies so aan dat jy jou baba vir so lank as moontlik in dié posisie laat saamry. Botsings van voor is die algemeenste, en die posisie waar jou baba na agter kyk bied in so ’n geval die beste beskerming. Onthou, jy moet jou baba se gewig in aanmerking neem wanneer jy ’n stoeltjie kies, nie sy ouderdom nie.

Veiligheidsgordels ’n moet

Veiligheidsgordels is ’n moet, maar het jy geweet dat dit vir volwassenes ontwerp is? As jou kind dus nog korter as 1,5 m is (soos gewoonlik onder 12 jaar oud), moet julle beslis nog ’n opstootstoeltjie gebruik om te verseker dat die gordel reg werk. As jou kind hoër sit, pas die gordel korrek sywaarts oor sy lyf en bly dit by die heupe ook in die regte posisie. Dis ook die wet dat ’n kind onder 12 nie voor mag sit nie. Onthou, dit geld ongeag hoe ver julle ry. ’n Stapel kussings of telefoonboek is beslis nie ’n veilige plaasvervanger vir ’n motorstoeltjie nie.

Gordel die magie ook vas

As jy swanger is moet jy steeds jou sitplekgordel dra. Sorg dat dit reg pas: oorkruis tussen jou borste en met die onderste deel van die gordel so laag oor jou heupe as moontlik. Sit so ver agter in die motor as wat jy kan.

Hou jou kind veilig

  • Sorg dat jou kind sommer van jongs af haar eie naam, van en ook joune kan sê in geval sy dalk iewers tussen ’n groot groep mense verdwyn. Laat maak vir jou peuter ’n armbandjie met jou telefoonnommer op en leer jou ouer kind jou selfoonnommer. Sorg net dat jou foon altyd byderhand is! Daar is deesdae verskeie horlosies beskikbaar wat deur middel van Bluetooth op jou slimfoon en ’n GPS-opsporingstelsel werk sodat jy te alle tye weet waar jou kind is.
  • Skryf jou telefoonnommer ook op jou kind se skoentjies.
  • Trek vir jou kind helderkleurige klere aan sodat jy haar in ’n groot groep mense maklik kan raaksien.
  • Hou ’n duidelike onlangse foto van jou kind in jou handsak indien sy dalk verlore raak.
  • Moenie dit in die son oordoen nie. Onderneem buite-uitstappies vroegoggend en hou die binne-uitstappies of -aktiwiteite vir die hitte van die dag. Belê gerus in ’n sontent as julle hele dae op die strand gaan deurbring.
  • Was jul hande gereeld. Openbare plekke en toeriste-attraksies is vol kieme. Hou ook waterlose handreiniger in jou handsak en gebruik dit mildelik.

Onthou dit wat belangrik is

Pak ’n noodhulptassie met al die noodsaaklikhede vir ’n noodgeval: verbande, ontsmettingsmiddel en middels vir brandwonde. Pak ook medikasie soos antidiarreemiddel, ’n pyn-en-koorsstroop, oor- en oogdruppels en enige chroniese medikasie in. Neem ook insekweerders, ’n strelende salfie vir byte en antihistamien saam. Insekte is meer aktief in die warm weer.

Wenke vir die pad
  • Laat gaan jou motor se bande, remme en vering na voor julle vertrek.
  • Handhaaf ’n veilige volgafstand. As jou motor vol gelaai is, moet die afstand nog langer wees as gewoonlik.
  • Ry met jou hoofligte aan.
  • Hou elke twee uur stil om te rus.
  • Hou stil as daar enige drama in die kar met die kinders is. Jy kan nie bestuur én probleme oplos nie.