Ken jy daardie sinkende gevoel? Julle sit in ’n restaurant en skielik vra jou klein­ding kliphard: “Mamma, wat is seks?” Jy kry simpatieke kyke van ander ouers, ’n tiener proeslag en almal wag om te hoor hoe jy hierdie een gaan verduidelik!

Jou kleuter is ’n leergierige wesentjie wat ál meer vrae vra om sy nuuskierigheid te bevredig oor die dinge wat hy by maatjies hoor, op die televisie sien of mense oor hoor praat. Hierdie vrae kan jou onkant betrap, maar jy kan dit juis benut om jou kleinding uit die oogpunt van jul waarde­stelsel meer van die lewe te leer.

Naomi van Wyk, ’n opvoedkundige sielkundige van Stellenbosch en skrywer van die boek Veilig en vreesloos (LAPA), sê jou kind se vrae gee jou ’n wonderlike geleentheid om moeilike sake op ’n natuurlike manier aan te roer.

“Dit gee jou ’n ‘deur’ wat jy kan gebruik om jou kleinding oor die lewe te leer,” sê Naomi.

As jou kleuter dus vra oor ...

Die dood

Jou eie geloofsoortuigings sal ’n groot invloed hê op hoe jy die dood vir jou kleuter verduidelik, sê Naomi. So ook hoe jy as ouer die dood sien, en hoe naby die gestorwene aan die kind was.

“Die dood is vir kinders nie permanent nie. Hul konsep van tyd is ingestel op nou, nie op die verlede nie en ook nie op die toekoms nie. Kinders kan nie intense emosies vir lang tye volhou nie. Hulle kan dus vir ’n oomblik baie hartseer voel oor iemand se dood, maar die volgende dag (soms die volgende uur by jong kinders) weer heeltemal vrolik wees.”

Erken net jou kind se emosies, sê Naomi, maar moenie probeer om vir hulle die permanensie van dood te verduidelik nie. “Hulle verwerk die dood oor ’n langer tydperk en is minder sentimenteel daaroor as grootmense. Hulle sal in elk geval oor ’n dag of ’n week weer vra ‘Waar is oupa dan?’ Die beste is om vir ’n kind so eenvoudig moontlik te verduidelik dat die persoon dood is en dat dit beteken dat hy glad nie meer seer het nie en nie meer swaarkry nie.”

Naomi sê ouers moet verwag om weer en weer vrae daaroor te hoor. “Mettertyd sal jou kind waarskynlik die dood wat hy beleef het uitspeel, uitteken en op verskillende maniere die inligting wat jy hom gee gebruik om self sin te maak van wat gebeur het.”

Rassisme

Kinders het nie op hul eie enige begrip van rassisme nie – dis iets wat geprojekteer word deur die reaksie van grootmense om hulle, verduidelik Naomi.

“Die manier waarop jy oor mense van verskillende rasse praat en hoe jy teenoor ander mense optree, gaan baie meer beteken as enige woordelikse verduideliking wat jy ooit vir ’n kind kan gee. Grootmense dink dikwels kinders is blind en doof, behalwe as jy wil hê hulle moet luister en sien! Jou kinders let na alles op wat jy doen en sê – veral wanneer jy met ander grootmense praat. Wees dus baie versigtig oor wat jy sê en doen wanneer jou kinders naby is – hulle suig jou vooroordele soos sponsies op.

“Jy kan rassisme so vir ’n kind verduidelik: ‘Alle mense lyk verskillend en mense doen ook nie dinge presies dieselfde nie. Partykeer is dit vir mense moeilik om te verstaan as iemand anders, baie anders lyk of dinge baie anders doen as wat hulle dit doen. Dan besluit hulle sommer dat dit ‘verkeerd’ is om so te lyk of so iets te doen. Dis baie onregverdig, want eintlik is ons almal mense en is ons baie meer dieselfde as wat ons verskillend is.’ As jou kind met stereotipes oor mense vorendag kom, wys vir hom weersprekende voorbeelde uit.”

Seks

As jy nog nie onverhoeds betrap is deur ’n witwarm vrytoneel op ’n televisie-­advertensie nie, is jy baie gelukkig. En natuurlik is kleutervrae onvermydelik. Nuuskierigheid by kinders oor seksualiteit (en hul eie liggaam) is doodnatuurlik.

“As vrae oor seks op ’n ewe natuurlike manier beantwoord word, kan dit so bly. Kinders jonger as agt het geen emosionele verbintenis met inligting oor seks nie. Dit beteken dat hulle inligting oor seksualiteit hoor en aanvaar soos hulle inligting oor die weer aanhoor. Dit is dus die maklikste tyd om met jou kleuter oor seks te begin praat.

“Stories oor seks is vir jong kinders net dit – stories,” verduidelik Naomi. “Jy kan die storie van geslagsgemeenskap, swangerskap, geboorte en menstruasie alles vertel op ’n manier wat lig en vrolik is en wat die wonderwerk van ons liggaam eer. Daar is baie oulike boeke wat jy ook kan gebruik.”

Armoede

Gewoonlik aanvaar jong kinders verskille in status en finansiële posisie sonder enige kommentaar, sê Naomi. “As jou kind direk vra oor armoede soos ‘Hoekom bedel daardie oom?’, verduidelik: ‘Daar is mense wat nie so gelukkig soos ons is nie. Ons het genoeg geld om kos en alles wat ons nodig het, te koop. Nie almal het genoeg geld nie, partykeer omdat hulle nie werk kan kry nie of omdat hulle om die een of ander rede nie kan werk nie.’

“Dikwels wil kinders graag help – jy kan verduidelik dat dit grootmense se werk is om ander grootmense te help, maar dat hulle kinders kan help deur nooit te spot met iemand wat minder het as hulle nie,en met almal te speel.”

Oorweeg dit ook om saam met jou kinders by ’n liefdadigheidsaksie betrokke te raak om die begrip van liefdadigheid op die regte manier te verduidelik.

Misdaad

Kinders hoef nie van die werklikheid van misdaad te weet nie, want hulle is nog nie emosioneel of sielkundig gereed om dit te hanteer nie, sê Naomi.

“Ongelukkig is dit in ons land baie moeilik. Kinders hoor nuusberigte of die stories wat ons en ander vertel. Beskerm jou kleuter waar moontlik teen stories oor misdaad en geweld.”

Jong kinders moet kan voel dat hulle veilig is. Vrees is ’n verlammende emosie, veral vir kleintjies wat nog heel afhanklik is van die goedgesindheid van grootmense om te kan oorleef.

Dit beteken jy moenie jou kind verskrik of bangpraat met stories oor misdaad nie, en moet ook nie toelaat dat jou kleuter saam met julle nuus kyk nie – dis nie ouderdomstoepaslik nie. En as jou kind wel hoor van misdaad of daaraan blootgestel word, minimaliseer dit so goed as wat jy kan, sê Naomi.

“Praat daaroor in ’n ligte stemtoon en hou gru-details daaruit. Verseker jou kind dat jy alles doen wat nodig is om hom veilig te hou. Beklemtoon dat die polisie die skelms sal kry en dat hulle gestraf sal word. Jong kinders het ’n natuurlike sin vir regverdigheid en kan hulle verlustig in die gevolge wat die skelm moet dra vir dit wat hy verkeerd gedoen het.”

En as hy bang is, span sy verbeelding in, sê Naomi. “Onthou, ons hond is die beste waghond in die wêreld. Sy oë en ore sien en hoor nog beter as joune – hy pas ons elke aand op.

“Dink net as hy ’n skelm hoor – hy sal begin blaf en sommer ’n gat in die skelm se broek byt – dan kom pappa aangehard­loop en hang hom aan sy ore aan die wasgoeddraad op …”

Kinders kan so ’n storie uitbrei met wilde verbeeldingsvlugte wat hulle weer in beheer kan laat voel. 

WENK

As die situasie regtig ongeleë is vir die beantwoording van jou kind se vraag, sê: ‘Dis regtig ’n goeie vraag. Ek kan nie nou verduidelik nie, maar ek sal sodra ons by die huis is.’

Goue reëls
  • Moenie jok nie.
  • Hou die antwoorde en taal eenvoudig en op jou kind se vlak.
  • Gee genoeg inligting, maar nie te veel nie.
  • Moenie haar blootstel aan dinge waarvoor sy nog nie gereed is nie.