book-icon Uitgawe Oktober & November 2018

Inboks

akkreditasie
Baba & Kleuter briewe
Baba & Kleuter briewe

Ek wonder nou die dag hoe ’n ma ooit weet wanneer dit die regte tyd is om haar te laat steriliseer. Sal daardie moederlike instink of hunkering ooit verdwyn? My ma het altyd gesê ’n vrou se liggaam weet wanneer die tyd reg is om ’n baba te hê. Ek het dit nooit verstaan nie, tot ek self een oggend met daardie hunkering wakker geword het. My eerste kind is gebore en, vreemd genoeg, het die gevoel drie jaar later teruggekeer. Gedurende my tweede swangerskap, wat moeilik was, het ek met elke besoek aan my ginekoloog seker gemaak hy weet dat ek met die bevalling ’n sterilisasie wil hê. Ek het selfs die vrywaringsvorm vroeg geteken, want swanger wou ek net nooit weer wees nie. Genadiglik het hy my van die idee laat afsien. Toe meld die hunkering hom weer aan. Ek maak somme en kyk of ons ’n derde kind kan bekostig. Sal my huwelik dit oorleef, want ’n huwelik met klein kindertjies is nie grappies nie. So maal alles deur my kop – tot ek vanoggend in die vroeë oggendure op ’n vraag aan myself afkom: “Smag ek na nog ’n baba of smag ek na nog ’n kind?” Is dit my moederinstink wat maak dat ek net nog een keer ’n babatjie wil hê, of is dit ’n vrees dat daar nooit weer ’n baba in my huis gaan wees nie? Ek moes ná vier maande terugkeer werk toe en werk voldag. My man, ouers, die dagmoeder en juffrou het die voorreg gehad om my kosbare babatjies bedags groot te maak. Ek het wel nou en dan ’n WhatsApp-video gekry van my kinders se eerste tree of woordjie. Al wat ek gehad het was naweke en die aande ná werk wanneer die kinders moet bad, eet, en vroeg in die bed wees – en dit gebeur menigmaal maar met ’n geween en gekners van tande. Ek het ’n leemte wat nooit gevul sal kan word nie – en om dit te vul, hunker ek na nog ’n baba ... Die werklikheid is dat daardie baba ook gaan grootword en daardie leemte gaan nie vir ewig gevul kan bly deur nóg ’n baba nie. Dit is ’n keuse wat slegs gemaak kan word as jy volkome gereed is. Dis ’n keuse wat ek nie nou kan maak nie. Wie weet ... oor ’n paar maande lê ek dalk vir oulaas weer in die kraamsaal met nog ’n baba – óf wagtend op sterilisasie ... Michelle Bownes, Potchefstroom, Noordwes.

Dis 03:00 op ’n koue Sondagoggend. Die rusbank is ongemaklik en vreemde alarms glim in die halfdonker. Af en toe huil ’n kindjie hartseer en verbreek die stilte in die kindersaal van ons dorpshospitaal. Ek is in ’n duisend stukke, want langs my in die vaalwit hospitaalkot lê een helfte van my hart. My seuntjie, Rory (6 maande), is al weer met longontsteking opgeneem. Die twee ander liefies in my lewe – my wonderlike man en pragtige dogtertjie – lê tuis en slaap. Chloê (3), ougat soos net sy kan wees, het juis gisteraand voor my vertrek gesê: "Lekker slaap, mamma, ek sal jou man mooi oppas en hom styf vashou sodat hy nie sy kop stamp nie." Met ’n groot glimlag en oë vol trane dink ek heelnag aan daai bekkige woorde en bid dat boetie gesond word. Die aande hier is lank, maar danksy jul uitstekende tydskrif kan ek darem die oggend­ure omlees en die nag so ’n bietjie korter maak. Die hospitaal is koud, maar die liefde in my hart vir my mensies maak alles warm! Ilze Colin, Middelburg, Mpumalanga.

Ek is die ouma van die mooie Mia Begley, drie jaar oud. Mia se niggie, Abigail Mendes (17), het hierdie fotosessie van Mia in haar ma se trourok behartig. Ek het gedink dit was ’n oulike idee om ’n trourok as bykomstigheid te gebruik. Thelma Begley, Rustenburg, Noordwes.

Kry die volle storie
Teken in op Netwerk24 en kry vandag onbeperkte toegang tot gehalte-joernalistiek, brekende nuus, voorste Afrikaanse koerante en tydskrifte, blits-videoinhoud, podsendings, luisterboeke en meer.
Teken in
Reeds 'n intekenaar? Meld aan
Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees