Wenbrief

Nie perfek nie

’n Mens sien altyd die mooiste foto’s van babas in tydskrifte en op Facebook, maar dis meestal net die foto’s wat mense wil hê ander moet sien. Van die eerste oomblik dat daar twee strepies op ’n swangerskapstokkie verskyn het, was ek verlief. Ek het boeke en artikels gelees sodat boeta gesond kon groei.

Met die bloedtoets op 16 weke was daar fout. Vrees het my oorweldig. Ek moes die bloedtoets herhaal, en toe wys dit alles is normaal. Reeds toe moes ek geweet het dat om ’n mamma te wees, nie ’n mooi Facebook-foto is nie. My babatjie het gesorg dat ons vir twee vals alarms en ’n keisersnee opgeneem is (ook nie deel van die perfekte beplanning volgens die raad van talle vriendinne en boeke nie).

Die eerste aand in die hospitaal word my baba langs my in sy bedjie neergelê. Ek was benoud! En ek het vinnig agtergekom hy huil vreeslik baie. My idealistiese idee van geen fopspene nie het vinnig by die deur uitgevlieg. My seuntjie het koliek en refluks gehad, hy het geskree, gehuil en van krampies inmekaargetrek. Dit was een van die magteloosste tye van my lewe. Ons het alles beproef, maar kon uiteindelik net wag tot hy vier maande oud was.

’n Jaar later, met ’n deurmekaar huis vol vreugde en uitdagings, is dit steeds allesbehalwe ’n perfekte Facebook-foto, maar dis werklik. Elke ma wat voel of hulle ma-wees nie regkry nie: Haal diep asem! Kyk in jou kind se glinsterende ogies en weet jy is die beste ma vir jou kind. Ek verruil die chaos en omgekeerde lewe van die afgelope 15 maande vir niks.

Anneke Richter, Rustenburg, Noordwes

Linardo Richter (15 maande) het sy ma se lewe verander – al was dit chaos aan die begin.

Predikantskinders

Sy strompel by die kerk in. Haar regterskouer is oorlaai met ’n handsak en ’n rugsak wat oorvol is van doeke, speelgoed, kleuterklere, ouma se hawermoutkoekies en ’n tietiebottel wat lek. Sy probeer geruisloos die moederskamer binnesluip, maar die driejarige aan haar linkerhand hou van die kollig.

Die blosende ma laai die sakke van haar skouer af nadat sy ’n plekkie kon uitkrap. Terwyl sy dankie sê, het die energieke mannetjie die speelgoedkrat ontdek en met groot trots omgekeer. Natuurlik sit drie ander gesinne se kinders stroopsoet op hul ma en pa se skoot. Dis net die dominee se kind wat gehoor word – en elke karretjie beland in ’n ongeluk.

Die arme vrou trek die kind uit die klein vertrekkie na die agterste bank van die kerk waar daar reeds mense sit. “Pappa!” skree die kleinste terwyl die doopsformulier gelees word. Mamma druk haar hand oor sy mond, maar boeta ruk dit af en wriemel sy pad oop. Hy gaan wragtig kruip tot by pappa, sy gunsteling.

Niemand sit in die boonste vleuel nie, dis dalk net die plek. Maar in niemandsland eggo elke geluid. Mamma probeer hom vang en van sy geraasmaakskoene stroop. “My shoes!” protesteer die mannetjie. Terug is die skoene en af is hulle met die trappe wat direk moederskamer toe lei. Boetie ontdek sowaar nog speelgoed en noem alles by die naam. Die ander ouers met die voorbeeldige kinders kyk om. Mamma bloos.

Mamma probeer sy geesdrif met die tietiebottel tem, maar dit word weggestoot. Poging twee is hawermoutkoekies. Die krummels beland egter sekondes later oral oor sy nuut gebreide blou trui. Mamma probeer hom afstof, maar die rooi bakkie tuimel ondertoe. Dié keer kry Mamma boonop ’n vuil kyk van die kansel af en net daar besluit sy dis tyd om te trek.

Sy gryp die sakke. Boetie hou van die laaste sê, want toe Mamma die houtdeur van die kerk oopstoot, skree hy “bye!”. Net anderkant die grens van die kerkwerf is dit Mamma se beurt vir praat op pad pastorie toe. Ouma aan Pappa se kant word gebel. Haar verklaring: “Dis payback time”.

Gerda-Marié van Rooyen, Boshof, Vrystaat

Gerda-Marié en Andreas van Rooyen saam met die bedrywige klein Hendré (3).

So skielik weg

Cassie het die oggend net so voor seweuur baie opgewonde by my in die kombuis ingestap. Hy kon nie wag om by die nuwe skool te begin nie. Min het ek geweet dat ons lewe op daardie dag vir altyd sou verander. Net ná twaalf die middag kry ek ’n oproep van die skool dat ek moet kom omdat iets met Cassie gebeur het. My bene word lam en ek kan skaars bestuur. Ek bel my man onmiddellik en hy stel voor dat hy skool toe ry want hy is nader as ek.

Ek praat met die skool en hulle sê hulle is op pad na die dokter op die dorp. Op pad na Cassie se skool sien ek ’n wit motor met noodligte aan verby jaag en ek weet sommer dis Cassie in daardie kar. Ek ry toe agter hulle aan. By die dokter se spreekkamer sien ek hoe hulle Cassie se pap lyfie uit die motor uithaal. Hy was blou in sy gesiggie. Hy het verstik aan ’n pennetjie van ’n pennetjiebord. Die wag by die dokter het soos ’n ewigheid gevoel. Ek het twee keer flou geword – elke keer as ek dink my kind is weg. Die paramedikus het ná ’n lang ruk by die spreekkamer aangekom en kon die pennetjie uitkry, maar hy kon nie Cassie se pols vind nie.

Met baie hoop is Cassie ongeveer twee uur later per ambulans hospitaal toe met sy pappa by hom. Aan die een kant het ek hoop gehad dat hy nog lewe en aan die ander kant het ek geweet hy is dood. By die hospitaal het die dokter aan diens regtig haar bes probeer, maar sy het ’n rukkie later uitgekom en ons meegedeel dat Cassie nie meer met ons is nie.

Ek wou nie aan hom vat nie, maar is vandag baie dankbaar dat die berader wat daardie dag daar was, my oorreed het om aan hom te vat, by hom te lê en hom vas te hou. Ek moes hom groet. Hy was nog so klein, net vier jaar 11 maande en vier dae oud! My oudste, my hart se punt.

’n Paar dae voor die begrafnis sou dit Cassie en sy kleinsus, Anri, se partytjie wees. Ek het opgewonde gevoel – dit was vreemd en ek het eers gedink dit was oor die partytjie wat die Saterdag sou plaasvind. Maar hoe meer ek daaraan gedink het, het ek besef dis omdat ek weet dat Cassie veilig by Jesus is.

Maande daarna het dit een oggend vreeslik gereën. Ek word skielik wakker en wil net na Cassie se graf ry om hom met iets toe te maak. Ek bid en vra vir die Here om my rustig te maak sodat ek kan slaap. Ek raak toe aan die slaap en droom dat ek, my man, Cassie en sy kissie in ’n klein bootjie op water is. Cassie – sy gees was goudgeel van kleur – het sy kissie gevat en in die water gegooi met ’n breë glimlag op sy gesig. Met ’n kalmte oor my het ek besef Cassie is nie by sy graf op aarde nie, maar gelukkig by Jesus.

Angelique Coetzee, Koster, Noordwes

Ma en matrassies

Die hoof van ons huis pak ’n nuwe projek aan wat vereis dat hy nagskof werk. Ek is dankbaar vir die werk ná ’n lang droogte, maar gespanne oor hoe op aarde ons die skedules gaan laat uitwerk. Die drie kinders dink my tweestryd is omdat ek alleen moet slaap en voor ek weet, word die matrasse flink na ons kamer gedra.

Naweke werk die hoof gedurende die dag, maar die matrasse bly. Ons skimp dat hulle na hul eie nessies terugkeer, maar verniet. Nou die aand is my emosionele tenkie dolleeg en die introvert in my het ruimte dringend nodig. Ek kan nie langer in ’n tou staan om tande te borsel, oor twee matrasse val om by die toilet uit te kom en wag dat die oudste klaar lees voor ek die lig mag afsit nie.

Toe almal, die hoof ingesluit, tot ruste kom en die lig af is, hoor ek die harde fluisterstem van Kleinman: “Pappa, kan ek bad?” Hy wou vroeër niks van bad weet nie, en nou ... Nou wil hy bad. Sonder enige omhaal van woorde vertel ek hulle hoe elke matras môre by my kamerdeur gaan uitvlieg.

Toe ons die oggend wakker word en koffie in die bed geniet, met ons oë op drie slapende lyfies, fluister die hoof: “Ag skat, moenie die matrassies wegvat nie, ons weet nie vir hoe lank hulle nog so by ons sal wil slaap nie, netnou is ons eendag spyt.”

Toe ek later die oggend weer oor twee matrasse strompel, weet ek hy was reg. Talle dinge wat op ’n bepaalde tyd vir ons ’n ergernis was, is juis die dinge wat ons mis en spyt is ons het nie toe waardeer nie. Ek maak elke matrassie op en glip ’n blokkie sjokolade onder die kussings in. Matrassie-dae gaan verby; ek kan dit net so wel onvergeetlik maak.

Liana Schönborn, Pretoria, Gauteng 

Van links: Dieter (15), Liana, Dane (14) en Reghardt (11) Schönborn.
Ons Facebook-ma’s vertel ... Wat was jou kind of kinders se eerste groot geskenk?

Lina van der Berg (30), Thabazimbi Met ons dogtertjie se tweede verjaardag het ons vir haar ’n springmat aangeskaf. Dis baie goed vir haar ontwikkeling en kan vir jare nog gebruik word!

Jani de Beer (35), Boksburg My seuntjie het verlede jaar 10 maande voor sy agtste verjaarsdag ál sy sakgeld en selfs sy snoepiegeld gespaar om ’n windbuks te koop. Hy droom daarvan om 'n antistroperwag te word en so ons wild te bewaar. Ons moes byna elke dag windbukse google sodat hy kon sien aan watter een hy sy geld sou bestee. Op sy verjaardag het ons sy windbuks vir hom gegee en hom geneem om bykomstighede met sy geldjies te koop. Sy oorblywende geld is gebruik om vir ons middagete te koop om dankie te sê en die res is aan wildbewaring geskenk. Ons is so trots op sy deursettingsvermoë.

Estee Spies (32), Cedarville Op my dogtertjie se tweede verjaardag het ons vir haar ’n springmat gekoop. Sy is nou amper 11 en het intussen ’n sussie en boetie bygekry en hulle spring nog amper elke dag op die springmat. Dit is die beste geskenk wat geld kan koop.

Elizabeth Bothma (30), Karoo Meliana-muis het vir haar derde verjaardag ’n fiets gekry. Dit was haar eerste groot geskenk. Lilly Barnard (30), Klerksdorp Ons het vir ons dogtertjie se eerste verjaardag ’n klimraam laat bou. Ons het ook haar ou babakamer in ’n grootdogtertjiekamer verander.

Anja le Roux (32), Jan Kempdorp My seuntjie het vir sy eerste verjaarsdag ’n geel Cat-trok by sy oom gekry. Hy is vandag amper vier en hardloop-stoot steeds daardie trok. Dis die beste present ooit!

Medela
Wen ’n Medela-geskenkpak ter waarde van R1 800!
Medela Purelan Nipple Cream help om sensitiewe en droë tepels te streel en gedurende swangerskap en borsvoeding ’n ekstra beskermende laag te vorm oor seer of geïrriteerde tepels. Medela Disposable Nursing Pads help om jou heeldag lank droog te hou en bied bedags en snags uitstekende absorpsie en lekbeskerming. Medela se kraam- en voedingsdrag sorg dat borsvoeding die natuurlike ervaring bly wat dit behoort te wees. Die voedingsbra’s, broekies en swangerskapslyfbande pas perfek en bied sagte ondersteuning.