Dis ’n interessante nuwe wêreld waarin ons woon. Dis ’n wêreld waarin ons kinders al na meer lande in utero gereis het as wat meeste mense in hul hele lewe het. ’n Wêreld waarin ons kerngesin bestaan uit ’n Suid-Afrikaner, ’n Suid-Afrikaanse Brit gebore in Zimbabwe, ’n Suid-Afrikaanse Brit gebore in Engeland en ’n Suid-Afrikaner gebore in Korea. Waar lede van ons uitgebreide familie dwarsoor die wêreld versprei is. Waar ons beoog om eendag in ’n Europese land wortel te skiet. Miskien is ons uniek, maar ek dink nie so nie. Reis is in ons bloed.

Dit was als goed en wel toe ek en my vrou, Nicky, besluit het om vir ’n jaar te gaan reis voor ons met ’n gesin begin. Ons 40 liter-rugsakke was gepak met alles wat ’n mens moontlik in enige deel van die jaar in enige land nodig sou kon kry. En ons het dit boonop as handbagasie saamgeneem! Dit was perfek. Reis was maklik, gerieflik, vinnig en lekker.

Deesdae werk dinge ’n bietjie anders. Op pad winkel toe? Dis maklik met dubbel die gewig waarmee ons uit Suid-Afrika vertrek het. En wanneer ’n mens praat van tyd wat dit kos om te reis? Sjoe, vier volgestopte tasse later hardloop ons rond om te keer dat ons 30 maande oue seun, Parker, nie op die landingsbaan verongeluk nie, gryp handbagasie en stap aan boord sodat ons asseblief tog net kan sit – en Freya, ons ses maande oue dogtertjie, se opgooi van ons kan afvee. Dan eers begin die reis, met die vliegtuig van Jeju na Seoel (twee uur), met die bus van Seoel na Incheon (een uur), weer op die vliegtuig van Incheon na Doebai (10 uur) en dan eindelik van Doebai na Kaapstad (10 uur). En natuurlik is daar lang stopsessies tussenin. Om met kinders op ’n lughawe vasgekeer te wees is natuurlik, wel, nie so aangenaam nie.

Maar ons is mal oor ons lewe. Ons woon in Suid-Korea. Voorlopig is ons op die eiland Jeju, ook bekend as die Hawaii van Asië, maar ons is amper op pad na Busan op die Koreaanse vasteland. Parker kom terug van dagsorg en sing Koreaanse liedjies. Hierdie blonde wit krulkoppie met sy blou oë is nogal iets om te sien. Blonde krulkoppies met blou oë is ’n seldsame verskynsel hier. Ons word gereeld daaraan herinner. Enige uitstappie waar jy moontlik ajummas (dit beteken min of meer tannies in Afrikaans) kan aantref – en hulle is oral! – is jy in vir ’n ding.

Sosiale dekorum is heeltemal anders as waaraan ons gewoond is. In Korea voel almal, selfs vreemdelinge, hulle het ’n aandeel in jou gesin. So die ajummas maak seker hul belangstelling in jou blonde wit krulkopwonder van ’n kind gaan nie ongesiens verby nie.

Anders as gedurende Parker se eerste jaar op hierdie planeet – in Londen, waar sosiale interaksie omtrent afgekeur word – moet ons heeltyd en altyd glimlag (al is dit aangeplak) en kopknik (al maak ons maar net of ons verstaan) as die belangstellende ajummas babbel en oor Parker se hare streel en koer oor sy eksotiese voorkoms.

Persoonlike ruimte is nie belangrik nie. En die hemel help jou as die ajumma meen jou kleintjie is nie in genoeg lae toegewikkel nie … Eers kom wys hulle vinger en skud kop om hul misnoeë te kenne te gee, en dan neem hulle sommer hef in die hand en verstel jou kleintjie se klere en komberse. Met deurlopende kommentaar. Jy kan maar terugveg, dit help niks.

Ons gooi ’n kombersie oor Freya se stootwaentjie sodat die lig haar nie steur terwyl sy slaap nie, maar hulle dink nie twee keer daaroor om dit op te lig sodat hulle haar van naderby kan bewonder nie. Dis blykbaar nie nodig om ons toestemming te vra nie. Hulle is natuurlik maar net nuuskierig. Dis frustrerend, maar ’n mens raak dit gewoond.

En eintlik is dit die hartlike koestering van die Koreaanse mense wat ons ook so intens gelukkig maak om ons kinders hier dagsorg toe te kan stuur. Ek kon nie vir ’n meer liefderike, hartlike en sorgsame omgewing vir my kinders gevra het nie. Ek dink ’n mens sal ver moet soek om iets soortgelyks in Amerika of Brittanje te vind. Maar dan is daar wel die klein kwessie van kommunikasie met die mense wat by die dagsorg werk…

Ons raadpleeg Google gereeld om van Koreaans na Engels te vertaal, en die uitkoms is, wel, interessant: During music activity time there are four kinds of chickens according to the sounds of horses, pigs, ducks, and chickens.

Of: My friends took hold of both ends, burned their Aladdin friends, and tried to express themselves. Dan was daar ook When I saw the tractor on the side of the road, my friends were gods.

Ons gunstelinge? Parker took a nap and pissed on the futon. Send a futon. Gevolg deur: I ate a spaghetti for lunch and sent a taxi to my face. I have a orange beard of eenvoudig net: Boobs boobs, boobs boobs.

Ek’s dankbaar ek kan my kinders in ’n multikulturele omgewing grootmaak waar klasmaats van oor die wêreld heen kom. Dis ’n wêreld wat hulle sal blootstel aan die wonders van internasionale bande en waarin muurbou hopelik nie vir hulle enigsins sal sin maak nie. Ons woon beslis in ’n nuwe wêreld.