Dis absoluut normaal en natuurlik dat kinders baklei.

“Daar is nie net een oorsaak nie, maar gewoonlik kan die wortel van die kwaad teruggevoer word na mededinging om die liefde, tyd en aandag van ouers,” sê die Kaapstadse berader Lindi van Niekerk.

“Dit word verder gekompliseer deur oudste kinders wat moet aanpas by ’n nuwe baba en moet leer om die lewensverhoog met jonger sibbe te deel nadat hulle vir ’n ruk die middelpunt van hul ouers se aandag was.”  Daar is ook ’n mate van jaloesie – jonger kinders wil dieselfde as ouboet of ousus doen, maar weens hul ouderdom kan of mag hulle nog nie.

“Nog ’n faktor is botsende ontwikkelingsfases. Hoe groter die ouderdomsver­skil, hoe groter die moontlikheid dat die rusies meer uitdagend vir die ouers word,” sê Lindi.

Rusies tussen kinders is ’n probleem omdat baie ouers dit nie verstaan nie en dit word soms vererger wanneer ’n ouer een kind blatant bo die ander voortrek.

“Ouers is ook deesdae onder soveel stres dat dit vir hulle makliker word om net die konflik tussen hul kinders op te los eerder as om leiding te gee en die kinders toe te laat om self hul verskille uit te stryk,” sê Lindi.

Moet jy kindersstraf wat baklei?

“Kinders wat baklei, behoort nie gestraf te word nie tensy hulle ongehoorsaam was of ’n ouer se reëls of grense verbreek het,” is Lindi se raad.

“Die meeste beraders beveel uitsittyd aan. Dis ook belangrik om voor en ná die straf die saak met jou kind te bespreek. Jou kind moet weet hy word gestraf want ‘jy het iets gedoen wat ek gesê het jy nie mag doen nie’, eerder as ‘jy gaan nou in jou kamer bly en nadink oor hoe stout jy was omdat jy gemeen was met jou sussie’.”

Kan jy konflik keer?

Nie regtig nie, sê Lindi. Maar daar is baie praktiese dinge wat jy kan doen om te verhinder dat die rusies ’n groot probleem word.

  • Moet nooit een kind voortrek nie. Moenie kant kies nie. Maak die kinders attent op die beginsel en die probleem, maar moet nooit een van hulle se karakter aanval nie.
  • Moedig die kinders aan om die saak self op te los. Sê: “Ek is seker julle twee kan ’n manier vind om jul probleem uit te stryk. Ek wil hê julle moet heel eerste probeer om dit self uit te werk en my net kom roep as julle regtig nêrens kom nie”.      Die kans is goed dat hulle jou hulp sal inroep, maar dis belangrik om nie te gou toe te gee nie. Gun hulle genoeg tyd om self daardeur te werk voor jy betrokke raak. Selfs dan is jou rol om hulle te leer hoe om konflik op te los.
  • Koop oorplui­sies! Gaan stap ’n entjie. Moenie na hulle luister nie, want dan gaan jy in die versoeking kom om tussenbeide te tree. Maak net seker hulle maak mekaar nie seer nie.
  • Maak seker jou eggenoot ondersteun jou in kwessies oor dissipline, want dan sal daar minder ruimte vir voortrekkery wees. Dit hou ook die uitvoerende gesag in die huis in stand sodat kinders toegelaat word om kinders te wees en ouers om ouers te wees.

Hulle leer om beter met mekaar oor die weg te kom omdat ma en pa nie kant kies nie en net betrokke raak by kwessies wat die hele gesin raak.

Wanneer moet jy ingryp?

Hoewel die bakleiery tussen medespruite natuur­lik is en in alle gesinne voorkom, kan dit soms ’n ongesonde wending neem en moet jy drastieser stappe doen. Hier is die gevaartekens:

  • Een van die kinders begin gedragver­steurings toon.
  • Daar is ’n baie groot verskil in die krag wat gebruik word, soos wanneer ’n ouer broer net so rof met sy kleinsus baklei as wat hy met seuns van sy ouderdom sou baklei het. Ontstellend genoeg is die tekens dieselfde as in ’n verhouding vanmishandeling: ’n blou oog, buiten-gewo­ne kneusplekke, gebreekte bene of arms.
  • Die een kind het ’n abnormale vrees vir die ander.
  • Kinders skel mekaar buite die rusie ook uit en gee mekaar lelike name. Dit kom neer op woordemishandeling.

As die onmin só erg is, moet jy so gou moontlik professionele hulp gaan soek by ’n kindersielkundige of iemand wat in gesins­terapie spesialiseer. Soms is ’n besoek aan ’n psigiater ook nodig.

Jy kan by kundiges in die privaat praktyk aanklop, of jou wend tot Childline of Famsa. Party universiteite het ook gesins­eenhede wat in ouer- en-kinderberading spesialiseer.

Nege wenke vir vrede in die huis
  1. Moet nooit jou kinders met mekaar vergelyk nie.
  2. Moet hulle nie in kassies druk nie. Laat elke kind toe om te wees wie hy is. Moenie etikette om hul nek hang nie.
  3. Moenie voortrek nie.
  4. Leer jou kinders om saam te werk eerder as om mee te ding.
  5. Baklei die kinders op ’n spesifieke tyd van die dag of wanneer spesifie­ke dinge gebeur? ’n Verandering van roetine kan dalk help om konflik te vermy.
  6. Leer jou kinders positiewe maniere om aandag by mekaar te kry.
  7. Dis belangrik om regverdig te wees, maar dis nie dieselfde as om gelyk te wees nie. Jou kinders moet leer dat jy jou bes doen om in elkeen van hulle se unieke behoeftes te voorsien.
  8. Beplan gesinsaktiwiteite wat vir almal lekker is.
  9. Maak seker elke kind het genoeg tyd en ruimte van hul eie. Hulle moet ook hul eie ding kan doen en met hul eie maats kan speel sonder dat hul medespruite heeltyd wil saamspeel.


Wees daar vir elke kind
  • Elke ouer behoort gereeld tyd alleen saam met elke kind te bestee. Net 10 minute van ononderbroke alleentyd kan die wêreld se verskil aan ’n kind se lewe maak.
  • Wanneer jy alleen saam met jou kind is, vra hulle so af en toe waarvan hulle die meeste of minste van hul boetie of sussie hou. Dit sal jou help om hul verhouding beter te verstaan en hulle op mekaar se goeie eienskappe help fokus.
  • Luister baie mooi hoe jou kinders voel oor dit wat in die gesin aan die gang is. Hulle sal dalk nie so veeleisend wees as hulle voel jy gee om vir hul gevoelens nie.
  • Laat elke kind weet hy is spesiaal.

Regte ma's gee raad

Carla Vosloo van Randburg, Johannesburg, is ma van Nathan (3) en Ashleigh (5)

Carla vertel haar kinders baklei nie vreeslik baie nie, maar wanneer dit wel gebeur, gaan dit gewoonlik oor speelgoed. “Dit is meestal Nathan wat met sy sussie baklei. Hy is ’n bietjie van ’n boelie. Ons stuur hom gewoonlik na sy kamer om af te koel. Hy haat dit en dis dus nogal doeltreffend.

“Ashleigh is een van daardie kinders wat almal graag tevrede wil stel, en met haar hoef ’n mens gewoonlik net een keer te praat en te sê ‘moenie dit doen nie’. Sy hou nie van konflik nie.”

Carla meen die beste manier om konflik tussen medespruite te vermy, is om vir albei ewe veel liefde en aandag te gee. “Daarmee is my man nogal goed. Terwyl ek aan die een kind aandag gee, spits hy hom op die ander een toe, en dan ruil ons om. So het hulle geen rede om jaloers te wees nie.”

Charlene Webb van Bonteheuwel in Kaapstad is ma van Rachael (9), Sarah (7) en Michael (5)

Volgens Charlene baklei haar drie spruite  nie meer as die meeste van hul vriende se kinders nie, maar dit “gebeur beslis elke dag” en handel oor ’n verskei­den­heid dinge.

“Soms baklei hulle oor speelgoed. Iemand sal iets neersit en as ’n ander dit dan optel om daarmee te speel, baklei hulle. Nog iets waaroor hulle baklei, is ruimte – die afstand tussen hulle aan die etenstafel of in die motor wanneer ons ry. As hulle te na aan mekaar sit, spat die vonke.

“Michael is tassensitief en raak soms ’n bietjie opgewonde oor kleinig­hede. Maar dis nie sy skuld nie. Hy kan dit eenvoudig nie verdra as mense aan hom raak nie.”

Die raad wat vir hulle die beste werk, is uitsittyd. “Ek probeer bepaal wie die geveg begin het en stuur hulle na hul kamer toe.”

Amelia de Rust van Pretoria is ma van Michael (5) en Marco (3)

Amelia sê haar twee seuns sit meestal oor speelgoed vas. “Hulle wil altyd dieselfde ding hê. Soms vra ek vir Michael om die speelding maar gou vir Marco te gee, want ons weet hy gaan net ’n kort rukkie daarmee speel voor hy verveeld raak en dan kan Michael dit terugkry. Dit werk taamlik goed.

“Ander kere los ek hulle dat hulle dit self uitpluis. Hulle speel meestal in hul kamer en dan hoor ek hulle baklei, maar ek meng nie in nie. Ná ’n ruk hoor ek daar is weer stilte en dan is die pro­bleem opgelos. Ek dink dit is maar die beste manier: Hulle moet leer om dit self uit te stryk. As ’n mens die hele tyd inmeng, is dit soms onregverdig, want ek is geneig om met die ouer een te raas.”

Amelia sê hulle probeer ook soms proaktief optree deur van sekere soorte speelgoed twee te koop sodat elke kind sy eie kan hê. “Maar dis nie altyd moontlik nie en ons het juis ’n derde op pad,” sê sy laggend. “ Dink net hoe dit dan sal gaan!”