Elke kind is uniek, maar tog deel soveel eersgeborenes oor die wêreld heen bepaalde karaktertrekke terwyl middelstes en jongstes ook tipies in ander boksies geplaas kan word.
Ouers verbeel hulle dit nie. Navorsing het dit oor en oor bewys: Die volgorde waarin jou kinders gebore word, speel ’n rol in hul persoonlikheid. Maar waar kom dit vandaan? Sielkundiges meen dis nie aangebore nie, maar het te doen met hoe ouers hul kinders grootmaak. Die invloed van geboorte-orde word sosiaal gevestig: Dit gaan oor hoe ons ons kinders hanteer. Dit het weer ’n uitwerking op ontwikkeling en hoe jou kinders hulleself beskou. Jy kan stry, maar ouers hanteer hul oudstes, middelstes en jongstes dikwels verskillend weens praktiese oorwegings soos tyd en geld.
Gelukkig is die invloed van geboorte-orde nie in sement gegiet nie. As jy bewus word van wat jy met elke kind anders doen en begin verstaan hoe kinders tipies op hul hantering as oudste, middelste of jongste reageer, kan jy jou ouerskap dalk anders aanpak ...