Kind grootmaak in Engeland

akkreditasie
Pasop voor jy vir ’n ander kind iets te ete aanbied. En weet jou eie bloedjie sal op drie maande al ’n wafferse leerplan begin volg . . . Izania Abbot gesels oor haar lewe in Leeds

Ek is ’n Suid-Afrikaner – al vertel my paspoort deesdae iets anders – en kom oorspronklik van Kaapstad.

My verhouding met die Verenigde Koninkryk het in 2001 begin toe ek ná hoërskool vir ’n brugjaar hierheen gekom het.

Ek het al op baie plekke in Engeland gewoon: Oxford, Wallingford, Londen, Maidstone, Southampton, Milton Keynes en Northampton.

Tans is ons in Leeds, wat taamlik noord in die middel van Engeland geleë is.

Dis in Northampton waar ek vir Chris ontmoet het. Hy is ’n regte soutie.

Ná drie jaar se getroude lewe het ons besluit om met ’n gesin te begin

Ons het vir dieselfde maatskappy gewerk, ek as grafiese-ontwerpbestuurder en hy as grafiese ontwerper.

Ons is in 2009 in Somerset-Wes in Suid-Afrika getroud. Ná drie jaar se getroude lewe het ons besluit om met ’n gesin te begin.

Die weer in Leeds is meestal grys en reënerig, met wat soos net vyf dae somer voel.

Somervakansies word altyd weg van die huis af deurgebring.

Verlede jaar was ons bevoorreg genoeg om New York,  Menorca en Ibiza toe te gaan.

Lank, donker en bitter koud

In die winter is dit ’n bietjie moeiliker om kinders te vermaak en besig te hou. Wintermaande hier is lank, donker en bitter koud.

Die meeste aktiwiteite saam met die kinders word binne gedoen, tensy dit sneeu, want dan baljaar ons almal buite!

As gesin geniet ons dit om naweke ’n binnenshuise swembad, akwarium of dieretuin te besoek, asook die nuwe trampolien-disko waaroor die kinders so gek is.

Besoeke aan binnenshuise speelplekke met klimrame en glyplanke word ook deel van ’n mens se weeklikse roetine.

Kinders in Engeland is gewoond aan die koue waarmee hulle grootword en stewels, mussies, serpe, handskoene en jasse is dus alledaagse kledingstukke. 

My seuntjie, Cooper, het ’n obsessie met sy mussie en handskoene en dit kos op ’n warm dag heelwat verduideliking om hom te oortuig dat hy dit nie nodig het nie.

Kinders moet hier vinniger grootword

Dagsorg en kleuterskool hier is fantasties, maar baie duur in vergelyking met wat ons in Suid-Afrika gewoond is.

Heeltydse dagsorg kos sowat 1 000 pond per maand per kind, afhangende van waar jy woon.

Dagsorgaktiwiteite en selfs etes word streng gereguleer. Kinders kan al van drie maande oud af ’n leerplan volg, en Cooper het op drie maande heeltyds dagsorg begin bywoon.

Ek kan onthou hoe snaaks dit vir my was toe ek ’n paar maande later sy eerste oueraand moes bywoon en ’n verslag ontvang het.

Kinders moet hier vinniger grootword omdat hulle op vier al met skool begin. Cooper is tans drie en is al klaar in die kleuterskool.

Tyd vir kind wees is min. Met baba nommer twee wat oor ’n maand opdaag, het ek besluit om vir eers ’n tuisblyma te wees.

Die koste van dagsorg en kleuterskool vir twee kinders sou amper my hele salaris opgevreet het. Baie ma’s hier maak dieselfde keuse.

Daar is eiesoortige etiket onder die ouers hier

Aan die ander kant is skole gratis en wanneer jou kind dus op vier met graad R wegspring en hul skool jou niks kos nie, is dit maklik om na jou loopbaan terug te keer. Elke buurt het een of twee skole.

Die Engelse glo vas daaraan dat ’n kind skool toe moet kan stap. Soggens en smiddae is die strate dus vol kinders, ouers en honde op pad skool of terug huis toe.

Daar is eiesoortige etiket onder die ouers hier. Jy mag nie jou kind tug nie. Jy word geoordeel aan die manier waarop jy met jou kind praat en hoe jy hom aantrek.

Jy mag nie iemand anders se kind dissiplineer nie. Jy mag nie vir iemand anders se kind iets bied om te eet, drink of hul gesig afvee voor jy nie by die ouer uitgevind het of hulle allergieë het nie.

Suid- Afrikaners is bederf met ’n oneindige verskeidenheid vars groente en vleis

My seuntjie praat glad nie Afrikaans nie en ken nie lang warm kaalvoetdae langs die swembad of by die see nie.

Ek mis dit. Ek mis die warm lug en kraak van die braaivuur. Ek mis die kos.

Suid- Afrikaners is bederf met ’n oneindige verskeidenheid vars groente en vleis – albei dinge wat hier veel duurder is en waarvan die verskeidenheid baie kleiner is.

Jy verruil ook jou weeklikse braaivleisie vir ’n roast dinner, jou Maleise kerrie of Durbanse bunny chow vir ’n jalfrezi of ’n kebab.

Anders as baie Suid-Afrikaners het ek nooit doelbewus besluit om Suid-Afrika te verlaat nie.

Dit was nooit ’n wens of behoefte nie, dinge het maar net so uitgedraai. Ek weet ook nie waarheen ons lewenspaadjie my gesin sal lei nie, maar ek sien uit daarna en sal in my hart altyd ’n Suid-Afrikaner wees én altyd na die Kaap hunker. 

Wil jy jou storie vertel? Stuur jou stories aan web@babaenkleuter.co.za en ons mag dit dalk publiseer! As jy graag anoniem wil bly, laat weet asseblief.

Jongste uitgawe

Okt 2021 - Jan 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees