WENBRIEF

Lizay Cilliers (nou 4) en haar mamma, Mari. Wie so
Lizay Cilliers (nou 4) en haar mamma, Mari. Wie sou vandag kon dink sy het as baba ’n ernstige skedeloperasie gehad?

Sonder skedelnate gebore

Ons was opgewonde toe ek ons tweede kind verwag en hoor dis ’n dogter­tjie. Die swangerskap het goed verloop en Lizay is op 17 Februarie 2016 op Nelspruit gebore. Sy was 56 cm lank, het ’n stewige 3,6 kg geweeg en ’n bos hare gehad! 

Met haar sesweek-inentings by die pedia­ter is ons voete onder ons uitgeslaan. 

Lizay het nie sagte plekkies op haar koppie (fontanelle) gehad nie. Haar skedel was aanmekaar vasgeheg. Die pediater het verduidelik dat ’n neurochirurg haar skedelbeen moes skei om wiggies in te plaas. Sonder die operasie sou daar nie plek wees vir haar brein om te groei nie, en sou haar kop dus misvorm raak.

Ons het talle skanderings en bloedtoetse deurgemaak en is na ’n chirurg by die Unitas-hospitaal in Centurion verwys wat ’n prosedure genaamd kraniosintese sou doen. Dit het behels dat ’n sny van sowat 10 cm op haar klein koppie gedoen sou moes word. Die operasie het plaasgevind toe sy maar net twee en ’n half maande oud was. 

Ons het drie lang ure voor die teaterdeur deurgebring. Toe ons pop uit die teater kom, was daar soveel drade, pype en dreineringspype aan die kopwond geheg. Haar bos hare was ook afgeskeer. 

Lizay is op drie vir die eerste keer na ’n kleuterskool toe omdat ons stampe teen haar kop moes vermy. Sy is ’n vegtertjie en ons is be­voorreg om haar so lank by die huis te kon hou.

Ons gaan steeds elke ses tot 12 maande vir opvolgafsprake na die neurochirurg toe, maar vandag is sy amper vier jaar oud – so sterk as wat kan kom en normaal soos enige ander kleuter van haar ouderdom.

Mari Cilliers, Nelspruit, Mpumalanga


Eensame miskraam

Wanneer ’n mens ’n miskraam kry, voel dit of jy heeltemal alleen is. Vroue wil nie daaroor praat nie. Dis asof dit ’n verbode gesprek is. Hoekom is dit so? 

’n Mens hoor eers daarvan wanneer jy dit self beleef en met iemand deel. Dan eers hoor jy dat daar ander mense is wiese lewe daardeur geraak is. Ek verstaan nie hoekom dit so moet wees nie. 

Hierdie seer is iets wat gedeel moet word sodat ander mense weet wie pyn ervaar. Dis soveel makliker om met mense te deel wat self daardeur geraak is. Wat self wonder waarom, of dit jou skuld is en wat ’n mens doen om aan te beweeg. 

Daar is soveel vrae: Wanneer is die regte tyd om weer te probeer? Is dit verkeerd om so gou moontlik weer te probeer?

’n Mens beleef soveel emosies in so ’n tyd. Wat dit moeilik maak, is wanneer jy dink aan hoe ver swanger jy vandag of gister sou gewees het, of hoe lank al jou engelkind nie meer daar is nie. 

Deel jou moeilike tyd, want dit is nie altyd maklik om met vriende en familie te praat nie. Hulle probeer verstaan, maar kan nie regtig nie. Hulle probeer daar wees, maar hulle weet nie hoe nie. 

Aan almal wat al so iets deurgemaak het: Jy is nie alleen nie. Daar is baie ma’s wat jou pyn verstaan. 

Karien Theron, Kraaifontein,Wes-Kaap


Jano Hanekom (20 maande) het sy ma, Liezel, se lew
Jano Hanekom (20 maande) het sy ma, Liezel, se lewe vir goed kom verander.

Niks kan jou voorberei …

Niks kan jou voorberei op dit wat op jou wag wanneer jy vir die eerste keer ’n ouer word nie. Geen tydskrifartikel, boek of televisieprogram kan jou vertel presies hoe dit gaan wees nie. 

Ek is ’n verpleegkundige, maar het alles wat ek geleer het bevraagteken en my eie onsekerheid aangevuur. Ek het my ore uitgeleen aan elkeen se raad en soos ’n mislukking gevoel as ek besef ek moet maar die pediater se hulp inroep, want niks help nie.

Die broos babatjie het ontwikkel in ’n woelige peuter en ek wonder hoe die tyd so vinnig verbygeglip het. Gister was ek nog ’n emosionele wrak vol hormone en vandag is daardie moeilike dae skoon vergete. Die meeste dae het ek gebid dat ek met min slaap deur die dag sou kom en nou word ek snags vanself wakker om seker te maak dat my seuntjie gemaklik slaap. Hy slaap altyd rustig, maar my moederhart wil dit self sien. 

Aan ’n nuwe ouer wil ek sê: Dis normaal. Alles. Al die emosies, onsekerheid en verwyt wat jy ervaar. Moenie jouself verloor omdat jy dink jy is nie goed genoeg nie. Elkeen van ons is daardeur en binnekort dink jy terug en wonder of daar regtig moeilike dae was. Jou sukses as ouer sal weerkaats in jou kind se glimlag. 

Liezel Hanekom, Ceres, Wes-Kaap


Alyssa Loftus en klein Wynand (3), oftwel Ouboet K
Alyssa Loftus en klein Wynand (3), oftwel Ouboet Kabouter.

Tantrumsen taai toffies

Ek is gaande oor Baba&Kleuter! En was ook bevoorreg genoeg om self as ’n kenner in ’n uitgawe geraadpleeg te word.

Ek deel graag my ervaring as mamma van twee.

"Nee, mamma moet. Mamma moet by my lê! Nie pappa nie. Mamma!" 

Só kerm-huil-skreeu my amper driejarige grootoog-kabouter net voor slaaptyd nadat hy besluit het wie vanaand by hom moet lê tot hy na droomland wegge­voer word.

Dis weer een van dáái dae. Daardie hoogs uitdagende dae: van verseg-om-my-middagslapie-by-die-skool-te-vat-en-nou-is-ek-totaal-verby-moeg-en-aaaaaaalles-is-’n-stryd!

Moet my nie verkeerd verstaan nie. Ek is ontsettend lief vir my twee seuntjies. Maar party dae voel dit of my geduld en vermoë om kreatief te redeneer tot die uiterste beproef word – veral in die geval van Oudste. (Boetiebaba praat gelukkig nog nie terug nie, maar gil net met ’n skril stemmetjie as hy gehóór wil word).

Terug by vroeër vandag: Die groenplastiekeetlepel moes eintlik blou gewees het, die hond het sy hand gelek, en hy wou die asmapompie se doppie “self” (julle ken mos daai woord) afgehaal het. Emosies het behoorlik gesneeubal.

Vanaand is almal moeg. Hierdie mamma het nog so baie om te doen voor dit my beurt is om in te kruip. En hier sit Oudste Kabouter steeds kiertsregop en verseg om te slaap. 

"Want mámma moet by my lê!" Die laaste maande was pappa goed genoeg; ek weet nie wat nou gebeur het nie.

Ek bid om wysheid. Ek bid om onder­skeidingsvermoë.

Wanneer is dit net die moegheid wat praat en wanneer is dit pure ongehoorsaamheid, soos wanneer hy aspris kliphard geluide maak wanneer ek met manlief probeer praat?

Wanneer moet ek grense stel en dissi­plineer, en wanneer het hy net liefde en aanvaarding nodig?

Vanaand het ek die "by-hom-wees"-opsie gekies, my arms om sy snikkende lyfie gevou en hom net vasgehou. ’n Paar souttraan-soentjies op die wang en twee snotterige tissues later krul sy mondhoekies weer in ’n half-glimlag op en soek sy groot oë myne. 

En ek weet in my hart dit was die regte besluit. Ons siele het ontmoet en ons verhouding het verdiep.

Alyssa Loftus, George, Wes-Kaap


Christel van den Berg het haar ma baie gemis met d
Christel van den Berg het haar ma baie gemis met die geboorte van klein Lea (hier drie maande oud).

Ouma se plek is leeg

Dit voel soos Johannesburg se spitsverkeer, maar ons is dankbaar vir elkeen wat kom kuier en iets bring vir die nuwe lewe wat gevier word. 

Dit maak nie saak hoeveel mense langs jou bed sit of hoeveel besoekers jy kry nie, daar was een mens wie se plek langs my hospitaalbed leeg was. Dis ’n leemte wat nie gevul kan word nie en wat ’n brandende gat in jou hart los. 

Jy is op die hoogtepunt van jou lewe – iemand wat onvoorwaardelik liefgehê gaan word, iemand wat daar móét wees want niemand kan jou plek inneem nie. ’n Ma. Dit is die mooiste woorde ooit, maar die stoel langs jou bed bly leeg want jóú ma is nie daar nie. 

’n Mens besef nie die rol van ’n ma in jou lewe tot sy nie meer daar is nie. Die meeste vroue wat hospitaal toe gaan om te kraam, aanvaar as vanselfsprekend dat hul ma daar gaan wees. Ook dat hul ma hul sal bystaan en ná die geboorte sal help met alles wat nuut is. Ongelukkig is daar iewers in dieselfde hospitaalgang iemand wat daardie voorreg verloor het.

Ek skryf nie vandag om jou hartseer te maak nie, ek skryf sodat jy jou ma waardeer. Wees dankbaar vir elke oomblik saam met haar. Haal die meeste uit van elke oomblik en elke dag. Vergewe en vergeet, en wees lief vir mekaar. 

Moet haar nie as vanselfspre­kend aanvaar nie.

Christel Van den Berg, Parys, Vrystaat 


Ons facebook-ma’s vertel ...

Ander mense kan soms die vreemdste dinge oor jou kinders kwytraak, al ken hulle jou en jou kroos van geen kant af nie. Wat is die snaaksste kommen­taar oor jou kinders wat jy al in die winkel by ’n vreemdeling gehoor het?

Amanda Bosch (25), Brakpan, Gauteng My dogtertjie is met ’n klompvoet gebore en het ’n paar maande lank gips gedra. Mense het altyd gevra: “Haai shame, wat maak julle met die arme baba?” of “Wie het haar seergemaak?”

Maryke Vermeulen (35), Kraaifontein, Wes-Kaap My seun het lang, donker wimpers. ’n Vrou het na hom gekyk en gesê: “What beautiful eyelashes; just wasted on a boy.”

Muzelle Greeff (41), Oranjemund, Namibië Ons kry dié een baie: “Ag moeder, is dit ’n tweeling?” Nee, dis ’n drieling. “Genade, ek wil nie jy wees nie!” Julle wil nie die uitdrukking op hulle gesig sien nie! Gelukkig steur ons ons nie daaraan nie.

Lize Heystek (31), Bellville, Wes-Kaap Elke keer as ek met my vyf maande oue seuntjie in die winkel is, noem iemand hom ’n dogtertjie. As ek antwoord dat hy ’n seunskind is, reageer hulle: “Nee, dit kan nie wees nie. Hy is te mooi om ’n seuntjie te wees.”

Marissa Fourie (33), Stellenbosch, Wes-Kaap Ek het ’n fototjie van my (toe) agt maande oue, gesonde seuntjie vir ’n kliënt gewys. Haar reaksie: “Ag, my liewe moeder! Kyk daai vet wangetjies, lyk nes ’n hotelkat!”


Clever Little Monkey
Clever Little Monkey
Wen ’n geskenk van Clever Little Monkey ter waarde van R1 990!

Die skrywer van ons wenbrief kry ’n lieflike geskenk ter waarde van R1 990 by cleverlittlemonkey.co.za

Nooi die natuur in met Clever Little Monkey se pragtige Monstera Leaf-mat van 100 persent katoen, geskep deur die internasionale handelsnaam Lorena Canals. Die mat kos R1 990 en is gemaak van natuurlike materiaal. Geen skadelike kleurstowwe of chemikalieë is gebruik nie, dis masjienwasbaar en maklik om skoon te maak. Perfek vir babas, peuters, kleuters en hul ma!