Johnson’s is groen

Meer as 40 jaar ná die bekendstelling van die universele herwinningsimbool word net 14 persent van plastiekverpakkings vir herwinning versamel. Johnson’s fokus nou daarop om ál meer herwonne stowwe vir verpakking te gebruik, minder produkte te vervaardig wat net een keer gebruik kan word en teen 2025 al hul verpakkings herwinbaar en bio-afbreekbaar te hê.

Getty Images

Soveel kinders soek liefde

Die Nasionale Aannemingskoalisie van Suid-Afrika (NACSA) se veldtog Experience the Magic of the Right Fit fokus daarop om te wys hoe die lewe van ’n kind verander wanneer hy of sy daardie spesiale ouer vind. Daar is soveel struikelblokke wat keer dat ouers die aannemingsproses aandurf, en hierdie veldtog wil kwessies soos beperkte kennis, sosiale en kulturele mites en bekostigbaarheid oorkom. Gaan gerus na adoption.org.za of stuur ’n epos na info@adoption.org.za as jy nog inligting nodig het oor hoe om aan te neem.

FerriCHECK

Toets jou yster

Het jy geweet nuwe syfers wys dat die helfte van Suid-Afrikaanse vroue tussen 16 en 35 jaar oud ’n ystertekort het? Dit is ook die algemeenste gesondheidsprobleem by swanger vroue, sê professor Vernon Louw, hoof van die afdeling kliniese hematologie aan die Universiteit van Kaapstad. As jy moeg, geïrriteerd, vergeetagtig of bleek is, seksueel sukkel of ’n seer tong, haarverlies en ’n onweerstaanbare drang na veral ys, grond en klei het (maar ook na kossoorte), het jy rede tot kommer. Nog simptome sluit in dat jy sensitief is vir koue en dat jou naels maklik versplinter of breek. Die meeste mense met ’n ystertekort sal minstens een van bogenoemde simptome ervaar, maar kan ook meer hê. As jy swanger is, aan ’n ystertekort ly en ook bloedarmoedig is, kan dit die volgende vir jou baba beteken:

  • ’n Lae geboortegewig;
  • Vroeë geboorte;
  • ’n Lae Apgar-telling;
  • ’n Groter risiko om in die neonatale intensiewesorg-eenheid opgeneem te word;
  • Teleurstellende binding met jou;
  • Kognitiewe en gedragsprobleme wat tot ’n dekade ná die geboorte kan duur; en
  • Vertraagde groei en ontwikkeling.

Onthou dat ’n hemoglobien-toets nie genoeg is nie – jy kan wel ’n FerriCHECK-toets tuis doen om jou ferritienvlak te toets. (Ferritien is ’n proteïen wat yster berg en vrystel.) As jy te min ferritien het, moet jy jou dokter of ginekoloog daarvan vertel sodat ’n volledige bloedtoets uitgevoer kan word. Die FerriCHECK-toets kos sowat R140 en is by apteke te koop.

10 DAE VIR PA'S
Daar is vordering as dit kom by ouerlike verlof in Suid-Afrika. President Cyril Ramaphosa het die Wysigingswet op die Arbeidswet onderteken. Hierdie nuwe wet lees dat enige werknemer nou daarop geregtig is om 10 dae se ouerlike verlof te neem wat deur die Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF) uitbetaal word. ’n Enkel ouer van ’n kind onder twee – dit maak nie saam van jou geslag nie – is geregtig op 10 dae ouerlike verlof, en as daar twee aanneemouers is, sal een geregtig wees op aanneemverlof en die ander op dié ouerlike verlof van 10 dae. Daar is steeds vordering te maak, maar hierdie nuwe wet is ’n tree in die regte rigting.

Hartland van rooibostee

Rooibos-liefhebbers kan op Saterdag 30 Maart 2019 die eerste Rooibos T-Fees op Clanwilliam buite Kaapstad bywoon. Die fees word op die rooibosplaas Jakkalsvlei gehou en feesgangers kan sien hoe tee verbou word, van die snyslag tot dit gedroog word. Daar sal meer as 100 rooibostee-geure beskikbaar wees. Vir kosliefhebbers is daar demonstrasies deur die Koekedoor-wenner Corli Botha en die Kokkedoortjie-wenner Edwin Theron. Toegang tot demonstrasies is gratis, maar beperkte plek is beskikbaar. Daar sal ook ’n Plaasmeisie- en Plaasseun-kompetisie gehou word en die inskrywingsfooi per kleuter beloop R50. Koop kaartjies aanlyn by Quicket teen R120 elk. Kinders tussen ses en 12 jaar en pensioentrekkers betaal R60. Gesinspakkette is beskikbaar en jy kan ook kaartjies by die hek koop. Stuur ’n e-pos na fees@rooibosinfohub.com, bel 027 482 1007 of gaan na rooibosinfohub.com. as jy nog inligting nodig het.

Origin-kraam­hospitaal in Panorama, Kaapstad

Watergeboorte in die moederstad

Noudat die waterbeperkings in Kaapstad effens verslap het, kan jy weer ’n watergeboorte by die Origin-kraamhospitaal in Panorama, Kaapstad oorweeg. Origin is die enigste hospitaal in die Wes-Kaap met ses spesiaal ontwerpte baddens om pynverligting gedurende geboorte aan te help. Die baddens is spesiaal ontwerp om aan die vereistes vir temperatuur en kliniese higiëne te voldoen. Daar is koningingrootte beddens in die geboortekamer sodat jou maat saam met jou daar kan oorslaap. Bel 021 911 0650, stuur ’n epos na reception@omhs.co.za of gaan na originmaternityhospitals.co.za as jy nog inligting verlang.

Keedo doen hul deel vir borskanker
Dié wat met borskanker gediagnoseer is, of iemand na aan hulle ken wat hier deur geraak is, weet hoe emosioneel uitputtend dit is. Die fisieke gevolg is ook dikwels katastrofies. In 2017 is bilaterale borskanker by die Keedo-stigter Nelia Annandale gediagnoseer. Dit het haar laat wonder hoe sy dit wat met haar gebeur het kan gebruik om ander te help, en as ’n gevolg het die projek, Mangaliso, die lig gesien. Hierdie projek behels dat baie vroue gratis ondersoek sal word vir moontlike borskanker sodat daar so gou as moontlik opgetree kan word. Besoek jou dokter so gou as moontlik as jy veranderinge in jou borste sien, ’n familiegeskiedenis het van borskanker en ouer as 40 is. Besoek keedo.co.za om Nelia se video te kyk.
Getty Images

Geen alkohol tydens swangerskap

Suid-Afrika het die hoogste voorkoms van fetale alkoholsindroomsiektes (FASD) in die wêreld, en studies wys dat meer as 11 persent van kinders wat hier gebore word, die een of ander vlak van FASD het. Dit is 14 persent hoër as die wêreldwye gemiddelde voorkoms van die toestand. Terwyl jy swanger is, is geen hoeveelheid alkohol veilig nie. Dit kom binne 20 minute by jou ongebore baba uit en is giftig vir hom. Dit kan skade aan sy organe, brein en senustelsel veroorsaak. Babas wat in die baarmoeder aan alkohol blootgestel is, loop die gevaar om permanente breinskade op te doen. Sowat ses miljoen mense in Suid-Afrika word deur FASD geraak en minstens drie miljoen deur FAS (fetale alkoholsindroom), aldus ’n verslag deur die Stigting vir Alkoholverwante Navorsing.