WENBRIEF

Trotse ouma

Nolan, wat vir ons almal ”Boeta” is, is die grootste persoonlikheid, vreugde en lewe in een klein lyfie vasgevang; ’n replika van sy dierbare pappa, Stephan. Sy hele wese is omsoom met liefde, lag en hoogskop-blydskap. Sy lewensvreugde is aansteeklik en sy teenwoordigheid neem jou op reise na gister en laat jou groot drome droom oor al die môres wat nog kom. 

Hy klim met sy groot persoonlikheid en selfs groter bravade op sy swart fietsie en woerts deur ouma se huis. ’n Mens moet net keer dat hy nie by die voordeurtrappies afwip nie, want meneer Waaghals jaag te lekker en is selfs vrolik as hy stilhou om tolgeld te betaal. 

Hy bly volspoed by sy eie stories en met ’n ernstige ”no!” maan hy ’n ieder en elk tot stilte. Hy hou daarvan om sy sussie, Mila, se misstappe gou-gou oor te vertel en enige stryery dan net so vinnig met die warmste omhelsing stop te sit met ’n “I love you, Mila”. Hy help ouma reg wanneer ons appelliefies pluk: ”Moenie die groenes pluk nie!” 

Hy is ’n warrelwind wat ’n bal kolskoot met sy linkervoetjie skop, ’n sportiewe klein rakker met ’n groot gees. Hy skuif ewe gemaklik agter die klavier in en sit dan sommer ’n storieboek met groot presisie neer as die meesterstuk wat hy gaan uitvoer. 

Hy speel met soveel geesdrif dokter-dokter dat sy sussie glo dat hy eendag ’n regte egte dokter gaan word, en ek weet die lewe lê vir hom oop. 

Jy is eintlik nog klein, liefste Nolan, en op net twee jaartjies oud skryf jy Mila se ”M” en Nolan se ”N”, want jy kán. Jy is ’n kosbare klein na-aper wat hierdie lewe aangryp en leef! 

Jy is ’n voorbeeld vir ons almal, Nolan, wat met jou klein handjies in die lug “Halleluja, Halleluja” sing. 

Ouma glo jou naam sal eggo in alles wat jy aanpak. Jy is ’n klein legende en jou storie is mooi. 

Ons is bevoorreg om jou te hê en ons is saam met jou opgewonde oor al die avonture wat nog kom! Jy bring hoop. Emmers vol hoop! 

Ouma Alma Germishuys, Johannesburg, Gauteng.

Nolan Germishuys (2)
Nolan Germishuys (2)


Twee vegters

Laat in 2018 is dit bevestig dat ons verwag. Dit was die beste geskenk en grootste seën van God. Ons wou bitter graag ’n dogtertjie hê en het onmiddellik ’n naam gekies: Behati, wat “geseën en sy wat geluk bring” beteken. 

Dit was vir ons baie belangrik om ’n naam te kies met ’n positiewe betekenis omdat sy dit vir altyd saam met haar sal dra. 

Met die 14 weke-sonar is dit toe bevestig dat ons inderdaad ’n babadogtertjie verwag.

My swangerskap was van die begin af ’n uitdaging met hewige naarheid soggens en saans, en ’n moegheid wat ek vir niemand kon verduidelik nie. Daarby het ek ’n vrees­like hoes ontwikkel, maar het niks daarvan gedink nie omdat ek voorheen al met kwaai hooikoors gesukkel het. 

Op die aand van 15 November 2018 skrik ek wakker met ’n hoesaanval en spoeg bloed. Ek is opgeneem in die hospitaal en gediagnoseer met ’n gevreesde kiem wat lewensbedreigend is indien dit te laat behandel word: pulmonêre tuberkulose. 

Ek het onmiddellik met behandeling begin. Twee weke later, op 19 weke van my swangerskap, is ek in die waakeenheid opgeneem. ’n Koma is geïnduseer en ek is vir ’n noodprosedure gestuur. Die dokters het nie geweet of ek en Behati dit sou oorleef nie. 

Vandag is Behati 15 weke oud: ’n gesonde, pragtige dogtertjie wat vir ons baie plesier bring! Die Here het ’n plan vir haar, want sy is geseën. 

Petra van der Merwe, Durbanville, Wes-Kaap.

Marius en Petra van der Merwe en baba Behati (2 we
Marius en Petra van der Merwe en baba Behati (2 weke).


Sowaar swanger!

Daar is vir my en my verloofde gesê dat ons nie kinders sou kon hê nie. Sowat drie weke gelede het ek siek en naar begin voel. Johan, my verloofde, het my aangeraai om ’n swangerskaptoets te doen.

Ek het toe maar een gaan koop sonder om veel daarvan te dink – en ná vyf minute het ek begin bewe, want my droom om met my eie ge­sin te begin, het uiteindelik waar geword. Dis ons eerste en ek is nou vyf weke swanger!

Ek is dankbaar. Ek en Johan kan nie meer wag nie. En Johan praat amper meer met ons ongebore baba as met my!

Bianca Bronkhorst, Thabazimbi, Limpopo.


Son skyn weer ná diagnose

Ek is geseënd met ’n pragtige seuntjie van amper drie jaar oud. En het ’n mooi babadogtertjie op pad. Maar so ’n paar maande terug was dit nie sonskyn nie. 

Nét nadat ons uitgevind het ek is weer swanger, het my oudste seuntjie baie siek geword. 

Hy het oornag gewig verloor, maar onophoudelik geëet en gedrink. Ons is hospitaal toe. Sy suiker was 32,5. 

Kan my tweejarige ’n diabeet wees? Hoekom hy? By die hospitaal gekom en baie toetse later het ons vasgestel dat ons mooiste seuntjie tipe 1-diabetes het. 

Dit was vir ons sleg om daardie arme lyfie so in die hospitaal te los, en met stukkende harte het ons besluit dat ons dit nooit weer wil ervaar nie. 

Ons het vier dae later tuisgekom met insulien wat ek moet inspuit. Ons moet ook kort-kort sy bloedsuiker toets. 

Dit is al drie maande sedert diabetes by hom gediagnoseer is. Sy bloedsuiker is onder beheer omdat ons so hard werk om reg te eet. 

Trots op jou, my seuntjie. 

Aan al die mammas in my skoene: Hou so aan, tipe 1-mamma! Die son skyn weer. 

Ruby Steenkamp, Randfontein, Gauteng.

Oliver Steenkamp saam met pa JP.
Oliver Steenkamp saam met pa JP.


Ek sien nie goed nie, maar ...

Op jou merke, gereed, weg! Dit is ’n wedren. ’n Oordrewe komedie. Nee, dit is absoluut lieflik, elke dag. Elke oomblik met kinders is anders! Ek is van mening dat party oomblikke van kinders grootmaak soos kraam is. Dit is so traumaties dat jou brein daarmee wegdoen en jy dit vergeet, en dan is daar weer ander tye wat meer kosbaar as goud is.

Ek het drie pragtige kinders sonder wie ek my nie my lewe kan indink nie: ’n vierjarige, ’n driejarige en ’n baba van 10 maande oud. My lewe is vol en besig! 

Ek was nog altyd lief vir ’n uitdaging, maar my kinders is verseker my grootste uitdaging nog. Ek is gesiggestrem. My linkeroog is blind en ek het baie beperkte sig in my regter oog. Ek is dus wetlik blind.

My gestremdheid het my lewe nog nooit gedefinieer nie, maar ek moes wel nog altyd ’n bietjie harder werk. 

Ek kan dalk nie so goed bal vang soos my vierjarige seuntjie nie, ek kan dalk nie motor bestuur én sien as hul stout is nie. Glo my, hulle begin nou mooi verstaan dat hul mamma nie mooi kan sien nie! Ek dank die Here vir ander sintuie wat in ”overdrive” inskop en daardie stemmetjie (wat net mammas ken) wat jou aansê om vinnig te gaan kyk! 

Ek leer my kinders deur my lewe om nie op te gee nie, te volhard, om deernis en sagmoedigheid teenoor ander te wys, die Here bo alles lief te hê en om mense wat anders is, dieselfde te laat voel.

Verder is ek dieselfde as enige ander mamma: Ons werk hard, slaap min, gaan badkamer toe met ’n hele gehoor. 

Ek kruip nes ander ma’s vir my baba weg op die eetkamertafel net om in vrede ’n koppie tee klaar te drink, ken die hele Paw Patrol-temalied, huil party dae oor als en ander dae is die refluks op my hemp heerlik!

Goed gedoen, mede-ma’s! Julle is ongelooflik.

Gisela Malan, Pretoria, Gauteng. 

Ons Facebook-ma's vertel...

Glo jou kind aan Kersvader? Of weet hy of sy dat dit jy is wat die geskenke onder die Kersboom pak?


Nadia de Villiers van Jagersfontein, Vrystaat My dogtertjies, Mia (7) en Zané (3), glo steeds aan Kersvader. Ons doen elke jaar baie moeite om hulle opgewonde oor Kersfees te maak. Hulle weet ook dat Kersfees eintlik oor Jesus se geboorte gaan, want ons het reeds die grootste Geskenk ontvang. 

Sandra de Bruyn, Pretoria, Gauteng My twee dogtertjies (9 en 7) glo aan Kersvader. Die kleuterskool wou hê ons moes geskenke vir hul Kersboom koop. Hulle het self gekies wat hulle by die “skool-Kers­vader” wou hê, want Kersvader betaal die geld weer terug aan mamma deur haar foon, en hy is te besig om die regte geskenke te pak. Dit is waarom Kersvader in die winkel moet wees en waarom mamma en pappa moet help. Hulle weet ook waar­oor Kersfees eintlik gaan. Die kinders by die skool wat die waarheid weet, het dit vir hulle vertel. Toe het ons die fliek Rise of the Guardians vir hulle gewys sodat hulle besef party glo en ander nie ... 

Sonja van Zyl, Bredasdorp, Wes-Kaap My dogtertjie, Mila (3), is versot op Kersfees. Sy glo nog aan Kersvader en help om die boom te versier. Ons strooi ook poeier op die mat om te kan sien as Kersvader die geskenke gebring het en of hy sy koekies en sjoko­lademelk kom nuttig het. Die opgewondenheid loop hoog in die laaste week voor Kersfees. Sodra sy op Kersdag wakker word, hardloop sy om die voetspore te volg en gewoonlik lê Kersvader se klere dan in ’n hoop op die vloer omdat hy nie daarmee aan by die venster kon uitklim nie.