Met groot opgewondenheid is ons vir ons 24-weke-ondersoek by die ginekoloog. Op die oog af lyk alles goed. Boetie is mooi groot en ons hart bars van trots!
Ongelukkig sien die dokter toe dat ek ’n onbekwame serviks het en dat baba op pad is. Dit is nog hopeloos te vroeg, maal dit deur my kop! Nadat ons hospitaal toe gejaag het en ’n steek ingesit is, begin die kontraksies nietemin. Toe is dit per ambulans Sandton toe, waar daar ’n sterk neonatale eenheid is. Dit het nege weke geduur voor die kontraksies opgehou het.
Ek was voete in die lug, kon nie rondloop nie en my familie was ver – allesbehalwe die perfekte swangerskap. Ek het nie ’n babatee of die gewilde fotosessies gehad nie. Ek kon nie eens ons nuwe kleinding se kamer regkry nie!