WENBRIEF

Klein Marcus se ma dink hy is die mooiste seuntjie onder die son!

Twee maande in die NICU

Marcus is op 28 Mei 2020 gebore, baie onverwags. Ek het preëklampsie opgedoen en om ons albei te red, moes hulle hom so gou moontlik uithaal. Nooit sou enigiets my kon voorberei op die pad wat voorgelê het nie.

Marcus was 68 dae lank in die baba-waakeenheid (NICU). In dié tyd moes hy meestal asemhalingshulp kry van die ventilator of CPAP-masjien. (CPAP is die Engelse afkorting vir aanhoudende positiewe lugdruk.)

Hy het meer as een infeksie gehad, longprobleme, ’n bloedklontjie in sy hart, asook bloeddruk- en nierprobleme. ’n Tyd lank was hy ook in ’n kritieke toestand. Daar het soveel dinge gebeur wat ek nie regtig wil onthou nie. Dit was soos ’n wipwarit.Hy het elke dag so hard baklei!

Die dag het uiteindelik aangebreek dat ek hom huis toe kon neem en wat ’n fees was dit nie! Daar is steeds baie doktersbesoeke, maar dit is ’n klein prys om vir sy lewe te betaal.

Ek het nooit besef hoeveel babas vroeg gebore word nie. Daar is ’n hele gemeenskap van mammas en pappas met vroeë babas. Dis ongelooflik hoe almal mekaar ondersteun.

Ek was ook nie voorheen so bewus van my eie ondersteuningsnetwerk nie. Soveel mense het saam met ons gebid; mense wat ons nie eens ken nie.

Wonderwerke gebeur en Marcus is lewende getuienis daarvan.

Stephne Bannister Roodepoort, Gauteng


Luan is op die foto amper vyf maande oud.

Pandemie-baba

Ek stel graag vir Luan Ettienne du Preez voor. Hy is my blouoog-pandemiebabatjie, gebore op 2 September 2020 en nou amper vyf maande oud.

Luan is die vriendelikste gesiggie wat jy kan kry; ons eerste seuntjie. Ek is met Covid-19 gediagnoseer ’n dag voor my keisersnee moes plaasvind. Ek het geen simptome gehad nie. Nadat ek uit die hospitaal ontslaan is, was ek 14 dae in isolasie en het selfs met my masker geslaap omdat ek bang was hy word siek!

Marelize du Preez George, Wes-Kaap


Olivia Loftus
Olivia Loftus

Baba & Kleuter word selfs in Katar gelees!

Baba & Kleuter neem ouma se plek in

Ek verwag oor twee maande ’n seuntjie en ons liefste dogtertjiepop is 18 maande oud.

Ons woon in Katar en waar die plan was om in SA die lewe te skenk, het dinge weens Covid-19 verander.

Ek sal hier moet kraam en my ma en sussies sal Boetiebeer vir ’n hele ruk nie kan sien nie. Ek het my nooit kon indink dat my mense nie deel van my babatjie se eerste paar maande sou wees nie.

My hart is goed seer, maar ek sien ook uit na die intieme tyd wat vir ons gesinnetjie voorlê: net ek en my man, en ons dogtertjie en seuntjie. Soveel mammas wat oorsee bly moes hul eerste baba in die lewe bring sonder hul ondersteuningstelsel. Moeilike tye. My vriendin het drie weke gelede die eerste keer mamma geword en haar ma kon ook nie kom kuier nie. Haar ma kan haar nie van sproei en mastitis vertel, windjie-tegnieke wys of in haar oor fluister dat sy goed vaar nie.

Gelukkig kon ek ’n Baba & Kleuter in haar hand stop en sê: ”Lees!” Dis ’n lekker tydskrif vol goeie raad wat die plek kan warm hou vir oumas wat nie dadelik hul ekspat-kinders kan kom raad gee nie.

My dogtertjiepop is net so lief vir hierdie tydskrif met die baba op die voorblad. Ek is oortuig dis omdat die tydskrif in Afrikaans is en sy is lief vir háár taal so tussen al die Engels, Arabies, Spaans, Duits en Hindi wat sy hoor.

Mag die mammas wat ver woon meer genot en wysheid uit jul tydskrif put as ooit tevore!

Gerna Bester, Katar


Die Davis-gesin
Die Davis-gesin

Baie unieke tweeling

Toe Evan byna ’n jaar oud was, wou ons graag nog ’n kind hê. Ek het heelparty kommerwekkende simptome opgemerk soos haarverlies, aknee, ’n abnormale siklus en gewigstoename.

Ná verskeie toetse het die ginekoloog polisistiese ovariumsiekte (PSOS) gediagnoseer, wat die kans op swangerskap baie skraal maak.

Die nuus was ’n skok. Ons het oor die situasie gebid en besluit om op God te vertrou vir ’n wonderwerk.

Maand ná maand was die teleurstelling groot. My man, Kevin, het een aand ’n helder droom gehad van twee babas in blou kombersies. Ons het saam in verwondering oor die droom gelag.

’n Paar maande later het ’n swangerskap in ’n vroeë miskraam geëindig.

Nog twee weke later het ek pal olik gevoel en nadat geen medisyne wou help nie, is ons vir die soveelste keer na Pathcare vir bloedtoetse. Teen daardie tyd het die personeel ons al by die naam geken.

Kevin het die bloeduitslae gaan haal.

Ek was swanger! Ons is terug na my ginekoloog, waar hy ’n sterk hartkloppie op die ultraklank gesien en gesê het ek is vyf weke swanger. Ek en Kevin was so bly ons kon natuurlik swanger word. Ná die afspraak het ons in die motor gesit en vir God dankie gesê terwyl ons die sonarfoto’tjie bestudeer het.

Kevin het my aan sy bloukombersies-droom herinner en ons het geweet dat dit net ’n droom was. Ons was opgewonde om ’n gesonde baba te kon sien groei.

Op 11 weke is ek met rugpyn huisdokter toe, en het uit pure nuuskierigheid gevra of hy sommer daar in die spreekkamer ’n ultraklank kon doen.

Toe die dokter skerp na die skerm staar en my lêer nader trek, het ek begin bekommerd raak.

Hy het allerhande vrae gevra oor my swangerskap en uiteindelik die skerm na my gedraai. Daar, op die skerm, was twee besige babatjies duidelik sigbaar!

Ek was uit die veld geslaan. Ons het dan een dooiersakkie met ’n baba-hartkloppie gesien en hier is twee babas!

Ons ginekoloog het later verduidelik dat dit ’n baie seldsame verskynsel is omdat die een baba vyf tot sewe dae ná die ander een verwek is. Die verskynsel word oorbevrugting genoem en is baie ongewoon.

Albei babas het goed gegroei, alhoewel een kleiner as die ander was.

Ons unieke tweelingseuns, Colin en Nathan, is op 2 Mei 2012 gebore.

Ons is ongelooflik dankbaar. In 2016 is ons vierde seuntjie, Chad, gebore. Ons het dus ’n baie bedrywige huishouding, maar ’n huis vol liefde en dankbaarheid!

As ’n paartjie is ons passievol om ander te bemoedig wat met vrugbaarheid sukkel. Mag hierdie getuienis aan baie mense hoop bring.

Chantell Davis Oos-Londen, Oos-Kaap 

Wen!
E-pos jou brief na sharing@ypbmagazine.com.