Iemand op Facebook se inskrywing lui as volg: “Ons baba het deurgeslaap.” Net dit. Tog is dít die een wat my aandag trek in ’n poel van sensasionele opsies soos artikeldelings oor swaar politieke onderwerpe met opskrifte so opruiend links of regs dat daar amper konsensus is. Ek kan ook kies om mense se kritiek op skeidsregters te lees, mense wie se spanne verloor het. En dan natuurlik wonder waarom wenspan-ondersteuners die skeidsregter nooit komplimenteer nie. Op hierdie Facebook-tydlyn is daar ook die geposeerde en gemanipuleerde foto’s só perfek dat jy wonder of die oorkompensasie jou simpatie of jaloesie verdien. En dan nog ’n inskrywing waarin iemand kla: “kani glo dit al weer mt my gebeer ni” in die hoop dat iemand genoeg sal omgee om te vra “wat?”. Dit sê seker meer van my as van hulle, maar die deurslaap-boodskap het my oog gevang. Deels omdat ek as jong ouer die implikasie begryp. Deels omdat die persoon ’n man is. Maar meestal omdat dit sy eerste inskrywing in twee jaar was. Te verstane. ’n Deurslaapnag is ’n deurbraakdag in die huis van die vaak ouer. Dit bly net een van baie kentekens wat ’n mens in die bedtyd-bordspel verwerf, maar dis ’n grote. En ’n bedrieglike een. Een aand se deurslaap is nie per implikasie twee nie. Selfs ’n week s’n kan gevolg word deur ’n week daarsonder. Tande, verkoue, nagmerries, honger, ’n doek – alles kan daardie salige nuwe ritme versteur, en jy’s weer terug waar jy was. Dis ’n slangetjies-en-leertjies-affêre. Daardie Facebook-inskrywing is ’n viering of ’n inskrywing werd. Selfs ’n paar likes. Maar die blydskap is tydelik. Ons jongste deurbraak was toe klein Almi kort voor haar tweede verjaardag suksesvol van die kot na ’n enkelbed getrek het. Óp met die leertjie. In dieselfde tydperk het die driejarige Janco sy eie skuif gemaak – snags kort ná middernag, sagte speelding in die hand, sleepvoet van sý bed na sy ouers s’n. Hy beskou dit nou as tradisie. En met daardie skuif is dit af met die slangetjie. So gaan dit in hierdie wonderlike, rustelose jare. Sussie se skuif bed toe was vir óns ’n gebeurtenis. Albei haar ouers het oor haar bed gestaan en kyk hoe sy soos ’n groot kind slaap. “Ons baba is nou groot,” dink ons met opgewondenheid en ’n tikkie onsteltenis. As ons van daai Facebookers was, het ek ’n inskrywing gemaak: “Ons baba slaap nou al in ’n bed.” En as ons van dáái Facebookers was, dalk: “Kan nie glo dit het uiteindelik gebeur nie…”. En as iemand “wat” sou vra, ’n selfs meer geheimsinnige “… inbox my”. Dis daarom dalk beter om hier daaroor te spog, hier in ’n gedrukte moederskamer waarin die gemeente van belangstellende ouers van babas en kleuters meeleef. Ek weet, julle weet. Daardie klein goedjies (dis nou die gebeure én die kinders) sorg vir emosies groter as die ses uit tien wat ’n neutrale beoordelaar dit sou gee. Ons baba slaap in ’n bed – erg in haar skik daarmee, en regdeur die nag. Ons vier dit ook, want dis ons tweede kind en ons weet so ’n paar skuiwe ná die leer wag ’n slang. Want toe ons uiteindelik tot ruste kom, was dit skaars ’n uur voor boetie sy gebruiklike trek na óns bed maak. Oomblikke later is my deel van die bed sonder vergoeding onteien, darem wel sonder ’n parlementêre debat. My kussing en my stukkie duvet ook. Dan word ek die slaapgimnas vaardig op één sy, op die afgrond van die matras en dankbaar vir die harde randnaat wat 'n kritieke ekstra twee sentimeter gee. My kussing is nou sy teddie, my lyf op die verdediging, wagtend op klein, skerp elmboë en knieë in die kwesbaarste dele van die mondering. So lui die konteks dan van ’n ouer se blydskap wanneer hy die dag voel hy moet vir die wêreld vertel dat die nag rustig was. Dit kry dalk minder Facebook-liefde as die foto van hoe jy daai medalje tussen jou tande kners ná ’n eerste voltooide halfmarathon. Maar ander soos jy sal dit met empatie lees, kinderloses met simpatie en dié met tweelinge, jaloesie. En sommiges kan nie minder gepla wees nie. Die wat weet, sal wéét: In die huis van die vaak ouer verdien “pappa het deurgeslaap” vyfster-status.