Die samelewing word ál meer prestasiegedrewe en mededingend. Ouers weet dit – dis immers die wêreld waarin ons elke dag ons brood verdien. Goedbedoelende ouers meen dikwels hulle moet alles in hul vermoë doen om vir Jannie en Sannie vroeg al te begin voorberei op hierdie omgewing. Hoe vroeër, hoe beter, en geen geld word ontsien in pogings om hul kinders vir sukses te brei nie.

Ál meer sielkundiges en onderwysers waarsku egter dat jy jou kind ’n onreg aandoen met ’n program wat te vol is en wat te veel klem op prestasie lê. Laat kinders tog weer kinders word en ’n slag net speel, is die raad wat ál meer uitgedeel word.

Is jou kind se ervaring van die wêreld werklik so sorgeloos as wat jy dink? Of word jou eie angs en stres oor die toekoms na haar oorgedra? Onthou, kinders is fyn op hul ouers ingestel. Uiteindelik is dit ons taak om hulle te bemagtig om die toenemende druk van die wêreld daarbuite baas te raak. Dít is net moontlik wanneer ons ons kinders onvoorwaardelik liefhet en aanvaar. As kinders tuis veilig voel, kan hulle die wêreld en skool met al sy eise en uitdagings oorleef en nog die lewe geniet ook.

’n Kind wat kwaai gestres is, gaan nie floreer nie, maak nie saak hoe bevoorreg en verrykend die opset om haar is nie. ’n Ontspanne kind sal weer moeiteloos leer en absorbeer, selfs al voldoen haar omgewing net aan basiese, eenvoudige behoeftes.

Lees verder hoe om agter te kom as jou kind gestres is, wat die moontlike oorsake is en hoe jy kan help.

Die simptome van stres

  • Jou kind se prestasie verswak en takies word nie met dieselfde oorgawe uitgevoer nie.
  • Jou kind begin ’n negatiewe houding ontwikkel.
  • Jou kind vergelyk haar met haar maats.
  • Haar selfbeeld is swak.
  • Gedragsprobleme soos aggressie en teenstand teen gesag ontwikkel.
  • Jou kind toon tekens van depressie soos slaapversteurings, eetversteurings en onttrekking.
  • Jou kind is uitermate klouerig en neulerig.
  • Sy sukkel om haar self besig te hou, maar sukkel net so om rustig te raak.
  • Sy kou haar naels, het weer begin bed natmaak, of kners op haar tande.

Tipiese bronne van stres

  • Groot verandering, soos die koms van ’n nuwe baba, verhuising, dood in die familie, ma wat terugkeer werk toe, of ’n nuwe kleuterskool
  • As jou kind of iemand anders in die familie lank siek is
  • Wanneer jou kind van haar ouers geskei word, soos wanneer ma of pa dalk vir lank rukke op sakereise gaan
  • Ouers wat baklei, huil of kwaad is
  • Egskeiding
  • Angs oor misdaad en veiligheid
  • Ouers se stres oor werk, geld of verhoudings wat oorspoel
  • Prestasiedruk
  • ’n Skedule wat te vol is
  • ’n Gebrek aan tyd vir niksdoen
SUPERWENK
Maagpyn sonder ’n duidelike fisieke oorsaak is dikwels aan stres te wyte.
Sit niksdoen op die skedule!
Jy is nie verplig om elke oomblik van elke dag met aktiwiteite en vermaak te vul nie. Om gereeld sommer net niks te doen nie, is goed vir jou kind. Die vermoë om stil te raak sal vir die res van haar lewe vir haar baie beteken. Sy sal leer om beter te konsentreer, dit beter regkry om ’n klomp dinge gelyk te doen, sy sal ’n geduldiger mens wees, beter slaap, haar self beter leer ken en meer kreatief wees, want stil word bevorder dagdrome en fantasievlugte.

Klop kinderstres só

  • Doen elke dag iets om jou eie stres onder beheer te kry. Oefening werk die beste. Moet nooit jou spanning op jou kind ontlaai nie. As jou eie stres gereeld buite beheer is, moet jy dit ernstig oorweeg om weg te kom van die bron van die stres. Langdurige stres kan van jou ’n ongeduldige, onsensitiewe mens maak, en boonop jou gesondheid aantas.
  • Maak tyd vir kommunikasie en ook tyd waarin jy jou kind stilletjies waarneem. Klein kinders kan nie altyd sê wanneer hulle onder stres verkeer nie, maar hul lyftaal gee baie weg.
  • Luister fyn na jou kind en verwoord sy emosies vir hom. Dit laat hom voel jy hoor, verstaan en aanvaar hom. Verseker hom dat hy nie die oorsaak van die probleem is nie, en dat hy by jou veilig is.
  • Praat oor ontspanning en help hom die dinge identifiseer wat hom laat ontspan. Vertel hom wat jou ontspandinge is, soos ’n warm bad en ’n lekker boek of om die tuin nat te maak.
  • Gaan speel ’n bietjie buite eerder as om voor die televisie te lê – dit bly die beste en eenvoudigste manier om van stres ontslae te raak.
  • Moenie kwaad word as jou kind soos ’n babatjie optree nie. Regressie is normaal in stresvolle tye. Hanteer hom met ekstra liefde en begrip. Hy sal gouer daaroor kom as jy nie oordeel nie as wanneer jy jou irritasie wys.
  • Hou by jul daaglikse roetine. Wanneer dit voel of die wêreld om julle vergaan, kan jou kind baie troos en gerusstelling daaruit put dat sy dag en week voorspelbaar en georden is.
  • Laat jou kind uit sy maag lag. As jy nie kan onthou wanneer laas julle gelag het nie, is julle waarskynlik gestres. Jou kind sal ver kom met ’n ligte, humoristiese uitkyk op die lewe.
  • Masseer jou kind. Babamassering is baie gewild en daar’s geen rede waarom jy daarmee moet ophou nie. Jy kan dalk begin met ’n hand- of voetmassering, en later die skouers en rug.
  • Moenie slap lê met dissipline nie – dit gaan jou kind nie help nie. Dissipline en grense gaan hom juis meer geborge laat voel, want daar is ’n volwassene in beheer. Dis egter nie nou die tyd om allerhande nuwe reëls in te stel nie.
  • Wees eerlik oor spesifieke voorvalle wat tot stres en angs lei, soos ’n egskeiding of misdaad. Gee die nodige feitelike en ouderdomsgepaste inligting en moedig hom aan om vrae te vra. Soms kan sy verbeelding veel erger dinge uitdink as wat die werklikheid is.
  • Berading vir die hele gesin kan baie help as julle almal worstel met ’n stresvolle situasie soos ’n dood in die familie.