Goeie luistervaardighede is baie belangrik vir jou kind se taalontwikkeling en latere skoolprestasie. Daarom moet jy reeds van kleins af aandag skenk aan haar vermoë om werklik goed te luister.

Marisa van den Heever, ’n Potchefstroomse skoolhoof, het haar M-tesis oor die luistervaardighede van graad R-leerders geskryf. Sy sê die nodige neurologiese verbindings vir luistervaardighede ontwikkel in jou kind se eerste drie jaar, en tussen drie en ses word die vaardighede self vasgelê. Vroeg begonne is dus half gewonne.

Luistervaardighede en tegnologie

Kinders baat nie so baie by elektroniese hulpmiddels as wat aanvanklik gehoop is nie, sê Marisa. Voorlesing is egter ’n ander saak: Navorsers sê dit dra ontsettend baie tot taalontwikkeling by. Kinders onthou baie meer van ’n storie wat hul ouers vertel as van ’n storie wat hulle met ’n elektroniese hulpmiddel hoor of kyk. Tegnologie is dikwels gerieflik, maar dit kan ten koste van jou kind se opvoeding wees.

“Jou kind neem passief deel aan tegnologiese uitbeeldings en hoef nie vrae te beantwoord nie. Kinders doen nie die moeite om te luister nie, want die prentjies wys die hele verloop van die storie. Ontwikkeling van luistervaardighede word so belemmer,” sê Marisa.

Die kuns van goed luister

Luistervaardighede word deur navorsers beskryf as “ ’n aktiewe proses van kommunikasie wat hoor, interpretasie en konstruktiewe begrip insluit”, of as “die manier waarop kennis ingesamel word wat insig gee in die onbekende, wat interaksie en kommunikasie bevorder en ’n voorloper is van goeie taalvaardigheid in formele onderrig,” verduidelik Marisa.

Om werklik te kan luister is ’n vaardigheid wat geleer moet word sodat ’n kind kan reageer op wat sy hoor, sê sy.

“Luister gaan nie net oor hoor nie. Kinders luister net na 50 persent van wat hulle hoor, en reageer op net 25 persent daarvan! Hierdie syfers maak ’n mens bekommerd, want goeie luistervaardighede is ’n voorvereiste vir leer en vordering op skool.”

In skoolleerplanne word dit duidelik gestel dat voorskoolse kinders verfynde luistervaardighede moet hê voor praat-, lees-, kyk- en skryfvaardighede na behore kan ontwikkel.

“Luister en praat is die eerste vaardighede wat genoem word omdat dit noodsaaklik is vir alle leerwerk wat ’n kind doen. Dié vaardighede moet so vroeg moontlik in kinders se akademiese lewe ontwikkel word. Hulle moet aktief kan luister om te kan leer en om hoflike verhoudings te ontwikkel,” sê Marisa.

Dis veral belangrik vir jong kinders se taalontwikkeling. En sonder taal kan ’n kind nie leer nie.

“Luister word beskou as die eerste taalvaardigheid wat bemeester moet word,” sê Marisa. Jy moet taal kan verstaan en jou in taal kan uitdruk.

As ’n kind nie luister nie, sal sy nie klanke kan onthou nie en dus nie kan leer lees nie. Sy sal nie kan onthou wat sy hoor nie en ook nie woorde in lettergrepe kan verdeel nie.

Die begrip fonologiese bewustheid speel veral ’n belangrike rol, sê Marisa.

“Fonologiese bewustheid is jou vermoë om die reëls van taalklanke te verstaan. Dit sluit ook in kennis van die verhouding tussen klanke en hoe dit in skryftaal gebruik word.

“As jou kind in haar vroeë ontwikkelingsfase fonologiese bewustheid leer, sal haar leesvaardigheid in graad 1 goed wees.”

Hoe gaan jy dan te werk om jou kind se fonologiese bewustheid te ontwikkel? Woordspel is jou belangrikste stuk gereedskap, sê Marisa. Kleuterrympies is van onskatbare waarde. Lees ook vir jou kind stories voor en laat sy saam met jou “lees” (dit word deellees genoem).

“Ouers en voorskoolse onderwyseresse kan baie doen om kinders later suksesvol op skool te maak deur hulle bloot te stel aan soveel rympies, versies, liedjies en voorlesing as moontlik,” is Marisa se raad.

Hoe jy kan help

Die ouerhuis is die eerste plek waar jou kind interaksie het en waar taal- en luistervaardighede geleer word. Jou rol is dus baie belangrik. Luister na jou kind sonder om haar in die rede te val.

“Kinders wil weet dat daar na hulle geluister word en dat hulle as belangrik genoeg geag word om na te luister,” sê Marisa. “Jy sal jou voorbeeld in jou kind se optrede sien. As ’n ouer nie na haar kind luister nie, sal die kind ook nie ywerig luister nie.”

Maak altyd oogkontak wanneer jy met jou kind praat, en maak seker jou kind fokus op wat jy sê. Praat rustig en duidelik. Gee duidelike en enkelvoudige opdragte; oogkontak verseker dat jou kind na jou opdrag luister.

Moenie opdragte onnodig herhaal nie. Die grootste fout wat ouers maak, is om opdragte oor en oor te herhaal. As jy die opdrag te veel herhaal, leer jou kind om nie die eerste keer te luister nie.

’n Kind verloor belangstelling as opdragte herhaaldelik en op dieselfde manier gegee word. Hulle raak immuun daarteen en luister nie meer nie. Sê vir jou kind van kleins af dat sy mooi moet luister, want die opdrag gaan nie herhaal word nie. As jy dit elke keer doen, sal jou kind algaande leer luister.

Praat met jou kind. As jy nie met jou kind in gesprek tree nie, sal haar taal- en luistervaardighede nie ontwikkel of verbeter nie.

As jy jou kind van kleins af stimuleer deur vrae te stel en dit self te antwoord en gedurig te gesels oor voorwerpe, kleur, klere en die onmiddellike omgewing, leer jou kind gouer om te praat – en te luister.

“Neem haar taalontwikkeling in ag wanneer jy met haar praat en vra gereeld of sy verstaan. Onthou ook dat kinders van verskillende ouderdomme se aandagspan verskil. Jou kleuter sal nie langer as 15 tot 20 minute op ’n slag kan konsentreer nie,” sê Marisa.

Lees of vertel vir jou kind stories

“Taalbegrip is ’n belangrike deel van luistervaardighede. Moedig dit aan deur elke aand vir jou kind stories te vertel of voor te lees,” sê Marisa.

Veral interaktiewe lees is belangrik: Vra ná elke tweede bladsy vragies om te bepaal of jou kind doeltreffend luister. As julle voor, tydens en ná die storie daaroor gesels en vrae bespreek, sal jou kind se woordeskat uitbrei en haar luistervaardighede toeneem. Dit sal help dat sy “nuwe” woorde dadelik ná ’n verduideliking verstaan. Dit maak haar lus om meer oor ’n onderwerp te wete te kom en leer haar om oor onderwerpe te dink.

As jy ’n storie sonder prentjies voorlees, word sy verder gedwing om op die vertelling te konsentreer. Laat jou kind saam met maatjies speel en vra agterna belangstellend uit.

“Kleuters leer veral goed deur spel en die gebruik van hul liggaam. Fisieke aktiwiteit help baie om kennis oor te dra. Jou kind se vermoë om te luister verbeter ook as sy gereeld tydens kennisoordrag beweeg en haar hele liggaam gebruik,” sê Marisa.

Die kweek van doeltreffende luistervaardighede verg tyd en geduld.

“Jou kind leer deurgaans nuwe dinge en eksperimenteer daarmee. Ouers en ander rolspelers moet ’n rede kan gee vir elke ja of nee wat hulle antwoord en ook kan verduidelik hoekom ’n kind sekere opdragte moet uitvoer,” sê Marisa.

Gee jou kind ’n verskeidenheid ervarings en nuwe blootstellings. Jong kinders verstaan iets dikwels nie omdat die konteks vir hulle onbekend is. Hoe meer ervarings jou kind het, hoe meer brei haar kontekste uit. Kinders verstaan taal eers wanneer hulle die ware voorbeeld gesien het, sê Marisa.

Dis waar sy moet uitkom

Jou kind se luistervaardighede moet van dag een af oefening kry. Teen die tyd dat sy vyf jaar oud en in graad R is, behoort sy die volgende te kan doen:

  • Dit geniet om na stories te luister en minstens vyf dinge onthou wat gebeur het;
  • Ingewikkelde tydsbegrippe verstaan soos “baie jare lank” of “ ’n hele week” of “lank, lank gelede”;
  • Teenoorgesteldes identifiseer en benoem soos kort/lank, groot/klein, vet/maer, hard/sag, lig/swaar. Sy weet die teenoorgestelde van swart is wit;
  • Trappe van vergelyking verstaan soos lank, langer, langste, en klein, kleiner, kleinste;
  • Persoonlike voornaamwoorde kan gebruik soos ek, jy, hulle en ons;
  • Kan verstaan dat begrippe soos “nul” niks beteken;
  • Geldnote en -munte uitken.
  • 12 800 tot 13 000 woorde verstaan; en
  • Die vermoë hê om ’n sin met 14 woorde te herhaal, en om ses nommers, letters of woorde in herinnering te roep. “As ’n vyfjarige dit alles kan doen, is haar ouditief-perseptuele vaardighede goed ontwikkel,” sê Marisa.

Jy moet nóú begin

Jou kind moet baie tyd aan luisteraktiwiteite bestee om later op skool suksesvol te kan leer, sê Marisa.

Al kan ’n kind goed hoor, beteken dit nie hy luister goed nie. Kinders luister meestal selektief, wat beteken hulle kies waarna hulle luister.

Ouers van jong kinders moet hulle dus doelbewus luistervaardighede help ontwikkel, want dis nie iets wat vanself gebeur nie.

As jy nie goed luister nie, bly jou ouditiewe perseptuele vaardighede (die manier waarop die brein boodskappe vanaf die oor interpreteer) ook agter.

Die volgende vaardighede is nodig vir ouditiewe persepsie:

  • Ouditiewe diskriminasie Dis die vermoë om ooreenkomste en verskille tussen geluide en klanke te hoor en te benoem.
  • Ouditiewe voorgrond en agtergrond Dit dui op die vermoë om sekere geluide bo ander uit te ken.
  • Ouditiewe sluiting Die vermoë om te luister na die opeenvolging van geluide.
  • Ouditiewe geheue Die vermoë om te onthou wat gehoor is en dit later op te roep.
  • Ouditiewe opeenvolging Die vermoë om geluide in dieselfde volgorde op te roep en weer te gee.
  • Klankkonstantheid Die vermoë om klankooreenkomste waar te neem.
  • Klankbetekenis Die vermoë om omgewingsklanke te herken en te weet wat dit voorstel.
  • Klankvoorstelling Om voorwerpe wat klank voortbring, met behulp van prente aan te toon.
6 Luisterspeletjies
  1. Raai-raai Beskryf ’n voorwerp en laat jou kind raai wat dit is.
  2. Blinddoek jou kind en maak ’n paar geluide met voorwerpe soos ’n klokkie of ’n rammelaar. Hy moet raai wat dit is.
  3. Wolf, wolf, hoe laat is dit? Die kinders moet fyn luister wanneer die wolf sê dis etenstyd, anders word hulle gevang.
  4. Telefoontjie Dit gee konsentrasie en luistervermoë oefening.
  5. Klankpatrone Maak ’n reeks klanke (klap/vingerklap/fluit/lag) en vra jou kleinding om dit in die regte volgorde te herhaal.
  6. Vriesspeletjies Sodra die musiek ophou, moet jou kind dadelik in ’n snaakse posisie vries.