’n Graadeentjie se ore werk oortyd. Dink maar aan jou eie skooldae en jy sal onthou dat die meerder­heid opdragte op skool mondelings deur die juffrou oorgedra is. Om goed te kan luister, is dus ’n belangrike sleutel tot jou kind se skoolsukses - selfs ná skool ook. Meer as 35 studies oor sukses in die sakewêreld het gewys dat om goed te luister, die belangrikste vaardigheid is as jy sukses wil behaal.

Hoor en luister 

Om te kan luister is nie dieselfde as om te kan hoor nie. Hoor gaan oor die vermoë om klank te ontvang. Maar net omdat ’n kind klanke kan hoor, beteken dit nie hy kan hierdie klanke betekenisvol vertolk of verstaan nie.

Luister gaan oor die verwerking van klanke deur die brein. Jou kind moet ’n begrip van klank kan vorm, die eienskappe van klanke kan onderskei en dit kan interpreteer. As hy verskillende klanke van mekaar kan onderskei, sal hy makliker kan hoor wat die onderwyseres sê en dit sal ook keer dat hy woorde met mekaar verwar, wat later weer met spelling kan help. Jou spruit moet ook dit wat hy hoor, kan onthou en later in herinnering kan roep. As jy hom drie opdragte op een slag gee, moet hy dit lank genoeg kan onthou dat hy dit in volgorde kan uitvoer. Dit sal hom ook help onthou wat die onderwyseres in die klas sê en sal hom liedjies en rympies help aanleer.

Het jy geweet?

Studies het gewys mense luister na omtrent 125 tot 250 woorde per minuut, maar dink teen sowat 1 000 tot 3000 woorde per minuut.

Verder moet hy ’n duidelike begrip van klanke of groepe klanke kan vorm. Dit sal hom help om te leer lees deurdat hy sekere klanke met “prentjies” (woorde) begin verbind. Hy moet die toonhoogte en ritme van klanke kan onderskei en dit met mekaar kan vergelyk. Hy moet deur middel van sy gehoor kan vasstel waar ’n geluid vandaan kom. As hy ’n woord nie duidelik gehoor het nie, moet hy in staat wees om die res van die woord in sy gedagtes in te vul sodat hy steeds kan verstaan, al praat iemand onduidelik.

Hier is ’n paar pretspeletjies waarmee jy jou spruit kan help om beter te luister.

Lawwe luisterdinge

Maak grappies waarin jy die verkeerde woord in ’n sin gebruik soos: “Gaan jy vandag jou karretjie aantrek?” Julle kan lekker lag en hy leer mooi luister.

Speel julle is ruimtewesens en praat met daardie biep-biep-stemtoon waarin jy klanke afgemete en in lettergrepe uitspreek, byvoorbeeld: ek-is-’n-ruim-te-wese.

Stel ’n kamma-inkopielys saam. Jy sê kaas en brood en melk. Kyk hoe lank julle die lysie kan maak.

Sê gereeld tradisionele kinderrympies saam met jou kind op – dis ’n voorloper van goeie spelvermoë.

Speel rympieraaisels: “Ek dink aan ’n woord wat rym met kurk. ’n Mens eet daarmee ...” (antwoord: vurk).

Vra jou kind vir twee woorde wat rym en maak ’n lawwe sin daarmee. Hy sê “moeg” en “spoeg”. Jy sê: "Saans is ek moeg, dan wil ek net spoeg.” Hy kan ook sy eie lawwe rympies maak.

K is vir klank

Begin ’n klankplakboek en plak prente van dinge wat met dieselfde klank begin by mekaar. Byvoorbeeld p is vir pot, pienk, partytjie en pen.

Sê: rooi, robot, ratel, rond en vra hom waarmee die woorde begin. Vra hom of hy nog woordjies ken wat met daardie klanke begin.

Loop deur die huis en soek na voorwerpe wat met ’n spesifieke klank begin.

As hy beginklanke bemeester het, kan jy nou dieselfde doen met eindklanke: “Vet, kat en rot eindig almal met ...?”

Musiekplesier

Sing afwisselend hoë en lae note en vra jou kind moet wys waar dit is: bo vir hoog en onder vir laag. Maak beurte.

Tik ’n bekende liedjie se ritme met ’n stokkie uit en vra of jou kind dit herken. Jy kan ook die ritme uitklap. As hy sukkel, kan jy die liedjie saamneurie. Laat hom dieselfde doen, dan raai jy.

Klap ritmes wat hy moet naboots, soos lang klap, pouse, kort klap, pouse, lang klap. Maak beurte en kyk of julle mekaar kan uitvang.

Gee jou seuntjie twee papierborde en neem self twee. Sit musiek op en sit kruisbeen op die mat. Hy moet alles wat jy doen, op die ritme van die musiek naboots. Tik die papierborde ritmies teen mekaar bo jou kop, aan jou linkerkant, jou regterkant, voor jou bors en teen jou knieë.

Speel verskillende soorte musiek. Vra jou kind waarvan hy hou of minder hou en hoekom.

Sing kort wysies op “la” en laat hom dit ook sing. Maak dit moeiliker en langer namate hy vorder.

Speel afwisselend op verskillende instrumente soos klokkies, stokkies en tamboeryne. Elkeen verteenwoordig ’n sekere beweging wat jou kind moet uitvoer. Die klokkies sê dalk draf, die stokkies handeklap en die tamboeryne marsjeer.

Wat maak so?

Vul eenderse bakkies met rys, boontjies, muntstukke, sout, knopies of ander goed; twee van elk. Laat jou kind dit skud en luister watter dieselfde klank maak. Hy kan ook raai wat in elke bakkie is.

Stap in die natuur en probeer voël­geluide identifiseer. Kyk of julle woorde daarby kan pas wat die klank weergee, soos “piet-my-vrou”. Julle kan ook die ritme uitklap.

Maak ’n speletjie daarvan om deur die huis te loop en te kyk hoeveel geluide julle kan hoor: die wasmasjien wat spoel, die yskas wat dreun, blare wat buite in die wind ritsel, voëltjies wat sing, motors wat ry.

Maak saam dinge bymekaar wat geluide kon maak. Blinddoek hom, maak ’n geluid en laat hom raai wat dit is. Jy kan papier opfrommel, hoes, papier skeur of koeldrank inskink.

Pak poppe in ’n kring en laat jou kind met sy rug daarna sit. Neem ’n pop en klop aan die stoel. As hy vra “wie is daar?”, maak jou stem soos die pop s’n en gee leidrade. Barbie kan byvoorbeeld sê: “Ek het lang blonde hare en trek mooi aan.”

Stap om die blok en vra jou kind om alles uit te ken wat hy hoor. Skryf dit neer. Doen dit ’n week later weer. Vra hom van watter kant die klank kom en of dit harder of sagter word.

Lekker luisterhulp

  • Speel mooi musiek en laat jou kind teken wat hy gehoor het. Jy kan gerus saamteken!
  • Speel aksieliedjies en voer die hande­linge uit, soos om aan jou kop te raak,te fluit en met jou voete te stamp.
  • Lees soveel stories moontlik.
  • Neem saam interessante klanke op jou foon op. Speel dit terug en kyk of hy kon onthou wat wat is. 
  • Skaf storie-CD’s en storie-toeps aan sodat jou kind gedwing word om te luister sonder dat hy kan sien. Dit werk uitstekend in die motor. 
  • Gebruik TV-tyd slim. As sy gunste­ling-TV-program opkom, vra hom om sy oë toe te maak en te raai wie wanneer praat. Hy kan dan kyk of hy reg is.

Speletjies met maatjies 

Musiekstoele Almal dans op die maat van musiek en as die musiek ophou, moet hulle dadelik ’n stoel vind. Maar daar is ’n stoel te min, en een bly dus staande ... 

Telefoontjie Sit in ’n ry en laat die kinders ’n woord met die ry af vir mekaar fluister. Die laaste een moet dit hardop sê. 

Speel “Koning, mag ek op reis gaan?” Die kinders staan in ’n ry en jy20 meter voor hulle. Hulle vra om die beurt: “Koning, koning, mag ek op reis gaan?” As jy ja sê, vra hulle: “Hoe ver?” Dan sê jy vyf babatreetjies (een voetdirek ná die ander) of drie reuse-treë (uitgerekte treë), twee hasietreë (spring soos ’n hasie) en so aan. As ’n kind verkeerd trap, moet hy voor begin. Die een wat eerste by jou is, is die volgende koning. 

Is iets nie pluis nie?

As jou kind moeilik luister, is dit die moeite werd om hom by ’n oudioloog of spraakterapeut uit te kry. Rooi ligte sluit in: 

  • Hy lyk onbewus van die oorsprong van die klank. 
  • Hy onderskei moeilik tussen eendersklinkende klanke.
  • Hy sukkel om op een klank te konsentreer en buiteklanke uit te sluit. 
  • Harde of skielike geluide ontstel hom. 
  • Hy verstaan vrae maklik verkeerd of vra dat jy dit herhaal. 
  • Hy sukkel om gedagtes in woorde om te skakel. 
  • Sy woordeskat en sinstruktuur laat veel te wense oor.
  • Hy sukkel om rympies te onthou of self te maak.