Katvoet deur die kuberruim

akkreditasie
Elke skatlike foto of storie wat jy vandag van jou kind op sosiale media pos, haak vir ewig in die kuberruim vas en kan eendag deur iemand vir watter doeleindes ook al gebruik word. Moet dit ons bekommerd maak?

As jy ooit op skool verleë was toe jou ma een of ander vreeslike foto van jou babadae vir jou maats gewys het, sal jy verstaan wat dalk eendag op jou kinders wag as jy nie versigtig is oor wat jy alles op Facebook sit nie.

Waar jy moontlik nog daai badtydkiekie uit iemand se hande kon ruk en jou die ergste verleentheid spaar, is dinge deesdae oneindig ingewikkelder.

Hoewel Facebook se oorweldigende gewildheid en twyfelagtige respek vir privaatheid daarvan ’n spesifieke probleem maak, is dit maar net één van baie verskynsels waarvoor jy katvoet moet loop. Webtuistes, digitale dienste en sosiale media vorm ’n ingewikkelde netwerk waarvan die komponente op mekaar inwerk en teer.

Boonop maak derduisende van die slimste mense op die planeet dit hul werk om nuwe maniere te ontwikkel om nóg meer inligting oor ons almal te versamel. Bogenoemde klink dalk onheilspellend, maar dis nou ook nie nodig om jou kind in digitale ballingskap te probeer grootmaak nie. Trouens, dis waarskynlik glad nie eens moontlik nie.

Jou kind se virtuele bestaan

’n Veel verstandiger benadering is om te aanvaar dat jou baba se aanlyn-identiteit al begin bestaan maande voor hy of sy gebore word. Dit sal aanvanklik hoofsaaklik vae inligting wees, soos die ginekoloog se rekenings, die kennisgewing aan die mediese fonds dat jy ’n afhanklike gaan bykry, die geskenkregister wat jy by Baby City begin het.

Daarna kom dinge soos die webtuiste waarheen die hospitaal die amptelike eerste foto van ma en baba opgelaai het, en die geboortesertfikaat wat uitgereik is. En, langs die pad, elke verwysing na baba wat op Facebook, Twitter, Google+, YouTube, Instagram, LinkedIn en ’n swetterjoel ander dienste gemaak word.

Al dié inligting word natuurlik nie links en regs gedeel en versprei nie, maar daar is beslis ook geen waarborg dat dit vir altyd veilig bewaar gaan word nie.

Moet ook nie dink lomp burokratiese instellings is die swakste bewaarders van jou privaat inligting nie. Die inligting wat jy vrywillig aan ’n enorme korporasie soos Facebook toevertrou, kan uiteindelik veel gevaarliker wees.

Kyk byvoorbeeld na hierdie uittreksels uit Facebook se amptelike beleid oor privaatheid, onder die opskrif “Other information we receive about you”:

  • Ons ontvang inligting oor jou wanneer jy Facebook gebruik, byvoorbeeld wanneer jy na ’n ander persoon se tydlyn kyk, ’n boodskap stuur of ontvang, soek na vriende of ’n blad, op iets klik of daarna kyk, of tydens jou interaksies ...
  • Wanneer jy foto’s of video’s laai op Facebook, kan ons bykomende inligting (of metadata) ontvang, soos die tyd, datum en plek wanneer die foto of video geneem is ...
  • Ons ontvang inligting van die rekenaar, foon of toestel waarop jy Facebook-toeps of toegang tot Facebook geïnstalleer het ...
  • Gaan lees gerus die hele dokument (www.facebook.com/about/privacy/your-info), en ook die soortgelyke reëls van maatskappye soos Google. Hou in gedagte dat hierdie reëls gedurig bygewerk word, hetsy omdat nuwe wetgewing dit vereis of omdat hulle nuwe maniere gevind het om jou inligting te ontgin, en dit naastenby wettiglik wil doen.

Een van dié nuwe maniere het te doen met digitale gesigherkenning en ander sogenaamde bio-identifiseringsmetodes, soos die vingerafdruk waarmee sommige slimfone ontsluit kan word. Baie van dié tegnologie is nog lomp en onverfynd – maar die onverwerkte data kan nou reeds ingewin en geberg word vir die dag wanneer dit werklik nuttig gebruik kan word.

Dis dus nie vergesog dat kuberkrakers sonder jou medewete jou baba se foto of vingerafdrukke met jou eie digitale toestel kan neem en dit iewers op ’n databasis berg nie. Wie weet watter soort winste is dalk oor 10 of 20 jaar uit sulke inligting te make?

Dink voor jy "post"

Wat in werklikheid weens al hierdie prosesse gebeur, is dat jou kind se ware identiteit en die een wat in die kuberruim bestaan, ál nader aan mekaar beweeg tot dit glad nie meer van mekaar onderskei kan word nie.

En, anders as kleintyd se kiekies, kan dié inligting nie vernietig word as dit eers geskep is nie. Latere inligting kan dalk vroeëre inligting verdring, maar dit sal vir altyd iewers in die digitale heelal bly voortbestaan, afgesien daarvan of dit wettig of wederregtelik aan jou kind se identiteit gekoppel is.

Is dít dan regtig so erg, kan ’n mens vra. Wel, as jou kind reg deur skool en universiteit nooit iets gaan doen wat hulle later gaan berou nie, is dit seker nie veel van ’n probleem nie. In die regte wêreld gaan ons kinders wel foute maak, en baie daarvan gaan gekoppel word aan daardie aanlynidentiteit wat hulle met hulle saamdra.

Soos wat die glanspersoonlikhede van vandag hul lewe onder die vergrootglas van die skinderpers moet lei, so gaan gewone volwassenes dalk oor 20 jaar nie die soort privaatheid ken waarmee hul ouers grootgeword het nie.

Lees verder

Die goeie nuus is dat daar verskeie bewegings aan die gang is om kinders se privaatheid in die digitale wêreld te beskerm. In Amerika het die Children’s Online Privacy Protection Act (COPPA) reeds in 2000 van krag geword. Dit reguleer onder meer hoe ouers of voogde se toestemming verkry moet word voor inligting by kinders onder 13 jaar ingewin mag word.

Die doeltreffendheid van sulke wetgewing word egter wyd bevraagteken, onder meer omdat ouers beswaarlik hul kinders kan beskerm as hulle self nie die aard van die probleem verstaan nie.

Dan is daar projekte soos POCKET (Parental Online Consent for Kids’ Electronic Transactions), ’n hulpmiddel wat deels ontwikkel is om COPPA se oogmerke op ’n praktiese manier af te dwing.

’n Derde benadering is om op die opvoeding van die kinders self te fokus. In Brittanje het die grootste internet-diensverskaffers byvoorbeeld met die UK Safer Internet Centre saamgespan om video’s te vervaardig met dié boodskap aan ouers: Verstaan die gevare so goed julle kan, sodat jul kinders van so vroeg moontlik af daarvoor gereed is.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees